As die lewe vir jou ’n suurlemoen gee, is ’n wenner se benadering mos om limonade te maak, en hierdie eienskap is iets wat ons by so baie van ons beursstudente sien. Die 22-jarige Pretorianer Louis Janneke is een van hierdie vorentoe-kykers wat ondanks moeilike gesinsomstandighedes sy fokus op sy studies gehou het sodat hy pas sy B.Com Honneurs in Interne Ouditkunde by Tukkies verwerf het, en volgende jaar gaan inval by ons vennote PwC. Lees sy storie, en word geïnspireer!

Hoe het jou paadjie destyds met Atterbury s’n gekruis?
Na ‘n onsuksesvolle aansoek om ‘n studiebeurs by ‘n ander instansie het ‘n direkteur van daardie maatskappy my besonderhede aan die Atterbury-familie gegee. So het ek die wonderlike mense van Atterbury leer ken en saam ‘n pad begin stap.

Vertel ons van jou gesinsomstandighede – hoekom het jy aansoek gedoen vir ’n beurs?:
In 2009 (op my verjaarsdag) was my pa in ‘n motorongeluk waarin hy sy been verloor het. Weens die aard van sy beserings kon hy nie meer sy werkspligte ten volle nakom nie. Hy was baie depressief aangesien hy my held is en my nie meer kon ondersteun soos hy altyd het nie. Deur die donker tyd het baie terugslae gebeur en omstandighede was nie altyd die beste nie.

Ek is van kleinsaf geleer om te werk vir dit wat jy wil hê. Dus het ek aanhou swot en altyd my akademie prioriteit gemaak. Ek het geweet as ek nie goeie resultate kry nie, sal ek nie ‘n beurs kan kry om verder te swot nie omdat dit vir my familie nie finansieel moontlik was nie.

Hoe het jy op jou vakrigting besluit – was jy reeds as kind ’n syferkop?
Van kleinsaf het álles my geïnteresseer! Ek het altyd ‘n natuurlike aanvoeling vir syfers gehad en het aan die snaaksste maniere gedink om komplekse probleme op te los. Soos ek ouer geword het, het ek al hoe meer begin belangstel aan die korporatiewe wêreld. Ek het ook fout in alles gevind (en my ouers grys hare daaroor gegee). Ek kon risiko’s ‘n myl ver opspoor en finansies beter as die meeste mense verstaan. Dit het beslis my keuse om ‘n B.Com-graad te gaan studeer makliker gemaak.
Aanvanklik wou ek ‘n geoktroïeerde rekenmeester word, maar met leiding en hulp het ek besef dis nie my beskore nie. Ek het toe ingeskryf vir ‘n B.Com Finansiële Wetenskappe-graad waar ek aan Interne Ouditkunde blootgestel was. Ek het net daar geweet dit is wie ek is en die beroep wat vir my bestem is. Ná my aanvanklike graad het ek vanjaar die geleentheid gekry om my Honneurs in Interne Ouditkunde te voltooi.

Wat het jy gedink gaan jy “eendag” word toe jy klein was?
Aanvanklik was ek mal oor alles wat met wetenskap en medies te doen het. Ek het ‘n natuurlike aanvoeling daarvoor. Ek wou dus altyd ‘n wetenskaplike of ‘n dokter geword het.
Soos ek ouer geword het, het ek besef syfers is my forté en ek hou daarvan om besigheidsnuus en -gesprekke te volg…nou weet ek dat ek op die regte plek is!

Wat was jou Plan B as jy nie hierdie beurs gekry het nie?
Ek sou heel waarskynlik ‘n studielening probeer kry het of deeltyds studeer het terwyl ek werk om vir my studies te betaal.

Is daar iemand in jou lewe wat jy as ’n mentor beskou? Wie is dit en wat beteken die persoon vir jou?
Daar is soveel mense wat ‘n rol in my lewe gespeel het en my gelei het, ek kan nie juis iemand uitsonder nie. Beide my oumas het my altyd van kleinsaf geleer dat as ek iets in die lewe wil bereik moet ek hard daarvoor werk. Hulle was altyd daar as dinge moeilik was en het altyd die wêreld se wysheid gehad om met my te deel.

Wat reken jy is die belangrikste lewensles wat jou ouers jou geleer het?
Om altyd hard te werk vir dit wat jy wil hê, al verloop dinge nie altyd soos jy dit beplan nie. Jou lewenspad is klaar vir jou uitgelê – jy moet net glo en vertrou en die beste van elke situasie maak.

Wat is volgende nadat jy graad kry? Ons hoor jy gaan by PwC werk?
Ek is voorwaar geseën om die geleentheid te kry om my klerkskap by PwC te voltooi. Daar sal ek opleiding kry en praktiese ondervinding opdoen in die veld van Interne Ouditkunde. Ek sal ook tydens die klerkskap my raadseksamens voltooi en as ‘n Gesertifiseerde Interne Ouditeur (CIA) kan werk. En dit in die nuwe PwC gebou by Waterfall City wat pas deur Atterbury ontwikkel is!

Waar hoop jy om oor vyf jaar te wees – wat is jou toekomsdroom?
Ek sal hoop om bevordering in my beroepsveld te kry en leiding te neem van my eie ouditspan. Ek sal ook graag persoonlike sukses wil behaal. Ek glo almal het hulle eie indruk van wat sukses is; maar vir my beteken dit ek wil gelukkig wees met myself en waar ek my bevind.

Wat sou jy vir mense sê wat dink daaraan om skenkers te word aan die Atterbury beursfonds – hoekom is dit so belangrik?
Ons almal het op een of ander manier hulp nodig – hetsy finansieël of selfs net ‘n oor om te luister. Die Atterburyfamilie bied ons dit en nog meer. Atterbury Trust is nie net ‘n beursprogram nie, dit is ‘n hegte familie wat almal ondersteun en altyd na die belange van ‘n student omsien. Ons studente word geleenthede aangebeid om ons ware self te wees en hoogtes te bereik wat ons nie sonder die Atterbury-famile sou kon bereik nie.

Al die Trust-personeel gee regtig vir die student om en sien altyd iets raak wat die student self nie sien nie. Hulle sien ons wil om te studeer, ons dryfkrag om bo ons omstandighede te styg en ons potensiaal om die land en wêreld ‘n beter plek te maak. Met die Atterbury Trust famile kan al die studente nuwe hoogtes bereik en die beste weergawe van hulself wees.

Ons verwelkom bydraes tot die Atterbury Trust beursfonds, sodat ons meer jong uitblinkers soos Louis die geleentheid kan gee om hul volle potensiaal te bereik en ons land ‘n beter plek te maak. ‘n Belastingsertifikaat word uitgereik vir elke donasie. Kliek hier om te skenk. Ons beursstudente het ook dikwels ‘n behoefte aan verblyf, so ons verwelkom ook aanbiedinge van enigiemand wat verblyf kan verskaf naby enige van ons universiteite.