Versnit – gasvryheid en groothartigheid op die maat van musiek

“… reik jou hande uit en help ’n ander
Met minder as jy
Gaan maak iemand bly
Want dan sal jy
Altyd kan saam sing
As die musiek begin speel
En dans in die somer se reën
En soek vir die reënboog
Langs die pad, my skat”

Die treffende woorde van Karen Zoid se liedjie “As Musiek Begin Speel”, het verlede naweek gaste op Jean Engelbrecht se pragplaas Rust en Vrede verwelkom by die agtste jaarlikse Versnit fondsinsamelingskonsert in die wynlande van Stellenbosch. Die lirieke het verskyn op die program vir die eksklusiewe Versnit 2019, waar Karen Zoid dan ook saam met ’n keur van Afrikaanse musiektalent teen die hange van die Helderberg opgetree het.

Gaste het in die laatmiddagson op die lowergroen grastapyt in die geselskap van vriende, met ’n glasie heerlike Rust en Vredewyn in die hand, bymekaargekom ten bate van die Atterbury Trust se beursprogram, wat al meer as 650 jong behoeftige uitblinkerstudente gehelp het om hul studiedrome waar te maak.

Daar was baie hoogtepunte van die aand, maar een wat ongetwyfeld onthou sal word is die Versnit-debuut van Nataniël, wat die gaste op sy eie unieke manier vermaak het en die gehoor gaande gehad het. Nataniël-liefhebbers sal weet dat hierdie flambojante kunstenaar, wat ook die gesig is van die Optog! landwye konsertreeks wat binnekort afskop, nie eintlik ooit in Afrikaans sing nie. Stories vertel, ja, maar die songs in sy konserte is byna altyd in Engels. Dit was dus ’n besondere bederf om hom in onse moedertaal se hoor sing: ’n spesiale uitsondering net vir Versnit. En in klassieke Nataniël-styl het hy een manjifieke kostuum na die ander onthul deur tussen nommers lae af te stroop…

Benewens Nataniël en Karen Zoid, wat haar unieke “mashup” van Metallica se “Enter Sandman” asook Annelie van Rooyen se treffer “Neem My op Vlerke” gesing het, het die sangers Theuns Jordaan, Charl du Plessis, Corlea, Ricus Nel en Loki Rothman die gaste onder die sterre op ’n nostalgiese reis deur ons pragtige land geneem met bekende treffers en ou gunstelinge. Die produksie is soos in vorige jare deur Alexa Strachan en haar span hanteer terwyl begeleiding weer deur die voorslagorkes van Matthys Maree, Mauritz Lotz, David Klassen, Denny Lalouette en ander, gedoen is.

Die naam Versnit is gekies as simbool van die samewerking tussen twee ikoniese handelsmerke, Atterbury en Rust en Vrede, wat hierdie jaarlikse konsert al sedert 2012 aanbied. In wyntaal word ’n versnit verkry deur verskillende kultivars op ’n kreatiewe dog weldeurdagte manier te kombineer. Dié band gesmee tussen Louis van der Watt en Jean Engelbrecht, om ’n positiewe verskil in Suid-Afrika te maak, kwalifiseer beslis as ’n versnit waarin mens wil belê!

Talle bekendes soos Minki van der Westhuizen, Ryk Neethling, Victor Matfield, Jean de Villiers en Deon Meyer het saam met sakeleiers soos Paul Harris, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Whitey Basson, Jannie Mouton en Johan van Zyl asook gashere Louis en Jean geselsies op die gras aangeknoop op die soel someraand aan die einde van ’n lang Desembervakansie.

Beide gashere het ’n beroep op gaste gedoen om bydraes tot die Atterbury Trust te maak, sodat meer behoeftige kinders die geleentheid kan hê om verder te studeer en ’n bydrae van hul eie tot die land se toekoms te kan maak. Hulle het ook hul medeborg, Lexus, bedank vir volgehoue ondersteuning van Versnit wat elke jaar hierdie spoggeleentheid moontlik maak.

In die eerste week na afloop van vanjaar se Versnit is reeds meer as R1 miljoen se donasies deur ongeveer 30 van die groothartige gaste gemaak. Atterbury Trust benodig sowat R7,5 miljoen om die 210 studente wat in 2019 staatmaak op die beursfonds te ondersteun. Alle donasies is welkom, en skenkers ontvang ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat.

Klik hier om by te dra, want ons weet jy gee ook om.