Triomfkliniek is baie gelukkig om van die beste dermatologiese dienste in die land te kan aanbied, danksy die groothartigheid van wonderlike dokters soos Dr Marianne Duvenage, die nuutste toevoeging tot die rooster van spesialiste wat hul tyd skenk om mense wat andersins nie dokters kan bekostig nie, sonder koste te help. Haar reputasie as een van die beste dermatoloë in Pretoria loop haar vooruit, en die behoeftige pasiënte van Triomf trek die voordeel van haar spesialiskennis. Sy het ’n tydjie afgeknyp om ons vrae te beantwoord…

Welkom by die Triomf-familie, Dok!  Ons wil graag meer van jou weet – hoe lank is jy al ’n velspesialis, en hoekom het jy spesifiek hierdie spesialisveld gekies?
Baie dankie vir die verwelkoming! Ek het reeds in 1989 gekwalifiseer as dermatoloog by Tukkies onder prof George Findlay. Dermatologie het vir my so amper onwerklik gelyk deurdat ’n dermatoloog net na die vel van ’n pasiënt kan kyk en dan ’n uitspraak maak oor watter siekte die pasiënt het. Natuurlik het ek gou agtergekom dat dit nie só maklik is nie!

Jou praktyk is in Nieuw Muckleneuk; wat is die velkwaal wat jy die meeste te sien kry; en is dit iets wat oor die jare wat jy praktiseer verander het?
Dis moeilik om te sê watter velkwaal ek die meeste sien, maar weens die ligging in Pretoria-Oos, bestee ek ’n groot deel van elke dag om pasiënte se vel van kop tot tone deur te gaan op soek na velkanker. Dokters bou ’n reputasie op dat hulle iets spesifieks baie goed doen en dan kom soek pasiënte jou uit om presies dit te doen.

Hoe groot is die navraag na kosmetiese prosedures vandag, in vergelyking met, byvoorbeeld toe jy begin werk het? En waarvoor vra pasiënte die meeste?
Die navraag is groot.  Kosmetiese prosedures het beslis binne die bereik van Mnr en Mev Alleman beland, beide wat die koste en die uitkomste betref. Die vraag na Botox is steeds hoog, maar pasiënte is baie meer ingelig oor ander moontlikhede en allerlei prosedures.

Hoe het dit gebeur dat jy betrokke geraak het by die Triomfkliniek? Wat het jou gemotiveer om jou dienste gratis aan te bied – dit is so ’n groothartige gebaar?
Dr Marc Röscher het my genader om te kom help. Ek het gevoel dit het tyd geword dat ek iets teruggee aan die gemeenskap, veral gesien in die lig van hoe geseënd ek is.

Wat is die mees algemene kwaal wat jy sover onder Triomf se pasiënte aantref, en wat is die behandeling wat jy die meeste daar toepas?
Ek het eers verlede maand begin en was dus nog net een keer daar, en het toe meestal velkankers behandel.

Watter ontwikkelinge in die dermatologie-veld maak jou opgewonde?
Ek is n groot voorstaander van lewenstyl-gewoontes om jou gesondheid, en spesifiek jou vel, se gesondheid te verbeter. Dit is nie afhanklik van die medisynebedryf nie, maar van die pasiënt se kennis, ingesteldheid en bereidwilligheid om slegte gewoontes te staak en ’n gesonder lewenstyl te handhaaf. Die mens is per slot van rekening ’n integrale wese en nie net ’n vel, of ’n long, of ’n hart nie!

Wat reken jy is vandag die grootste behoefte onder vel-pasiënte, in die algemeen? En wat is die tendense wat ons in die toekoms sal dophou?
Meeste pasiënte is tevrede met die kleur van hulle vel, maar almal wil ’n eweredig gekleurde vel hê sonder vlekke en kolle.  En, ja, die vel moet ook mooi glad en gesond lyk. Almal wil die beste vel moontlik hê. Hiervoor word die genetiese agtergrond van elke pasiënt in ag geneem om byvoorbeeld rome op te maak wat hulle vel se spesifieke behoeftes pas. Dit is eintlik reeds ’n werklikheid, alhoewel dalk nog in sy kinderskoene! Die maatskappy wat die genetiese toetse aanbied, is gesetel in Centurion. Ons gebruik hulle tegnologie reeds by NoviSkin.  Hierdie benadering maak my werklik opgewonde.

Wat is jou top drie wenke om behoorlik na jou vel om te sien?

1.Tagtig present van die veranderinge wat jy op jou vel sien as jy oud is, word deur die son veroorsaak. As jy dus mooi wil verouder, vermy te veel son.

2.Eet gesond: dit laat jou vel ook beter lyk.  Dus: eet regte kos, nie “fake food” nie!

3.Moenie jou vel blootstel aan produkte (sepe, ensovoorts) wat kiemdoders bevat nie: dit vernietig jou mikrobioom (bakterieë en ander organismes) op die vel en verhoog jou risiko om erger infeksies op te doen.

Dr Marianne Duvenage se praktyk kan gekontak word by 012 460 4646