Wat ’n plesier was dit om vir die Olimpiese medaljewenners Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag te kan verras met ’n blyk van waardering vir die wyse waarop hulle Suid-Afrika by die Spele laat skitter het.  Atterbury Trust se uitvoerende trustee Zahn Hulme en die twee ster-atlete vertel ons meer oor die Span.saam inisiatief van Atterbury en USN, waarmee meer as ’n miljoen rand ingesamel is, en wat dit vir hulle beteken.

Hoe is die idee gebore om die Olimpiese atlete te help?

Zahn Hulme: Toe SASCOC (South African Sports Confederation and Olympic Committee) aankondig dat daar nie finansiële vergoeding vir die Olimpiese medaljewenners beskikbaar is nie, het Atterbury se groepshoof Louis van der Watt dadelik besluit om in te spring en iets daaraan te doen. Hy het vir Albé Geldenhuys van USN gebel, wat ingestem het dat dit net nie aanvaarbaar was nie, en ons het besluit om ’n skarefinansieringsprojek te loods. Binne ’n dag het Atterbury die skenkingsplatform reggehad op Atterbury Trust se webwerf, en Span.saam is gebore met ’n R500 000 skenking van Atterbury en USN gesamentlik; daarna is dit vir die publiek oopgegooi met ’n bemarkingsveldtog.

Hoe het Span.saam toe ontvou?

Zahn: Dit was vir ons belangrik dat die inisiatief so geloofwaardig soos Atterbury en USN beide is en ons het onmiddellik die atlete en hul afrigters genader om hulle goedkeuring vir die inisiatief te kry. Daar is op die ou end meer as 100 individuele donasies van mense en organisasies ontvang, insluitende ook R100 000 van Afriforum se inisiatief, en net meer as ’n miljoen rand is ingesamel, wat net so na die twee atlete en hul afrigters gegaan het. Tatjana Schoenmaker het ’n R600 000 tjek ontvang – R400 000 vir haar goue medalje in die 200m borsslag en R200 000 vir haar silwermedalje in die 100m borsslag. Bianca Buitendag het R200 000 vir haar silwermedalje in branderplankry ontvang. Tatjana se afrigter van die afgelope 10 jaar, Rocco Meiring, het R150 000 ontvang en Bianca se afrigter, Greg Emslie, R50 000. ’n Oorblywende bedrag van R50 000 is opsy gehou vir ’n beurs wat aan ’n opkomende atleet toegeken sal word.

Wat word nou van Span.saam?

Zahn: Ons is so oorweldig deur die geweldige positiewe reaksie van gewone mense, gemeenskapsorganisasies en besighede dat ons besluit dat ons Span.saam as platform gaan behou as ’n insamelingsplatform vir soortgelyke toekomstige inisiatiewe – in gevalle waar staatshulp tekort skiet op die sport-, kulturele of gemeenskapsfront.

Oor na ons Olimpiese sterre; noudat julle tyd gehad het om te rus, hoe voel julle oor jul Olimpiese prestasies?

Tatjana: Ek kan dit steeds nie glo nie; ek moet myself elke nou en dan knyp om te glo dit het regtig gebeur en ek is nou die houer van die wêreldrekord… dit voel surrealisties! My doelwit was om my bes te gaan doen by die Olimpiese Spele en as dit ’n goue medalje sou beteken sou ek in ekstase wees (en soos julle gesien het, was ek, haha!) Maar hoewel dit die droom was, wou ek net my beste swem.

Bianca: Dit voel nog steeds soos ’n droom wat waargeword het, en die laaste drie maande was volgestop met versoeke en byeenkomse. Dit is lekker om bietjie buite die water uitdagings te ervaar en oorkom.

Ons weet julle is nie Olimpiese Spele toe vir geld nie – maar wat het hierdie tjeks van Atterbury en USN vir julle beteken? Watter boodskap voel julle stuur die Span.saam inisiatief?

Bianca: Die impak van die finansiële ondersteuning is astronomies, en geld is ’n platform wat direk iemand se lewe kan verander. Maar, so baie soos wat dit vir my beteken, is dit ewe groot my verantwoordelikheid om Atterbury se voorbeeld te volg en dit vir groter doeleindes te gebruik.

Tatjana: Die tjek van Atterbury en USN was manna uit die hemel; ek is so geseënd om op hierdie manier finansieël ondersteun te word omdat swemmers nie gewoonlik geldelike erkenning kry vir wat ons insit nie. Ek is geweldig dankbaar, en danksy hierdie tjek kon ek my eie stigting van die grond af kry. Die Span.saam inisiatief is wonderlik en moet ons as Suid-Afrikaners te inspireer om saam te staan as ’n span om ’n beter land vir almal te skep.

Het julle al besluit hoe julle hierdie blyk van waardering gaan toepas? Waarop gee julle die geld uit?

Bianca: Ek oorhandig die tjek aan Life Community Services, ’n nie-vir-wins organisasie wat al 20 jaar lank kinders van my gemeenskap in George se lewens verryk. ’n Klein bietjie gaan baie ver, en die verskil wat dit in hulle lewens sal maak, sal vir generasies erken word.

Tatjana: Ek het pas die Tatjana Foundation bekendgestel, waarmee ek ander mense wil help om hul eie doelwitte te bereik; van projekte om kinders te leer swem tot by bystand aan atlete wat nie kan bekostig om groot kompetisies by te woon nie.

Julle het vertel van al die wonderlike ondersteuning wat julle by Suid-Afrikaners gekry het – deel een storie/boodskap wat baie impak op jou persoonlik gehad het?

Tatjana: Ek kan nie net een uitsonder nie, want ons is so oorweldig deur al die boodskappe en wonderlike ondersteuning van Suid-Afrikaners. Dit was ongelooflik, en mens voel diep geraak deur dit alles. Dit was vir my ’n hoogtepunt om my familie, my kêrel en my goeie vriende lewendig op die groot skerm in die swembad-stadion te sien toe ek albei my medaljes gewen het.

Julle is wonderlike rolmodelle vir jong Suid-Afrikaanse atlete. Wat is julle boodskap vir jong swemmers/branderplankryers, of net enige atleet? Hoe reken julle moet Suid-Afrikaners saamspan?

Bianca: Vasbyt en gebed. Met daai twee kan jy berge versit. Klou kliphard daaraan vas.

Tatjana: Baie dankie! My boodskap aan jong swemmers is: fokus net op jou eie werk, moet jouself nie met ander vergelyk nie, want ons het elkeen ons eie tyd om te skitter. Jou oomblik sal op die regte tyd kom, solank jy aanhou om hard te werk. Onthou, as jy ’n baan het, het jy ’n kans, en dit is waar vir enigiets in die lewe. Suid-Afrikaners kan saamspan deur vooroordele te laat staan en vir ander mense liefde te betoon sonder vooropgestelde idees.