Na sewe jaar en baie solo vertonings bring die Hollandse troebadoer Stef Bos sy orkes van die Lae Lande einde vandeesmaand na Pretoria vir die “Kaalvoet deur die Wêreld” toer. Hier kom sluit hulle ’n halwe jaar se toer met sy jongste CD Mooie Waanzinnige Wêreld af terwyl hy tegelykertyd ’n nuwe Afrikaanse CD, Kaalvoet, bekendstel. Op die vooraand van sy konsert by Tukkies se Aula Teater gesels ons met Stef gesels oor kaalvoetloop, kultuurgoeters en hoe om nuwe wortels te vorm.

Jy het onlangs die Jan van Riebeeck eremedalje gewen vir jou volgehoue pogings om kultuurverskille tussen Suid-Afrika en Nederland te oorbrug. Wat was vir jou die grootste uitdaging om as Hollander hier aan te pas?
Vreemd genoeg eintlik die taal. Dit het my ’n paar jaar gevat voor ek ’n soort Nederafrikaans begin praat het. In die begin het ek gevoel ek moet oppas om nie verkeerde goeters te sê nie, omdat daar woorde is wat hier in die Lae Lande ordentlik is en in Afrikaans soos ’n vloek klink. Wat betref die Afrikaanse kultuur self, het ek gou tuis gevoel omdat ek uit die Protestantse hoek in Nederland kom en gevoel het ek ken die manier van dink. Terwyl daar ook ’n groot verskil is. Die Afrikaanse kultuur is meer avontuurlik deur die geskiedenis… ons avontuurlikheid het ons ’n bietjie gelos na die 17de eeu. Die ooreenkomste en verskille is vir my nogal die basis van my liefde vir die land en die taal, omdat ek eintlik ’n spieël sien van my eie taal en agtergrond. Ek voel verder dat ek al meer my wortels in Suid-Afrika het, want my kinders gaan skool in Kaapstad en ek leer nou deur hulle Afrikaans soos ek dit nooit vantevore sou geleer het nie. Ek dink ook dis hoekom ek die nuwe CD, Kaalvoet, in Afrikaans kon skryf.

Julle sluit julle “Mooi Waanzinnige Wêreld” toer in Pretoria af – in al die jare van reis, wat was die “waansinnigste” reis-ervaring wat jy ooit op toer gehad het?
Die feit dat, terwyl ons op toer was, die hele ding in Parys, Frankryk gebeur het toe die twee ouens die redaksie van Charlie Hebdo doodgeskiet het. Ons vertoning se naam was natuurlik lank voor hierdie gebeure bepaal, maar dit het tog nogal angswekkend gepas gevoel op daardie oomblik. Die lekker ding is egter, dat dit ook gaan oor skoonheid in die wêreld wat jy moet raaksien, dus daar was altyd optimisme in die vertoning. In Suid- Afrika speel ons ’n aangepaste weergawe van die vertoning, want ek wil ook baie Afrikaanse songs speel wat ek nie in Nederland kan speel nie, omdat jy Suid-Afrika moet ken om dit te verstaan.

Kaalvoet is jou vierde Afrikaanse album (daar was ook al 23 Hollandse albums). Hoe het jy op die naam Kaalvoet besluit?
My kinders gaan kaalvoet skooltoe in Kaapstad, so het ek daaroor begin dink. Em, my vrou, sê dikwels ek het Europese voetjies wat nogal gevoelig is en skoene benodig, maar ek het wel na ’n paar jaar geleer om kaalvoet te loop. Kaalvoet vertel iets oor die kern van die kultuur, naamlik die verbinding met die grond waar jy gebore is en dat jy dit wil voel… en kinders wat kaalvoet leer loop, het vinniger stabiliteit in hulle bewegings.

Kaalvoet is vir my ’n stap verder in my verhouding met die land en die taal. Daar is songs op die CD wat ek 10 jaar gelede nie sou geskryf het nie, omdat ek toe nog nie genoeg geweet het oor hoe kompleks die land is nie.

Toe ek die CD gefinaliseer het, het ek een aand besef hoe baie ek van Suid-Afrika gekry het, en besluit om iets terug te gee… daarom kan mense die CD twee weke lank via Huisgenoot.com aflaai sonder om daarvoor te betaal.

Die song wat die begin was van my verhouding met Suid-Afrika, is Kerkorrel se Hillbrow met die mooi refrein “Gee, Gee, Gee”, so ek het gedink, nou ja, doen dit maar – GEE die songs om dankie te sê.

As jy enige plek in die wêreld kaalvoet kon loop, waar sou dit wees?
Suid-Afrika….want hier sal niemand vreemd kyk wanneer jy dit doen nie. Sou jy dit in die Lae Lande doen, sou hulle dink jy kan nie skoene bekostig nie!

Jy het oor die afgelope twee dekades al soveel Afrikaanse liedjies geskryf, kan jy een van hulle uitsonder as jou gunsteling en vir ons die storie agter die liedjie vertel?
Daar is ’n klomp wat ek eintlik onder my beste werk reken, omdat ek in my soort Afrikaans soms meer vry is in vergelyking met my eie taal.

“Suikerbossie” was ’n lekker begin van die musikale reis deur Afrikaans. Maar belangriker vir my is “Jy vir my Suid-Afrika”, om die liefde vir ’n land los te koppel van nasionalisme. Daar’s niks verkeerd met nasionalisme nie, solank dit nie ’n doel op sigself is nie.

Toe was daar die CD Kloofstraat met songs soos “Ek Wil”, “Tydbom” “Kloofstraat” en “Tuine van die Kompanjie”. Daar het die verliefdheid op die land oorgegaan in liefde en kon ek as buitestaander deel word van die kultuur met my eie manier van kyk.

Kaalvoet is nog ’n stap verder. ”Jonk in my kop” vertel vir my goed waar ek nou is in my lewe. Ek het dit oorspronklik in Afrikaans geskryf en probeer om dit in my eie taal te vertaal, wat nie maklik was nie… baie vreemd. “Ek en my Bottel” waarin ek iemand se storie probeer vertel – ’n bergie in die Kaap – is miskien een van my beste songs ooit. Ons het hierdie song nou in die Lae Lande gespeel en ek het iets vertel oor Suid-Afrika en dit het mense baie ontroer… Dis vir my wonderlik wat musiek op hierdie vlak kan doen.

“Maso” is ’n wonderlike samewerking met drie KhoiSan seuns wat rap… histories vir my mooi wanneer jy die geskiedenis ken en die enigste song wat ek in Nederlands wou sing oor die historiese konteks van 1652 en daarna. Ek is ook mal oor die mitologie van die Boesmankultuur wat so naby lê aan die oorsprong van die dinge… wat byna verdwyn het en tegelykertyd ook nog voortleef in die behoefte van Afrikaners om “innie Bos” te wees wanneer hulle kan.

“Jou Land is My Land” is my ultimate liefdesliedjie in kombinasie met die gevoel dat jy emigreer. Dis geskryf in die tou by Binnelandse Sake.

2015 Kaalvoet toerskedule:
20 & 21 Februarie, Stellenbosch, 021 8097473
22 Februarie, Kaapstad, 082 3406677
26 Februarie, Bloemfontein, 051 447 7772
27 & 28 Februarie, Pretoria, 012 471 1700

Bespreek by Computicket of skakel 012 471 1700.

Stef Bos se album Kaalvoet is vanaf 14 Februarie tot 28 Februarie gratis beskikbaar om af te laai vanaf huisgenoot.com.

Kyk ’n video van Stef Bos se weergawe van Suikerbossie: 

PascalLagarde - Stef Bos 2-4

PastedGraphic-1