Vir die afgelope dekade al is Januarie Versnit-maand, en vanjaar is daar ’n rekordbedrag in skenkings ingesamel om Atterbury Trust se goeie werk te befonds, danksy hierdie spesiale konsert in Rust en Vrede se lowergroen tuin. Atterbury Trust uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel meer.

Toe Versnit oorspronklik gebore is, het julle gedink daar sal eendag ’n 10-jaar viering wees, of was die idee destyds vir ’n eenmalige geleentheid?
As ek reg onthou, het die Versnitgedagte in gesprekke tussen Louis van der Watt en Jean Engelbrecht tydens die Desembervakansie van 2011 ontstaan! En naby aan die einde van Januarie 2012 is  die eerste wonderskone Versnitkonsert op Rust en Vrede se lowergroen grasperk gehou – met ongeveer 300 gaste. Dit was so ’n reuse sukses dat daar dadelik besluit is om dit ’n jaarlikse instelling te maak. Dit het net soveel sin gemaak as mens kyk na die Atterbury Trust se doelstellings in ons trustakte – bevordering van opvoedingsgeleenthede, ondersteuning van Afrikaanse kuns en kultuur en dan ook bystand vir minderbevoorregte gemeenskappe.

En hier is ons, ’n dekade later. Hoe het Versnit in die afgelope 10 jaar gegroei?
Versnit het gegroei in beide statuur en betekenis. Om te Versnit beteken deesdae ook beslis “om te gee”. Ons praat graag van die “Vriende van die Atterbury Trust” en is dankbaar vir Versnitgaste met oop harte en beursies. Die gastelys groei jaar na jaar soos nuwe samewerkingsooreenkomste en besigheidsverhoudinge gesmee word. Dit het ook ’n bewustheid onder baie invloedryke mense in ons land gekweek van die goeie werk wat die Atterbury doen en die verskil wat ons, met die ondersteuning van vele individue en organisasies, in minderbevoorregte gemeenskappe maak.

Ons is bevoorreg om die musiekmeester Matthys Maree en die uiters bekwame Alexa Strachan aan die stuur van die produksiespan te hê. Hulle is gerekende name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en sit jaar na jaar ’n versnit van die heel beste kunstenaars en repertoire van musiek bymekaar. Hulle kry dit ook reg om elke jaar daardie stukkie ekstra betowering op die aand te bied – soos vanjaar wat die wêreldbekende Universiteitskoor van Stellenbosch, op die trappe van Jean se herehuis, die tweede helfte van Versnit ingelei het. Ek onthou ook daar was een jaar selfs ’n volmaan wat oor die wingerde verskyn het – mense was sprakeloos!

Is daar behalwe Atterbury en Rust en Vrede ook ander partye wat al van die heel begin deelneem?
Jean Engelbrecht van Rust en Vrede is die gasheer – hy skenk ruimhartiglik sy plaas, fantastiese wyne en versnaperinge vir al die gaste. Die kunstenaars word ook met egte plaasgasvryheid op die hande gedra. Dan natuurlik Matthys en Alexa wat van die begin af die produksie behartig en ook die orkes – Floors Oosthuizen, David Klassen, Brendan Ross, Denny Laloulette. Die bekwame Cotton Events-span, Clarissa en Elri, sorg van die begin af, jaar na jaar, so van agter die skerms dat al die gaste ekstra mooi en gemaklik sit.

Johan Badenhorst van Voetspore, die man met die mooi stem, is ons compère vir die aand – vanaf die heel eerste Versnit af!

Lexus en Toyota is die laaste vier jaar ook betrokke as mede-borg en ons is dankbaar vir die ruim finansiële bydrae van hulle kant af.

Kan jy in finansiële terme (of dalk in studiejare of grade of selfs studente) deel wat Versnit tot dusver vir die Trust beteken het?
Vanjaar se Versnit was beslis ’n rekordjaar – meer as die helfte van die gaste het ’n bydrae gemaak en ons het reeds meer as R3 miljoen ingesamel! As mens op ’n gemiddeld van ongeveer R50 000 vir klasgeld en boeke per student werk, is dit die studiegelde van 20 studente vir ’n drie-jaar kursus.

Daar is oor die afgelope tien jaar al heelwat meer as R10 miljoen ingesamel. Baie van die Versnitgaste is ook op ander terreine by die Trust betrokke – ’n hele paar van die boere is byvoorbeeld groot verskaffers van gratis groente en vrugte vir die Atterbury Trust se Terugploeginisiatief. Van die ander gaste staan ons met raad en daad by vir die fasilitering van skenkings vir die Triomf Kliniek in die weste van Pretoria.

Hoekom dink jy werk dit so goed?
Rust en Vrede is seer sekerlik een van die mooiste wynplase in die hele wêreld en Jean en sy Rust en Vrede-span bewerk en versorg die plaas meesterlik. Dis altyd vir my ’n voorreg om deur Rust en Vrede se statige hekke te ry. Dis moeilik om die gevoel te beskryf as mens deur die meer as twee meter-hoë laning van krismisrose stap en dan die Versnitprentjie voor jou sien omvou – die massiewe eikebome met die Stellenbosse berge in die agtergrond en die verhoog daar onder agter die swembad. En jy weet, vanaand is een van daardie aande in ’n mens se lewe wat jou diep raak en lank bybly.

Ou vriende en besigsheidsassosiate sien mekaar – almal bruingebrand en uitgerus na ’n lekker Desembervakansie. Dis die gees van optimisme en hoop wat ’n nuwe jaar opnuut bied en dan weet  almal die aand se donasies gaan vir ’n goeie doel.

As jy terugdink oor die dekade, is daar een of twee kunstenaars of optredes, of insidente by Versnit wat jy onthou as spesifieke hoogtepunte?
Dis ’n baie moeilike vraag! So baie magiese momente kom by my op, maar ek bly by die mees onlangse: my gunstelinglied is Karen Zoid se “As musiek begin speel” – dit is vir my ’n motto vir my lewe en ook dít wat ek my lewenstaak deur die Atterbury Trust gemaak het – “…en as jy ooit voel die lewe is een groot gesuffer/ reik jou hande uit en help ’n ander/ met minder as jy/  gaan maak iemand bly/ want dan sal jy altyd kan saamsing.” Ek was diep in my hart aangeraak toe ons vanjaar daar onder die sterre sit, en Karen se suiwer stem hoor. 

Hoe sien jy Versnit ontwikkel in die volgende 10 jaar?
Ek hoop en vertrou dat ons Versnit net groter sal maak. Atterbury Trust beplan om ons aktiwiteite in die Wes-Kaap noemenswaardig uit te brei en saam met die groot aantal Wes-Kaapse gaste is my doelwit om meer mense te mobiliseer om ons land ’n beter plek te maak vir al sy mense. ‘n Groot dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat gee – groot en klein! Ons waardeer elke bydrae opreg.