Suster Adelene Boshoff is gewoond om stories van dankbaarheid te hoor van die mense van Danville. Die gemeenskap het in die afgelope jaar geleer om te steun op die Triomfkliniek, waar hulle mediese hulp kry sonder om dae om te staan in lang toue.

Wat is Triomfkliniek se besigste dae?
Die spesiale klinieke is beslis die besigste; ons het ‘n week of wat gelede ‘n dermatologiekliniek gehad waar Dr Jeanette Joynt 22 mense gehelp het! Dit het duidelik geraak dat die dermatologiebehoefte die grootste is… omdat ons 1 September die velkanker-kliniek gehad het, het meer pasiënte verneem van die diens wat ons aanbied, en dit het beslis bygedra tot die navraag. Daar is reeds ‘n rekord aantal van 36 pasiënte bespreek vir 20 November, wanneer Dr Marc Roscher die laaste dermatologiekliniek van die jaar sal kom behartig!

Is daar ‘n tipiese kwaal waarmee mense kom hulp soek by so ‘n kliniek?
Dis maar moesies, letsels en veluitslae. En daar was een pasiënt met ‘n baie groot donker letsel op die skeen, en die uitslag van die biopsie wat Dr Joynt geneem het, het ongelukkig gewys dis ‘n melanoom. Wat so erg is, is dat die pasiënt al voorheen by staatshospitale en ‘n kliniek gaan aanklop het om hulp, maar weggewys is! In hierdie geval is dit ‘n baie aggressiewe kanker en sy sal nou baie dringend by ‘n onkologie-afdeling aandag moet kry, en daarvoor is Dr Joynt se ingryp so belangrik.

Is daar nog spesiale klinieke in die pyplyn voor die einde van die jaar?
Ja, die ginekoloog Dr Liz Erasmus bied op 19 November ‘n ginekologiekliniek aan en daar is reeds 10 afsprake gemaak. Ons tandarts, Dr Seymour Jonker, sien pasiënte by sy spreekkamer, en hy het vanjaar nog een toegewyde dag vir Triomfpasiënte beskikbaar gemaak op 3 Desember. Hy het ook ‘n mobiele kliniek waarmee hy dienste na pasiënte toe neem, en hy was vanjaar reeds by Booysens Laerskool en Booysens Beertjie Kleuterskool hiermee.

Het julle nuwe dokters bygekry sedert ons laas gesels het? Hoe werf julle nuwe vrywilligers?
Ons werf nie aktief nie; maar die dokters wat wel betrokke is, en die hulporganisasies, versprei die woord onder hulle kollegas en netwerke, en so hoor mense van Triomf. Ons nuutste vrywilliger is Dr Hanlie Groenewald, ‘n algemene praktisyn wat nou pas begin het – sy was lank in Afghanistan waar sy as deel van ‘n sendingprojek as dokter gewerk het. Sy het haar dienste by Helpende Hand gaan aanbied en so van ons te hore gekom. Sy is nou elke tweede week hier.

Wat is op die oomblik die grootste behoefte by die kliniek?
Om gratis voorskrifmedikasie vir pasiënte te bekom. Ons het wel toegang tot gratis oor-die-toonbank medikasie, maar vir enigiets sterker kan ons dokters net help met die voorskrif, en dan moet die pasiënt steeds die onkoste dra. Dis maar meestal antibiotika, and koorswerende medikasie vir kinders wat in aanvraag is. Ek gaan juis nou inskryf vir ‘n Medunsa kursus wat my sal kwalifiseer om voorskrifmedikasie te mag uitgee as die dokters dit voorskryf.

Hoeveel pasiente in totaal is sedert die kliniek oopgemaak het, gesien?
Ek het vanoggend getel en dit was 333! Dit tel stadig maar seker op, die klinieke en die gemeenskapsentrums versprei die woord. Ek is nou presies ‘n jaar hier, en dit is vandag baie besiger as wat dit ‘n jaar gelede was…

Sien jy bewyse dat die kliniek ‘n regte verskil maak in mense se lewens?
Baie beslis ja! Hier is een pasiënt wat al vir ‘n jaar lank gereeld kom om vir Dr Roscher te sien. Hy was voorheen by hospitale en klinieke met erge letsels op sy kop, sy arms en elders op sy lyf – jare se sonblootstelling voor sy aftrede het die skade veroorsaak. Binne ‘n jaar van gereelde behandeling lyk hy soos ‘n ander mens, die letsels is dramaties minder, en hy is so dankbaar.

Wat sê die pasiënte – waar hoor hulle van Triomf Kliniek?
Weet jy, ek hoor al hoe meer dat hulle by dié of daardie Facebookgroepie gehoor het van die dienste by die kliniek. Dit lyk asof sosiale media ‘n groot invloed het!

Hoe gaan dit met die donasies – kom daar skenkings in?
Ons kry hier en daar ‘n donasie, ja, dit het ons verlede jaar gehelp om ‘n baie duur EKG-masjien te bekom. Maar dis meestal individue, en skenkings van ‘n paar honderd rand elk.

As julle nou ‘n groot donasie sou inkry, waarop sou julle dit uitgee?
Ons wil nog steeds baie graag ‘n tandartsstoel koop sodat ons ‘n tandarts hier by die kliniek kan akkommodeer, eerder as dat die pasiënte na die spreekkamers toe moet gaan. Ons sal baie graag ‘n teiken wil stel en dan werk om dit te bereik…

Donasies vir die Triomf-tandartsstoelfonds is baie welkom! Kliek hier om ‘n donasie te maak: https://atterburytrust.org/triomf-kliniek/