In Julie 2014 toe die Triomf Kliniek sy deure oopgemaak het, was dit met ’n droom, om ’n verskil te maak vir behoeftige pasiënte wat by staatshospitale deur die krake val. Hierdie droom, van Atterbury Trust en van spesialisdermatoloog Dr Marc Roscher en sy oorlede tante, Iris Roscher, wat die destydse direkteur van verpleegdienste van die Departement van Gesondheid en Welsyn, asook die president van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging was, het nie net waar geword nie, maar ’n nuwe vlak van uitmuntendheid in liefdadige mediese sorg geskep wat vandag reg is om verder uit te brei. Dr Marc kyk terug op ses suksesvolle jare, en vorentoe na ’n toekoms vol hoop.

 

Dit is volgende maand Triomf Kliniek se sesde verjaardag. Het jy ooit kon droom dat dit so ’n sukses sou wees, en waaraan reken jy is hierdie sukses te danke?

Om eerlik te wees het ek nie gedink dit sal so suksesvol wees nie, bloot omdat dit so moeilik is om mense te kry om sonder vergoeding betrokke te raak en regtig van hulleself te gee. Die geheim, glo ek, was Atterbury Trust se voorbeeld met die platform wat hulle geskep het, en, heel belangrikste, in stand gehou het oor die ses jaar.

As jy kyk na Triomf Kliniek vandag in vergelyking met die beginjaar, wat is jou indrukke?

Alles omtrent die Triomf Kliniek in 2020 is puik: die gehalte van die dienste, die dokters en die toerusting; die omgewing en dekor; die veiligheid en rustigheid. Dit is ’n toevlugsoord vir mense wat kom uit gebiede wat nie veilig is nie, waar hulle meer gewoond is aan afjakke, lang toue en afskeepdiens – hier word almal met waardigheid behandel. Jy maak ’‘n afspraak, dit is rustig, jy drink ’n koppie tee in ’n pragtige wag-area, jy sien ’n uitstekende dokter en kry ’n korrekte diagnose en ’n behandelingsplan.

Ek glo dit is deel van die sukses van die kliniek – dit is nie net medisyne nie, maar totale sorg vir die pasiënt, beter diens as wat die meeste van ons pasiënte ooit hoop om te beleef, en hulle betaal vir niks nie.

Die ander gevolg van die goeie bestuur is dat die dokters wat hul tyd skenk ook so ‘n positiewe ervaring het, en voel hulle word ook as dokters met respek behandel: die toerusting is top-klas, alles is skoon en wit en netjies; alles word behoorlik bestuur met afsprake, die hele omgewing verwelkom mens, insluitende die pragtige tuin wat behoorlik besig is om ‘n lushof te word!

As gevolg van al hierdie elemente kry ons topklas dokters om betrokke te raak, wat die vlak van diens op ’n uitnemende standaard hou.

As jy terugkyk, wat staan vir jou uit as mylpale?

Die kliniek se groei met die jare maak my baie trots. Ons het werklik ‘n voortreflike diensplatform geskep en deur skenkers, meestal danksy Atterbury Trust, onderhou. Destyds toe ons begin het, wat dit ’n klein kliniek agter, en ’n handvol mense wat bygedra het. Nou het ons soveel briljante spesialiste en dokters wat deelneem; elkeen van hulle se betrokkenheid tel as ’n mylpaal! Daar is Prof Steven Rossouw, onder wie generasies van Tukkies mediese studente interne geneeskunde gestudeer het. Ons het wonderlike diagnostiese radioloë soos Prof Leonie Scholtz en vennote, en patoloë soos Dr Susan Dyson, en Lancet, wat vir ons weefseltoetse, hoë-vlak skanderings, en patologiedienste gratis aanbied. Ons het nou vyf dermatoloë en ek kan met vertroue sê dat dit van die beste sorg in die land is wat ons hier aanbied, ook danksy die samewerking van Dr Pieter du Plessis en Vennote van Skinmatters wat die hoogs gesofistikeerde Mohs-mikrografiese sjirurgietegniek gebruik om velgewasse te verwyder. Daar is die Pretoria OogInstituut wat duur toerusting geskenk het en ’n evaluasiediens verskaf, die briljante tandarts Dr Gys de Necker; Kansa en die Velkankervereniging wat gereeld help; die ortopedie-dienste van Dr Helene Basson en haar span van Operation Healing Hands… ek kan aan en aangaan. Ons het regtig geseënd om voortreflike verwysingsmoontlikhede tot ons beskikking te hê van mediese praktisyns wat berge verskuif om te help, te verwys, gratis te opereer en selfs geld in te samel, sodat ons die behoeftige gemeenskap voortreflike diens kan gee.

Julle dermatologieklinieke is al legendaries vir die wêreldklas diens wat julle bied! Vertel ons meer oor die tegnologie waarmee jy vanuit Umhlanga in KZN, waar jy gebaseer is, pasiënte in Pretoria behandel?

Dit word teledermatologie genoem… dit is werklik een deel van medisyne wat hom leen tot evaluasie oor ’n afstand. Ek werk met foto’s wat die klinieksuster vir my neem en aanstuur, waarvolgens ek die pasiënt kan diagnoseer, en vir hul ’n behandelingsplan kan voorskryf; en dan kom hulle na die volgende dermatologiekliniek vir ’n opvolgondersoek. Sodoende word die pasiënt se behandeling versnel en dit bespaar duur reiskoste en tyd.

Triomf Kliniek het destyds al die besluit geneem om geen traumagevalle te behandel nie, bly dit steeds so?

Ja, ons het ’n baie bepaalde besluit geneem om ’n diensplatform te skep, wat deur skenkers in stand gehou word en pasiënte slegs deur verwysing via liefdadigheidsorganisasies op afspraakbasis te sien. Ons kliënte is eerder die liefdadigheidsorganisasies as die pasiënte, want hulle bepaal en evalueer die behoefte, en word die kanaal waardeur die diens aangebied word. Dit is ook belangrik om ’n ritme van maandelikse diens op te bou, sodat die pasiënt sy diagnose en behandelingsplan kry, soms ’n verwysing of ’n voorskrif, en dan kan terugkom vir ’n opvolgbesoek die volgende maand. Dit is wat hierdie pasiënte nêrens anders kan kry nie.

Wat hou die volgende ses jaar vir Triomf Kliniek in?

Een van ons fokuspunte is om meer betrokke te raak by voorkomende gesondheidsdienste en ’n meer holistiese aanslag te hê; so oogmerk ons ginekologiese dienste, geestesgesondheid en beradingsdienste, voedingkunde en dieëtkunde, om leefstylsiektes soos diabetes aan te spreek. Die model van maandelikse klinieke bly sodat pasiënte kan opvolg. Ons hoop ook om nog meer tandartse te identifiseer sodat ons dié noodsaaklike diens ook kan uitbrei.

Ons hoor daar is groot planne vir uitbreiding?

Ja! Die model is so suksesvol – die samewerking tussen besigheid en geneeskunde, waar almal ’n deel bydra tot voordeel vir die samelewing – dat ons besluit het ons moet die sukses repliseer. So ’n tweede Triomf Kliniek word rondom einde Julie in Noord-Natal geopen, en ons kyk na ’n derde een in Durban, in die nabye toekoms. Die handelsmerk sal dieselfde wees, en die klinieke sal dieselfde wees, dieselfde uniforms, metodiek en dekor, sodat jy weet wat jy kry as jy die kliniek besoek – gehalte, veiligheid, en uitnemende sorg met waardigheid.