Velkanker is nie net potensieel dodelik nie, maar lyers  wat oorleef hou dikwels erg onaansienlike letsels oor. Die pasiënte wat by Triomf Kliniek aanklop met velkommernisse, doen dit helaas dikwels baie laat, bloot omdat hulle te behoeftig is om sommer dokter toe te gaan. Die vrywilliger-dermatoloë by Triomf Kliniek word daarom dikwels met baie gevorderde velkankers gekonfronteer. Dr Tshepo Mokwena is een van die span spesialiste wat sy kundigheid van die gevorderde Mohs-tegniek gratis skenk om aan hierdie pasiënte wêreldklas behandeling te verskaf by die Skinmatters Mohs Micrographic and Reconstructive Surgery Unit in die Club Surgical Centre. Hy deel ’n paar oorlogstories.

Het jy altyd belanggestel in dermatologie en velkankers, of was daar ’n ander spesialisveld in jou visier? Waar kom dié belangstelling vandaan?
My liefde vir dermatologie het begin toe ek ’n gemeenskaps- mediese offisier was. Op universiteit sluit die kurrikulum net so oor die twee maande van dermatologie oor die hele ses jaar van studie in, maar in die kliniese konsultasie-omgewing maak dit omtrent 45% van daaglikse konsultasies uit. Dis ’n moeilike veld vir alle dokters, en my stryd daarmee het gemaak dat ek my vrese wou oorkom. Velkankers neem jaarliks met 4% toe; as dermatoloë krap ons skaars aan die oppervlak. Enige vorm van oplossing vir hierdie pandemie gee mens ’n geleentheid om betekenisvol by te dra tot ons veranderlike wêreld.

Is velkanker weens sonskade die mees algemene probleem wat jy sien, of watter ander erge velkwale kom tipies onder jou pasiënte voor?
Die vel is die grootste orgaan in die lyf en geweldig kompleks. Kumulatiewe sonblootstelling veroorsaak meestal basale selkarsinoom en plaveisel-selkarsinoom, terwyl ernstige sonbrand-episodes ander kankers soos melanoom saam met genetiese abnormaliteite kan veroorsaak. Die ander algemeenste kwale waarmee ons by die kliniek te doen kry is  inflammatoriese velkwale soos ekseem, psoriase, en veroudering, en genetiese kondisies.

Ons verneem jy is besig met ’n Mohs “fellowship” – beteken dit dat jy vanjaar voltyds met velkanker besig is?
As ’n gekwalifiseerde dermatoloog en ’n Mohs “fellow” is ek inderdaad besig met ’n jaar se opleiding by die enigste kliniek in Afrika wat geakkrediteer is deur die American Society for Mohs Surgery; ek werk onder Dr Pieter du Plessis by Skinmatters Mohs Micrographic and Reconstructive Surgery Unit. Sodra ek aan al die vereistes voldoen, sal ek as ’n Mohs-sjirurg kwalifiseer. Dis ’n wonderlike geleentheid om my hier in Pretoria by die Skinmatters Mohs Micrographic and Reconstructive Surgery Unit te kan bekwaam in dié vaardigheid, wat andersins net buite Afrika beskikbaar is. Ek sien wel steeds op bepaalde dae by die Club Surgical Centre pasiënte vir algemene dermatologie.

Hoe het jy betrokke geraak by Dr Du Plessis en die Mohs-tegniek?
Dr du Plessis is ’n mentor en leier vir baie jong velspesialiste soos ek. Ek het dadelik belanggestel in Mohs-sjirurgie ,omdat dit so ’n uitstekende terapeutiese strategie is vir velkankers – dis wetenskaplik bewys en bied ’n goeie prognose asook uitstekende strategieë vir die bestuur van velkankers. Byna alle pasiënte – 99% – word totaal genees, met minimale komplikasies. Dis voorwaar die agtste wonder van die wêreld.

Jou werk met die Triomf-pasiënte is regtig wonderlik. Watter Triomf-geval was tot dusver jou grootste uitdaging, en hoekom?
Alle gevalle wat verwys word is spesiaal en uitdagend. Pasiënte kom van regoor ons land, met kondisies wat vir verskillende redes te lank onbehandel gelaat is, en dan gekompliseerd is. As ‘n span doen ons ons bes om sewe-ster diens te gee vir diegene wat dit nie kan bekostig nie.

Hoeveel Triomfpasiënte het jy al behandel, en was jy tevrede met die uitkoms van elkeen?
Ons streef na uitsonderlike diens as ’n span, en in die afgelope jaar het ons dit reggekry om tot twee pasiënte per week te behandel – volledige verwydering van die kanker met rekonstruksie. Met die beste span onder Dr Du Plessis se leiding hoop ons om ons doelwit te bereik en selfs groter hoogtes te bereik.

Jy kry sekerlik baie positiewe terugvoering van pasiënte wie se lewens jy verander. Was daar een besondere pasiënt wie se terugvoering jou besonder geraak het?
Dit maak altyd die hart warm as ons ’n boodskap van dankbaarheid ontvang. Dis ’n voorreg om te kan werk saam met hierdie begaafde, onbaatsugtige span van mense met hul eie imperfeksies wat heeltyd streef na perfeksie; en die eer kom die hele span toe op  wie se skouers ek staan, van die verpleegsters en laboratoriumtegnici, tot die skoonmakers en sekuriteitswagte. Albert Pike het gesê, Wat ons vir onsself alleen gedoen het, vergaan saam met ons; wat ons vir ander gedoen het, bly voortbestaan. Moeder Teresa het gesê, Die beste gawe is om iemand te help wat jou nooit kan terugbetaal nie.

Een pasiënt het my dit geleer toe hy dié gesê het: Die enigste mense wat ek vertrou is my Mohs-sjirurg en my kleremaker. Hulle neem my mates elke keer as hulle my sien. Almal anders neem net aan my ou mates geld nog, en verwag van my om in te val by wat hulle klaar besluit het.

Hoe lyk jou planne nadat jy die die Mohs-opleiding voltooi het? Het jy bepaalde vooruitsigte?
Ek sal waarskynlik aanbly en in die eenheid werk, en beplan om verder te groei en ’n uitreikprogram te begin in ons agtergeblewe gemeenskappe. Ek sal ook verder navorsingswerk doen.

En laastens, vertel ons wie Dr Mokwena by die huis is…
Ek kom uit ’n wonderlike plek, Klerksdorp, in Noordwes… het jy geweet die oudste straat in die ou Transvaal is in Klerksdorp? Ek het by Tukkies gekwalifiseer en agterna vir ’n paar jaar daar gewerk as spesialiskonsultant en navorser. Ek is getroud en die pa van drie hiperaktiewe, wonderlike seuns tussen vier en 12 wat glo hulle is superhelde! Ons woon in Centurion en ek is ‘n fanatiese Kaizer Chiefs en Blou Bulondersteuner.

Vir navrae oor die Skinmatters Mohs Micrographic and Reconstructive Surgery Unit, kontak [email protected], 012 001 9876.