Die wenners in VivA en Atterbury Trust se skolekompetisie is omtrent ’n kreatiewe, uitgesproke jongklomp. Hier is wat hulle te sê het oor die kompetisie en die toekoms van Afrikaans.

Werner Bronkhorst het ʼn R10 000-geskenkbewys van BlueTek Computers gewen met sy inskrywing “Al dra ʼn aap ʼn goue ring” en “Lekker is net ʼn vinger lank.”

1. Wat het jy gekoop met jou geskenkbewys?
Ek het nog nie, maar ek wil ‘n skootrekenaar koop. My kop staan grafiese ontwerp toe, so dit gaan nuttig wees!

2. Het jou prys jou klasmaats aangemoedig om ook in te skryf vir die VivA skolekompetisie?
Almal was baie verbaas toe hulle gehoor het van my prys! Ek het erkenning ontvang in my huis (Matheson House), en ook tydens saalopening voor almal ‘n handdruk by die hoof gekry, so ek glo van die ander seuns sal nou inskryf!

3. Voltooi die sin: Afrikaans is vir my…
…’n lekker taal om te praat. Dis ‘n taal in sy kinderskoene en het nog baie potensiaal om te ontwikkel.

Hanri Hattingh, ‘n graad 12-leerling van C&N Oranje Meisieskool in Bloemfontein,  het ‘n Samsung Galaxxy Tab3 tablet en splinternuwe HAT6-woordeboek gewen met haar inskrywing “’n Berg van ‘n molshoop maak”.

1. Hoe het jy jou idioom gekies en hoe het jy te werk gegaan om dit in drie dimensies aan te bied?
Ek het dit lukraak gekies! Ek het ‘n A4-blad laat druk om die droë landskap van die Kalahari (waar ek woon) uit te beeld. Daarna het ek Tafelberg, mynwerkers en ‘n stootskraper gedruk en só gevou om hul regop te laat staan. En toe neem ek die foto met my iPhone.

2. Wat dink jy van die skolekompetisie en hoe kan VivA die skolekompetisie nog beter bemark onder jongmense?
Dié kompetisie is ‘n ongelooflike geleentheid vir jongmense om hulself kreatief uit te daag. Die pryse is ‘n bonus wat ander deelnemers motiveer om hul beste te probeer. Ek hou van die feit dat ‘n beurs gewen kan word – nie deur ‘n naamtrekkery of hoeveelheid stemme nie, maar deur pure kreatiwiteit. Ek dink die beste manier om dit verder te bemark sal wees om skole te besoek.

3. Voltooi die sin: Afrikaans is vir my…
…’n onderskatte skat.

4. Dink jy Afrikaans het nog ’n plek in skole, universiteite, ons land en die wêreld?
In skole, ja. In universiteite kan dit wissel, want baie studente verkies om Engels, Duits of selfs Frans die taal van hul toekoms te maak. Ek hou nie daarvan om te moet erken dat Afrikaans besig is om deur ander tale oorheers te word nie, maar dit is so. Daar is mense in Suid-Afrika van alle kulture wat eenvoudig nie Afrikaans kan praat nie! Engels is die taal van die wêreld, maar Afrikaans is die taal van ons land.

5. Wat dink jy is nodig om die Afrikaanse taal onder jongmense in Suid-Afrika te bevorder?
Beter opvoeding. Afrikaans moet van kleins af reg aangeleer word.

Maritza Jacobs, ‘n graad-11 leerling van Curro Heuwelkruin, het ʼn naweek by een van die ATKV se vakansieoorde gewen met haar uitbeelding van “Hy beweeg teen ʼn stinkspoed”.

1. Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die ATKV-wegbreeknaweek gewen? Wanneer beplan jy om te gaan? Na watter oord en wie gaan jy saamneem?
Ek was eers stomgeslaan, en na ‘n ruk het ek besef, “Wow, ek het gewen!” Ek gaan saam met my ouers, en ons beplan om iewers in September te gaan, waarskynlik na ATKV Buffelspoort of ATKV Eiland Spa.

2. Wat het jou laat besluit om deel te neem?
My Afrikaanse onderwyseres, Beatrix Niewoudt, het ons vertel van die kompetisie, en die groot prys van die studiebeurs het my oortuig ek moet deelneem. Ek wil bitter graag eendag gaan studeer, en teen vandag se trant raak studiegelde net al hoe meer.

3. Wat dink jy van die kompetisie en hoe kan VivA dit nog beter bemark onder jongmense?
Ek dink persoonlik die kompetisie het oproer onder ons jongklomp geskep. Almal hou van wen, so almal is nou vuur en vlam aan die gang. Die kompetisie is volgens my baie goed bemark. Maar nie almal het Instagram nie, so ‘n ander inskryfmeganisme sal dalk beter gewees het.

4. Voltooi die sin: Afrikaans is vir my…
… soos kos vir die siel. Dis my moedertaal, my geboortetaal, en my toekoms.

5. Dink jy Afrikaans het nog ‘n plek in skole, universiteite, ons land en die wêreld?
Beslis ja. Afrikaans moet volgehou word wêreldwyd. Ons moet veg vir ons taal. Dis tog wat ons eie maak as Afrikaners.

6. Wat dink jy is nodig om die Afrikaanse taal onder jongmense in Suid-Afrika te bevorder?
Meer geleenthede vir Afrikaanse studente/skoliere om hulself uit te druk in hul moedertaal.

Die VivA skolekompetisie duur nog tot Vrydag 4 September. Vind hier uit hoe om in te skryf: http://viva-afrikaans.org/skolekompetisie

Viva