Sport en akademie: Atterbury Trust beurshouer Dalen Mmako is ’n kêrel wat weet hoe om balle in die lug te hou; en ons praat nie net idiomaties nie! Ons het by hierdie veelsydige regstudent, krieketspeler, hokkieafrigter en -skeidsrigter gehoor wat sy geheim is…

Ons weet jy het by Menlopark gematrikuleer… vertel ons bietjie meer van jou familie-agtergrond? Is jou hele familie so sportief soos jy?
Ek kom oorspronklik van Mpumalanga af, maar het tot ek so ses of sewe jaar oud was, by my ouma in Kwa-Ndebele gewoon. Daarna is ek na my ma toe in Kwa-Mhlanga waar ons steeds woon, saam met my suster en haar baba. Wat sport betref, my ma het vir my ’n storie vertel van hoe sy op ’n keer moes gaan langafstand hardloop het iewers, maar omdat sy nie ’n geboortesertifikaat gehad het nie, kon sy nie deelneem nie… dis die enigste ander sportstorie uit ons gesin!

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust en die beursprogram uitgekom?
Om eerlik te wees; ek weet nie… tannie Zahn het my gevind op die blou astro van Menlo!

Hoekom het jy besluit om spesifiek regte te swot as jy sekerlik ook ’n professionele sportman kan word? Hoekom het regte gewen?
Die grootste rede hoekom ek regte swot is omdat ek glo ek kan mense help. Ek wou nog altyd ’n lewe maak uit krieket, en het vir myself gesê ek sal ’n advokaat wees na afloop van my krieketloopbaan. Ek is nou gelukkig genoeg om tot ’n mate met albei rigtings gelyk te kan besig wees…

Watter aspek van jou kursus geniet jy die meeste?
In my eerste jaar het ek jurisprudensie verskriklik baie geniet. Dit het meestal gehandel oor die kwessies van vandag soos die Fees must Fall-beweging en die Marikana-saga, en hoe die wet min beskerming bied vir mense wat dit nie kan bekostig om vir regshulp te betaal nie. Ek het ook geskiedenis as ’n module en mens leer so baie oor waar vandag se probleme vandaan kom, en hoe alles eintlik maar net in ’n sirkel gebeur: “History always repeats itself”.

Behalwe tweedejaar regte is jy ook ’n Puma krieketspeler. Hoe hou jy al die balle in die lug tussen akademie en ernstige sport?
Ek het gelukkig (of ongelukkig?) nie pen op papier gesit met die kontrak wat die Pumas my aangebied het nie. My swottings sal nommer een bly, en om die kontrak aan te gaan sou nie net komplikasies met my studies veroorsaak nie, maar ook met dit waarvoor ek al vir so lank werk in hierdie provinsie en by Tuks. Ek is op ’n plek by Tuks waar ek my krieket met sy uitdagings regtig baie geniet, en daar is soveel ondersteuning op alle gebiede. Ek weet wat wat ek het hier sal mens nie maklik êrens anders kry nie. So my lojaliteit lê by Tuks en Northerns tot hulle nie meer nut het vir my nie, ha ha! In my eerste jaar het ek gesukkel met die studies en krieket en afrigting. Te veel gekrieket en gekrieket terwyl ek moes leer en dan rig ek nog af ook. So ek moes die hartseer besluit neem om minder sosiaal te wees as ’n student en net te konsentreer op dit wat “saakmaak”. Dit was moeilik, maar mens het net 24 ure, en ek moes besluit hoe om dit die heel beste gebruik vir die beste uitkoms…

As jy moet kies tussen ’n toets en ’n wedstryd, wat wen?
Snaaks jy vra my, want verlede jaar was ek eenkeer presies daar: ek ’n toets gehad, maar ons het ook ’n drie-dag wedstryd teen Gauteng gespeel. Ons het gekolf op dag twee en terwyl ek gekolf het, moes ek gaan toets skryf. Om ’n lang storie kort te maak, ek het uitgegaan, laatgekom vir die toets, die toets gepluk. Nooit weer nie.

Jy verdien ook ekstra sakgeld as hokkieskeidsregter. Wat reken jy maak van iemand ’n goeie skeidsregter?
My Tukkies sportbeurs laat my net toe om krieket te speel, so omdat ek nie ook hokkie mag speel nie, het ek begin wedstryde blaas net vir die lekker! Maar ek kan nog nie sê wat van ’n mens ’n goeie skeidregter maak nie, ek probeer maar om elke wedstryd beter te blaas as die vorige een, en soveel as moontlik te leer van die skeidsregters saam met wie ek blaas. Ek aanvaar ook dat mens soms gaan foute maak, al probeer jy jou bes, so mens moet maar reg wees om dan die konfrontasies te probeer hanteer as almal op jou gil. So ek is eintlik al klaar voor die hof! Ek vra ook baie vrae oor hoe om beter te blaas in verskillende situasies, sodat ek heeltyd kan probeer verbeter. Ek glo as mens gewillig is om te luister na kritiek, doen jy op die lang duur beter… mens moet maar die maklik saam met die moeilik vat.

Dink jy dat jou sportkant jou ’n sekere dissipline gee wat help in die res van jou lewe?
Beslis. Daar is baie goed wat ek nie doen nie, omdat ek so sterk fokus op my krieket, studies, afrigting en skeidsregterwerk.  Ek bestuur my tyd soveel beter deesdae. Ek is versigtig wat ek eet, met wie ek rondhang, wat ek lees, en so aan.

Hoekom is die Atterbury Trustbeurs vir jou betekenisvol?
Die ondersteuning van Atterbury oor die afgelope jare is amazing. Ek dink in die donkerste oomblikke is ’n Leonie Gro-sessie altyd die moeite werd. Leonie is regtig ’n besonderse aspek van my lewe. Sy het eendag iets vir my gese wat ek altyd met my saamdra; as ek voel ek wil opgee, dan dink ek aan haar woorde. Almal by Atterbury is net ongelooflike mense.

Op watter van jou prestasies is jy die trotsste?
Om vanjaar my eersteklas en A-lys debuut vir Northerns te maak was ’n oomblik waarop ek vir altyd sal trots wees. Dit het my laat besef dat elke bietjie stres, swarigheid en besering die moeite werd was oor die jare. Ek tree ook vanjaar by twee groot toernooie as skeidsregter op en dit was ‘n doel vir vier jaar van nou af, so om dit reeds op 21 reg te kry, is nogal iets! John en Peter Wright help my ongelooflik baie met hoe om beter te blaas dag na dag. Albei het reeds in meer as 100 toetse geblaas.

Waar sien jy jouself oor vyf jaar? Wat is jou droom vir jou toekoms, as iemand wat sulke uiteenlopende belangstellings het?
Op die oomblik is ek baie gefokus om goeie resultate met my BA Regte en LLB te kry. Maar ek het beslis nog ook die droom om ’n professionele krieketspeler te wees en ek sien myself daagliks in die blou van die Titans. As ek my sin kry, sal ek dus krieketspeel, as stokperdjie vir die Internasionale Hokkiefederasie skeidsregter wees, en ook die tonne papierwerk lees om as advokaat ’n positiewe impak te maak op hierdie mooi Grondwet van ons.

Help ons om skrander, hardwerkende studente soos Dalen se studiedrome waar te maak. Donasies kan maklik gemaak word deur hier te kliek, en skenkers kry ’n Seksie A18 belastingsertifikaat.