Sedert die SA Vrouefederasie hulle harte oopgemaak het en nog ‘n deel van SAVF Margaretha Ackermann tehuis aan Triomf Kliniek beskikbaar gestel het, is daar omtrent planne gemaak en begin werskaf om die kliniek uit te brei. Atterbury Trust se Zahn Hulme bring ons op datum.

Wanneer maak die nuwe vleuel oop?
Op die oomblik kyk ons na so middel November. Die opwinding is groot!

Hoe ver is die aanbouings en wat presies word gedoen?
Ons is besig om vier nuwe spreekkamers te bou, waarvan een vir ‘n tandarts sal wees. Ons is so bly dat ons nou ook tandartsdienste sal kan aanbied nadat ons met bemiddeling van Groot FM 90.5 ‘n tandartsstoel in die hande gekry het. Die badkamers word ook opgeknap, en ons sien uit daarna om vir die pasiënte ‘n behoorlike wagkamer te kan aanbied om te wag vir hul afsprake, sodat hulle nie buite in die wind en weer hoef te sit nie. Ons kry selfs professionele landskapwerk aan die tuin om die hele perseel te verfraai… Atterbury het al heelwat werk met die voorste landskapsargitek Lucas Uys van Uys en White gedoen, en ons is baie dankbaar dat hy sy dienste aangebied het om Triomf se tuine gratis te kom mooi maak.

Een van die wonderlike dinge omtrent Triomf is dat mense en instansies so graag ‘n helpende hand uitreik…
Ja, daar is soveel goedgunstigheid en naasteliefde daar buite. Helpende Hand het reeds ‘n donasie bewillig om ‘n gedeelte van die nuwe uitbreidings by Triomf te finansier. Nog goeie nuus wat ons gekry het is dat die Pretoria Ooghospitaal ingestem het om 30 katarakoperasies gratis vir Triomfpasiënte te doen! Ons is dus nou besig om te kyk waar die behoefte lê en die operasies sal binne die volgende maand begin gebeur soos ons die mense identifiseer.

Dis sulke goeie nuus!
Ja en dis nog nie al nie. Ons ginekoloog, Dr Liz Erasmus, het gesukkel om haar ondersoeke effektief sonder ‘n sonarmasjien te doen en ons het navrae begin doen. So het die Zuid-Afrikaans Hospitaal tot die redding gekom en vir ons ‘n tweedehandse een geskenk. Dr Liz is omtrent in haar noppies! ZAH is aangewys as een van Discovery se 20 beste hospitale in die land, maar hulle hart is ook op die regte plek. Wat ‘n voorreg om met hulle te kan saamwerk. Behalwe die sonarmasjies, het ZAH boonop ook vir ons teatertyd gegee sodat ons een operasie per maand gratis kan aanbied vir ‘n Triomfpasiënt. Dis net so ‘n ongelooflike gebaar… partykeer daag daar ‘n pasiënt op wat regtig ‘n operasie nodig het, maar al het ons dokters wat bereid is om die operasies sonder koste uit te voer, help dit nie as daar nie ‘n teater is nie.  Nou kan ons minstens elke maand een pasiënt wat dit die nodigste het help, en wie weet hoe dit vorentoe ontwikkel. Ons sien uit daarna om soos altyd vir die baie behoeftige mense van Danville en omgewing uitnemende sorg met deernis te gee…en nou ook in ‘n mooier omgewing!

Skenkings is altyd welkom, so enigiemand wat wil bydra tot die groei van Triomfkliniek, kan gerus vir Suster Adelene by die Triomfkliniek kontak by 012 3277818.