Atterbury Trust se ondersteuning van Afrikaanse kultuur en opvoeding is welbekend; en nou steek ons ook ’n sportveertjie in die Trust se hoed met die ondersteuning van die nuwe Noord-Suid T20 skole-kriekettoernooi in September. Ons hoor meer by Atterbury se Zahn Hulme en Cobus Pienaar, die direkteur van krieket by Hoërskool Waterkloof.

Hoe is die idee vir die toernooi gebore?
Cobus: Die idee het ontstaan by Menlopark, Waterkloof en Centurion hoërskole – ons spanne is nie betrokke by die geskiedkundige Michaelmasweek-kriekettoernooi wat by Maritzburg College gebeur nie, en daar is ’n tekort aan voorseisoen krieketgeleenthede in die Septembervakansie. KSA het die Coca Cola T20 toernooi wat een span per “franchise” die geleentheid gee om aan die nasionale kompetisie deel te neem. Ons het besluit om ’n Noord-Suid toernooi te loods waar die top skole regoor die land teen mekaar meeding in die gewildste krieketformaat.  Dit is vir ons ’n voorreg om van die top skole met ’n trotse krieketgeskiedenis te kan nooi na die toernooi.

Hoe het Atterbury betrokke geraak?
Zahn: Die skole-element van die toernooi was deurslaggewend – ons ondersteun graag aktiverings wat op skoolvlak vir die volgende generasie in ons gemeenskap die geleenthede bied om te skitter. Enigiemand wat Atterbury ken, sal bekend wees met ons ingesteldheid dat ons as ’n gemeenskap proaktief na ons eie welstand moet omsien eerder as om op die owerhede te wag om dinge te laat gebeur. Hierdie toernooi pas so reg in ons kraal, want dis opbouend en toekomsgefokus, en dit gaan vir al die deelnemers ’n wonderlike netwerk, en herinneringe skep. En daar gaan lekker krieket gespeel word!

Gee vir ons ’n oorsig van wat die toernooi behels.
Cobus: Die toernooi vind vir die eerste keer van 21 tot 24 September 2018 in en om Pretoria plaas en sal ’n jaarlikse instelling word.  Sestien topskole neem deel, en ons glo die toernooi gaan ’n platform wees vir die beste skolekrieket in Suid Afrika. Die skole is uitgenooi volgens geografiese ligging en sal in vier veskillende groepe verdeel word.  Twee spanne sal Noord en twee Suid in elk van vier groepe verteenwoordig in die aanvanklike indeling.

Hoe lyk die spanne?
Cobus: Die Noord-afdeling bestaan uit die eerste krieketspanne van Hoërskole Menlopark, Waterkloof en Centurion van Pretoria, Grey College van Bloemfontein, Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley, Volkskool in Potchefstroom, en Hoërskole Nelspruit en Rustenburg.

Teen hulle kom die agt Suid-skole te staan: die Kaapse skole Bishops Diocesan College, SACS en Wynberg Boys’ High; Paarl Gimnasium, St Andrew’s College van Grahamstad, Westville Boys’ High, Northwood School en Glenwood High School van KwaZulu Natal.

Hoe gaan die toernooi uitspeel?
Cobus:  Ons loods die toernooi op 6 Augustus met ’n funksie by ons borg We Buy Cars in Midstream, en die kapteine uit die suide en uit die platteland word daarvoor ingevlieg. By dié geleentheid sal die verskillende groepe getrek en bevestig word. Elke span sal ses T20 wedstryde speel – drie groepwedstryde en daarna sal die top twee spanne per groep in die uitspeelrondte deelneem aan ’n kwarteindstryd, halfeindstryd en eindstryd. Die onderste twee spanne in elke groep sal uitspeel vir die Plaat-wenner.  Sodoende sal ons ’n algehele wenner kry en ’n finale plasing van elke span. Die eindstryd word Maandag 24 September om 10h00 gespeel.

Wat sal die wenners huistoe neem – is daar pryse?
Cobus:  Daar is prysgeld vir die algehele wenners, tweede plek, derde plek en ook die Plaat-afdeling se wenners. Die prysgeld beloop R100 000 waarvan die algehele wenners R50 000 sal kry.

Wat is die langtermyn hoop vir die toernooi?
Cobus: Ons langtermyndoelwit met die toernooi is om ’n platform te skep waar die top krieketspelers landswyd teen mekaar kan meeding in ’n gesogte formaat van krieket.  Dit terwyl hulle ook van die veld af vriendskappe bou wat ewigheidswaarde het.

Hoe werk dit as mens wil kom kyk?

Geen kaartjies word verkoop nie, dit sal heeltemal gratis wees om te kom kyk en ons hoop soveel mense moontlik sal kom ondersteun! Vir diegene wat nie by die velde kan uitkom nie, sal twee wedstryde daagliks deur Pitchvision lewendig gestroom word op die internet.

Die finale groepe en elke dag se wedstryd-details en waar dit plaasvind sal nader aan die tyd beskikbaar wees. Hou dié spasie dop!