Skenking deur Dr Marc Roscher help met die behandeling van littekens en brandwonde

Van links na regs: Jana Wilbers (Atterbury Trust), sr Lynnette de Jager (Operation Healing Hands), Dr Tommie Swart, Jackie Britton (Operation Healing Hands), Dr Gerhard Herbst, Hannon Bothma, Dr Willi Sieling, Dr Marc Roscher, Ananja Koen (Atterbury Trust), Dr Gerhard Botha, sr Wilna van den Heever, Deane’ Sealie (Atterbury Trust)

Internasionale Doktersdag is hierdie jaar op 30 Maart gevier. Dié dag word wêreldwyd gebruik om dokters te bedank vir hul mediese dienste aan pasiënte en om klem te plaas op die belangrike rol van professionele medici in die gemeenskap.

Hierdie jaar se Doktersdag  was spesiaal vir Triomfkliniek, Atterbury Trust se gemeenskapsfasiliteit wat sedert 2014 uitmuntende gratis mediese sorg met waardigheid aan die behoeftige mense van Pretoria-Wes verskaf, aangesien ’n skenking van gespesialiseerde laser-toerusting nuwe hoop aan mense met littekens of brandwonde bied.

Die wêreldbekende plastiese chirurg Dr Marc Roscher het hierdie toerusting van R1.5m geskenk. Op Internasionale Doktersdag is dit formeel tydens ’n funksie by die kliniek in Vom Hagen Straat, Pretoria-Wes oorhandig.

Verskeie dokters en ander belanghebbendes van Triomfkliniek het die dag saam met media, borge en vriende van Atterbury Trust bygewoon.

“Baie onlangse gevalle van brandwonde en littekens van pasiënte het my aandag gefokus op die gebrek aan ’n spesialis-kliniek vir die behandeling van hierdie tipe toestande in die Pretoria-Wes gebied,” vertel Dr Roscher.

Littekens kan verskeie vorme aanneem, onder andere oor-pigmentasie of gebrek aan pigmentasie, verdikking, keloïed-vorming en sogenaamde atrofiese littekens. “In die mediese en estetiese wêreld het die behandeling van littekens ’n nuwe horison geword,” sê Dr  Roscher. “Spesialis dokters (gewoonlik dermatoloë) kan met laser- en lig-behandeling, gespesialiseerde inspuitings en afrondings prosedures meeste gemiddelde brandwonde verwyder, of ten minste dramaties verbeter.”

Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust is opgewonde oor die uitbreidingsmoontlikhede wat die laser toerusting vir pasiënte by Triomfkliniek inhou. “Ons is só dankbaar dat Dr Marc Roscher, een van die pioniers agter die stigting van die kliniek amper agt jaar gelede, steeds so betrokke is en hierdie noemenswaardige skenking aan die kliniek gemaak het.

“Dit beteken ons kan nou hoogs-gespesialiseerde vel-behandeling aan ons gemeenskap aanbied, alles in ’n gemaklike omgewing en ’n atmosfeer van waardigheid. Ons span vrywilliger-dokters het reeds bykans 4 500 behoeftige pasiënte by Triomf gehelp en ons is hoopvol dat soveel meer mense heling deur hierdie bykomende dienste sal ontvang. ”

Die Triomfkliniek-span gaan eersdaags die nuwe litteken-kliniek onder leiding van ’n kundige groep dermatoloë bekendstel. Dié diens sal aan alle pasiënte met littekens beskikbaar gestel word. Die moontlikheid om betalende pasiënte by Triomfkliniek se littekenkliniek te akkommodeer word ook ondersoek. Hierdie inkomste sal aangewend word om ander dienste aan behoeftige pasiënte verder te subsidieer.

INLIGTING

Triomfkliniek, Vom Hagen Straat 464, Pretoria-Wes, https://triomf.org.za/

Zahn Hulme, Atterbury Trust, [email protected]

Dr Marc Roscher, [email protected]