Dit is al bykans vier jaar sedert die Triomfkliniek sy deure oopgemaak het om die behoeftige inwoners van Danville by te staan met mediese sorg wat hul menswaardigheid eerbiedig. Wat duidelik geraak het in ons betrokkenheid by die mense in die weste van Pretoria, is watter groot behoefte daar onder die gemeenskap is vir beradingsdienste; en Triomf se span weldoeners, insluitende vrywilliger-dokter Hannelie Groenewald en Atterbury Trust se mediavennoot GROOTfm 90.5, het besluit om ’n veldtog te loods om beraders op te spoor wat graag wil help. Ons hoor meer oor die planne by Dr Hannelie en Lindie Strydom van GROOTfm 90.5.

Dr Hannelie, vertel ons meer van jou betrokkenheid by die Triomfkliniek
Nadat ek na Suid-Afrika toe teruggekom het na die aanval in Afganistan waarin ek my gesin verloor het, wou ek graag terugkeer na die mediese wêreld hier en wou veral by liefdadigheidswerk betrokke raak. ’n Vriendin het my voorgestel aan Dr Marc Roscher wat die Triomfkliniek gestig het. Ek is al vir ongeveer twee jaar betrokke by die kliniek as ’n algemene praktisyn en sien pasiënte een oggend per week op ’n twee-weeklikse basis.

Hoekom reken jy beradingsdienste by Triomfkliniek sal so ’n verskil maak? Wat is die behoefte wat jy as dokter wat gereeld met die pasiënte werk, geidentifiseer het?
Al die pasiënte wat die kliniek besoek, is finansieël nie daartoe in staat om hul mediese onkoste self te dek nie. Die meeste van hulle beleef ongunstige omstandighede tuis en ’n groot persentasie van hierdie pasiënte se lewens is stukkend en hulle is getraumatiseer. Hulle het geen idee hoe om die lewe ’n beter plek te maak of selfs waar om te begin daarmee nie. Die meeste van hulle leef op oorlewingsvlak; baie kom uit huise waar verhoudings met geliefdes ’n groot uitdaging is. Baie van hulle sukkel met depressie en angs. Dit help nie om net ’n pilletjie voor te skryf as die wortel van die kwaad nie aangespreek word nie. Hiervoor is berading broodnodig.

Was daar een spesifieke geval by Triomf wat jou laat besef het hoe nodig beraders is?
Die geval wat my die meeste geraak het was ’n 11-jarige meisie wat deur haar ouma ingebring is met klagtes van slaaploosheid en geen eetlus en dat sy altyd moeg is en nie presteer op skool nie. Sy was die heeltyd sieklik en het chronies gekla van maagpyn.

Die kind het gereeld woede-uitbarstings gekry. By navraag kom ek toe agter dat die kind en haar suster weggeneem is by haar ouers en by die ouma bly omdat die ouers nie vir die kinders kon sorg nie. Die kind het ’n bitterheid en onderdrukte woede teenoor haar ouers gekoester wat gelei het tot erge depressie.

Ek het self lank met haar gesels en het haar daarna verwys vir berading. Ongelukkig kon die ouma nie die beradingsessies bybring nie as gevolg van onvoldoende finansies en vervoerprobleme. Die kind sit steeds in dieselfde diep donker gat. Sy is tans op anti-depressante maar dis duidelik dat sy nie gaan verbeter as haar bitterheid en onvergewensgesindheid nie aangespreek gaan word nie. Die kans dat hierdie kind ’n rebelse lewensstyl gaan begin leef soos sy ouer word is groot. Dit kan in ’n groot mate verhoed word indien berading gereeld en effektief toegepas kon word.

Watter soort berading is die nodigste, in jou opinie? Hoeveel mense dink jy het per week behoefte hieraan?
Daar is sielkundige en pastorale berading. Ek verkies persoonlike laasgenoemde sodat mense bewus kan word van die liefdevolle hand wat Jesus deur sy volgelinge na mense uitsteek, en sodat hulle ’n ewigheidsvisie kan kry en dinge wat in hul lewens gebeur in perspektief kan plaas. Want almal van ons vra die hoekom en waarom vrae in uitdagende situasies.

Ek is nie elke dag by die kliniek nie, maar persentasiegewys glo ek omtrent 80 persent van die pasiënte wat die kliniek besoek benodig een of ander vorm van berading.

Hoe bekwaam/opgelei moet mense wees wat hier kan uithelp?
Ek is nie self ’n opgeleide berader nie, maar ek glo deur net te luister en ’n gewillige oor te verleen, en genoeg kennis om die gesprek te lei in ’n rigting wat die pasiënt kan begelei om self die oplossing vir die probleem te vind, help reeds baie.

Professionele sielkundiges en pastorale beraders sal wonderlik wees. Maar mense wat genoeg ervaring, wysheid en lewenskennis het om begeleiding vir minderbevoorregtes na ’n beter lewe te verskaf, is ook welkom.

Lindie, vertel ons meer van GROOTfm se betrokkenheid?
’n Mediaplatform soos GROOTfm 90.5 speel ’n belangrike rol om bewusmaking te skep van die ware behoeftes in ‘n gemeenskap en dit dan op ’n sinvolle manier te kommunikeer sodat mense nie net kennis neem nie, maar ook deelneem aan die oplossing wat nodig is.  Ons kommunikeer aan ’n gemeenskap om uiteindelik daardie einste gemeenskap te inspireer en te mobiliseer tot betrokkenheid.

Ons het die afgelope vier jaar gesien wat die Triomfkliniek vir die Pretoria-Wes gemeenskap beteken en is ontsettend dankbaar vir elke persoon wat of bygedra het of hulle kundigheid steeds elke dag beskikbaar stel om die gemeenskap se mense in uitnemendheid te dien.  Dit is die einste medici wat by Triomfkliniek betrokke is wat ook die dieper emosionele en geestelike nood van hulle pasiënte raakgehoor het en onder ons aandag gebring het. Weereens speel media ’n rol om hierdie dringende behoefte aan ‘n holisitiese bediening van liggaam, siel en gees onder ons gemeenskap se aandag te bring en luisteraars met die nodige kundigheid, soos beraders, te nooi om saam met ons ‘n verskil te maak.

GROOTfm 90.5 kry wonderlike dinge reg deur hulp van julle luisteraars te vra. Kan jy so ’n hoogtepunt staaltjie met ons deel?
Ek dink elke mens begeer om iewers ’n sinvolle bydrae tot hulle gemeenskap te maak, ons weet net nie altyd waar of hoe nie.  GROOTfm 90.5 is in ’n unieke posisie om juis geleenthede om ’n verskil te maak, by mense uit te kry deur stories te deel.  En ons waak regtig teen ‘n “pawiljoen-kultuur” waar ons bloot ’n uitstalling hou van die goeie dinge waarmee ander mense besig is.  Hierdie stories moet mense innooi om ook deel te word en hulle bydrae te kan gee of dit nou ’n mamma is wat hoor toe ons by ’n enkelpa en sy gestremde seun van 18 gaan kuier en sy aanbied om ’n sjokoladekoek vir die seun se verjaarsdag te bak. Ons het die afgelope maand warm wintersbaadjies en blikkieskos ingesamel vir ons minderbevoorregte vriende wat nie eers een warm baadjie het om hulle teen die ysige koue te beskerm nie terwyl ons kan kies uit verskillende opsies in ons kas. Die sukses van so ’n projek hang geheel en al af van die inkoop van jou luisteraars en weereens het ons gesien hoe skole, kerke en besighede op kreatiewe maniere ingekoop het. Hoërskool Waterkloof het twee ton se warm wintersklere ingesamel en Affies Meisies meer as 2 000 blikkies kos!  Laerskool Louis Leipoldt vier hulle 70ste verjaarsdag hierdie jaar en het toe ’n 70m wasgoeddraad gespan as doelwit vir hulle insameling en ook meer as 700 blikkies kos ingesamel.

As mense wil help met ’n oor om te luister, of selfs professionele beradings-ure kan skenk, wat moet hulle doen?

Kontak vir Suster Adeleen by die kliniek, 012 327 781, en epos jou CV en professionele kwalifikasies na [email protected].