Vir die behoeftige inwoners van Danville beteken die lang toue en die min hande by die staatshospitale dat baie van hulle met voorslepende kwale deur die lewe gaan; soms selfs met lewensgevaarlike toestande wat nie gediagnoseer word voor dit te laat is nie. Op ’n stil manier in ’n onmerkwaardige hoekie van Pretoria-Oos, maak die Triomfkliniek, onder die administrasie van die Atterbury Trust, elke week ’n tasbare verskil in die lewens van hierdie mense. Ons het by klinieksuster Adelene van der Westhuizen gaan aanklop oor Triomf se baie besige Februarie.

Die jaar het behoorlik afgeskop met hoë impak, ons hoor daar was al drie spesialisklinieke! Waar staan Triomf se pasiëntegetalle nou, en wat was julle eerste kliniek van die jaar?
Ons het tot op hede reeds 1 047 mense gesien en gehelp, danksy die dokters wat gratis hulle dienste beskikbaar stel. Die eerste een vir die jaar het op 7 Februarie plaasgevind met ’n halfdag Oor- Neus- en Keelkliniek, wat deur Dr Jannie Kok behartig is. Hy het daardie oggend sewe pasiënte gesien; daar was ’n paar mense wat kinders gebring het wat mangeloperasies nodig het. Hoe ons dit hanteer is dat Dr Kok verwysings skryf vir Healing Hands, ’n wonderlike organisasie wat behoeftiges wat operasies nodig het, evalueer vir geskiktheid, en dan waar moontlik ‘n pasiënt met een van die privaathospitale waarmee hul saamwerk verbind sodat die operasie gratis uitgevoer kan word.

En volgende was ’n Dermatologiekliniek?  Maak dit ’n groot verskil in die gemeenskap?
Dr Jonell Meyer het op 9 Februarie sewe pasiënte gesien; al sewe van hulle was nog nooit voorheen hier by ons vir dermatologiese kwale nie.  Ons het drie dermatoloë, wat om die beurt maandeliks ‘n kliniek aanbied. Dermatologie was die eerste spesialisdiens wat ons hier aangebied het omdat Dr Marc Roscher wat eintlik die pa van die Triomfkliniek is, ‘n dermatoloog is. Daar is ’n groot behoefte aan dermatologie in die gemeenskap wat ons bedien, so dit is baie bevredigend om te kan help. Daar is byvoorbeeld een pasiënt, ‘n middeljarige dame, wat opgedaag het met moesies op haar gesig en rug waaroor sy bekommerd was. Dit het geblyk dis melanoom, so dit was so goed dat sy betyds by ons uitgekom het, want dit kan dodelik wees. Die melanome is verwyder en sy kom nou gereeld vir haar ondersoeke. Sonder die gratis hulp wat Triomfkliniek haar kon gee, sou sy dalk nooit uitgevind het wat verkeerd is voor dit te laat was nie.

Vertel ons van die jaar se derde spesialiskliniek…
Op 12 Februarie het ons ‘n Ginekologiekliniek gehad met Dokter Liz Erasmus, en daarvoor het ons 15 pasiënte gesien, vir roetine-ondersoeke en swangerskap-verwante kwessies. Soos met al die dienste wat Triomfkliniek aanbied, moet voornemende pasiënte na ons verwys word deur een van die organisasies waarmee ons saamwerk.

Kan julle instap-afsprake akkommodeer of is alles nog streng volgens afspraak?
Ons kan ongelukkig nie mense sonder afsprake sien nie, so as iemand hier opdaag, sal ons vir hulle verduidelik waarheen hulle gaan vir ‘n verwysing. Die meeste van ons pasiënte kom deur die CMR, Solidariteit, Daspoortkliniek, Helpende Hand en meer.

Ons hoor daar word nou ook meer as net suiwer mediese dienste aangebied?
Ons het die kliniek beskikbaar gestel aan die CMR om Ouerleiding-sessies te kom aanbied, waar hulle tweeweekliks met ouers sal berading doen oor kinderleiding en sulke verwante kwessies. Die eerste een sal binnekort gebeur.

Hoe lyk die res van die jaar by die kliniek?
Ons begin vanjaar met twee nuwe spesialisklinieke – daar sal ‘n kwartaallikse psigiatriekliniek wees, met individuele berading; op 5 Maart het ons ons eerste ortopediekliniek, en op 3 April is ons weer bespreek vir ‘n gehoorkliniek. Ons hoop ook om spoedig weer die oogkliniek aan die gang te kry; en dan later vanjaar die Tandheelkundige dienste in plek te sit.

Die Triomfkliniek word deels befonds word deur die ruimhartigheid van die Atterbury Trust se wonderlike donateurs. As jy ‘n bydrae wil maak, kliek gerus hier. Vir enige bydrae tot die Trust ontvang jy ’n seksie 18A belasting-sertifikaat.