Die beplanning vir Optog! 2019 vorder fluks, en vroeg in die nuwe jaar vaar hierdie reisende vermaakmasjien Suid-Afrika se dorpies binne met musiek en kultuur. Ons hoor by die brein agter Optog!, Matthys Maree, wat alles beplan word.

Ons het laas gesels toe Optog! 2019 pas aangekondig is… hoe gaan dit met die beplanning? Is julle druk besig?
Inderdaad! Meer as 200 vertonings in 65 dorpe is oor die afgelope paar weke op itickets.co.za gelaai. Verblyf vir al die Optog! 2019 kunstenaars word tans bespreek deur Lekkeslaap en ons “forward teams” is besig om die roetes te bestudeer. My kollega Johan Hendriksz is die groot dryf-as wat die wa deur die drif trek!

Is daar al ’n presiese afskopdatum vasgestel?
Valentynsdag is ’n groot dag op die kunstekalender, so dit sou sin maak om hierop te kapitaliseer vir ons afskop. Twee geleenthede – beide in die Wes-Kaap – gebeur op hierdie dag, 14 Februarie. Elvis Blue tree by die Hoërskool Durbanville Ouditorium op en 3 Van die Beste (Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo – ek speel self darem ook saam) is by die Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch. Kaartjies verkoop reeds flink, so mense in hierdie areas moet spring om ’n plekkie te kry.

Hoe gaan dit werk – word ’n paar vertonings gelyk op ’n paar plekke uitgerol? En gaan elke vertoning net een aand op ’n bepaalde plek wees?
Daar is geen formele roetes nie, en daar gebeur dikwels meer as een vertoning op verskillende plekke. Die gedagte is dat mense op itickets.co.za gaan soek onder hul spesifieke dorp of venue en dan bespreek vir enige of al die vertonings wat deur die jaar daar gebeur. Ons vermy dus dat Optog! se vertonings te naby aan mekaar in ’n spesifieke area gebeur. Ons wil hê dat mense in Upington na al die vertonings in Upington kan gaan kyk en dat Optog! deel van teaterliefhebbers se jaarkalender moet word. Nasionaal dus is daar kruis en dwars vertonings wat bykans elke dag van die jaar êrens gebeur.

En is die eerste vertonings al gefinaliseer? Wat gaan in die eerste maand of twee gebeur?
Daar is al heelwat gefinaliseer, ja. In Februarie, byvoorbeeld, doen Nataniël vertonings in Rustenburg en Polokwane, Coenie de Villiers en Deon Meyer voer Karoo Suite in Stellenbosch op, Jak de Priester tree in Hoedspruit en Ermelo op, en Romanz in Bloemfontein en Kimberley. Hou maar die webwerf dop om te sien soos vertonings deur die loop van die jaar bevestig word.

Nataniël is die gesig van Optog! – wat behels dit presies? Tree hy meer kere op as die twee wat bo genoem is?
Nataniël doen byna 20 vertonings vir Optog! in verskillende formate. As die gesig van Optog! was hy instrumenteel in die advertensieveldtog vir TV en radio, wat volstoom van Januarie af geloods word.

Volgens die webwerf het kaartjieverkope op 1 November begin. Hoe gaan dit met verkope? Het julle enige bepaalde bemarkingsplanne wat nog moet inskop – wat is jul besondere uitdagings in dié verband?
Ons eerste formele blootstelling in ’n publikasie is in die Januarie-uitgawe van Sarie, wat middel Desember op die rakke is. Verder skop ons weeklikse TV-insetsels op Die Groot Ontbyt in Januarie af. Maar alles is reg op itickets, so mense kan nou begin om hul kaartjies te bespreek!

Vir meer inligting besoek die www.optog.co.za. Kaartjies vir Optog! 2019 vertogings kan by www.itickets.co.za gekoop word.