Triomf Kliniek – die baanbreker- liefdadigheidsprogram vir mediese dienste wat gestig is, in stand gehou word en in ’n groot mate geborg word deur die Atterbury Trust – vier ses jaar van die voorsiening van kwaliteitsorg aan van die kwesbaarste lede van gemeenskappe in die Pretoria-Wesomgewing.

Volgens Zahn Hulme, die uitvoerende trustee van die Atterbury Trust, een van die vernaamste rolspelers wat vir die stigting van die Triomf Kliniek verantwoordelik is, was die program die resultaat van samewerking tussen ’n groep mediese professionele en versorgingsorganisasies wat die groot behoefte na gespesialiseerde versorging onder Pretoria se behoeftigste gemeenskappe geïdentifiseer het.

“Uit die staanspoor was die oogmerk om ’n platform te hê wat as infrastruktuur vir mediese praktisyns kon dien om hulle dienste gratis aan behoeftiges te bied. Aanvanklik was die vernaamste fokus van die kliniek se dienste kinders en die bejaardes, maar die visie het gegroei en het die stigting van ’n uitgebreide gemeenskapsdiens ingesluit wat gespesialiseerde mediese en verwante dienste bied aan dié wat dit nodig het,” verduidelik Hulme.

Vandat die kliniek op 23 Julie 2014 geopen het, het dit ’n hoeksteen van medelydende sorg in Pretoria-Wes en omstreke geword wat uitnemende gratis mediese diens bied aan pasiënte sonder mediese hulp. Tot op hede het meer as 3 700 persone gespesialiseerde sorg van mediese praktisyns ontvang wat hulle tyd en vaardighede skenk om hierdie pasiënte te behandel nadat hulle deur die Triomf Kliniek se raadgoedgekeurde liefdadigheidsorganisasies daarna verwys is.

Die sukses van die kliniek se behandelingsmodel is gebaseer op die feit dat pasiënte verwys word deur liefdadigheidsorganisasies wat met Triomf Kliniek geassosieer is. MediMass saam met Ricomed werk tans om hierdie proses selfs vlotter te laat verloop deur ’n aanlyn besprekingstelsel te ontwikkel waartoe verwysingspraktisyns met ’n vertroulike kode toegang kan verkry.

Onder die leiding van die Atterbury Trust, word die Triomf Kliniek ook gesteun deur etlike gevestigde Suid-Afrikaanse mediese instansies en liefdadigheidsorganisasies, insluitende die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), Zuid-Afrikaans Hospitaal, Ampath, Medemass, Operation Healing Hands, Lycoderm, die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), Solidariteit Helpende Hand, Transmed en Kairos.

Die projek is egter van so ’n aard dat belangegroepe enige tyd kan deelneem en by die Triomf Kliniek betrokke kan raak, hetsy om dienste te voorsien of om toerusting of kundigheid te skenk. Die moontlikheid bestaan ook om die kliniek verder uit te brei om in die toekoms ook forensiese maatskaplike werk en berading in te sluit.

“Die Atterbury Trust is baie trots om geassosieer te wees met ’n projek wat oor die afgelope ses jaar soveel betekenisvolle en uitstekende werk gedoen het, en ons sien daarna uit om dit in die jare wat kom, selfs verder te laat groei, floreer en ontwikkel,” sê Hulme.