Produk Beskrywing

Atterbury en USN beloon uitmuntendheid

Atterbury en USN het sopas aangekondig dat die twee maatskappye gesamentlik R 500 000 skenk en loods terselftertyd ‘n Olimpiese medaljewenner skarefinansieringsprojek, Spansaam, via die Atterbury Trust. Ander organisasies en individue word uitgenooi om tot die fonds by te dra. Die oogmerk is om binne ‘n week die teikenbedrag van R 1 300 000 te bereik. Daar word beoog om uit die fonds R 500 000 vir ‘n goue medalje en R 250 000 per silwermedalje uit te betaal, sowel as ‘n vasgestelde bedrag vir die afrigters van medaljewenners. Indien die teikenbedrag oorskrei word, bly die surplus in ‘n trustrekening om in die toekoms te kan intree waar die regering te kort skiet, hetsy op die sport, kultuur of gemeenskapsfront.

Saskok president, Barry Hendricks, het oor die naweek aangekondig dat daar geen finansiële vergoeding vir Suid-Afrika se enigste twee medaljewenners in die pas afgelope Olimpiese spele in Japan, die swemmer Tatjana Schoenmaker en branderplankryer, Bianca Buitendag, beskikbaar is nie. Daar is sedertdien gerepudieer dat onderhandelinge rondom vergoeding nog in proses is.

Atterbury en USN is twee ikoniese maatskappye wie se wortels diep in Suid-Afrika lê. Atterbury streef na uitnemendheid in alles wat ons aanpak, sê Armond Boshoff, Atterbury se Hoof Uitvoerende Beampte (HUB). Ons assosieer onsself met die beste in die bedryf – ons ontwikkel toonaangewende kommersiële eiendomsprojekte vir topklashuurders en ons bestuur ‘n portefeulje van uitsoekgeboue. Ons is trots op Tatjana en Bianca en glo dat uitmuntendheid beloon moet word. Teruggee aan die gemeenskap is ook al vir baie jare sinoniem met die Atterbury handelsmerk.

Albé Geldenhuys, Stigter en HUB van USN vertel waarom hulle onmiddellik hulle beursie oopgemaak het: “USN is 21 jaar gelede in Suid-Afrika gestig. Ons is baie lief vir Suid-Afrika en daar is soveel talent en potensiaal in ons land. Ons het agting vir die deursettingsvermoë van atlete wat deur die Covid-pandemie aanhou oefen het om hulle beste in Tokio te kon gee. Hierdie medaljewenners is ‘n inspirasie vir jong atlete wat vir Suid-Afrika behoue moet bly”. USN dra by tot die bevordering van sport onder minder bevoorregtes asook sportbeurse vir talentvolle jongmense.

Spansaam skop amptelik op Woensdag, 11 Augustus af om 06:00 op Die GROOT Ontbyt op kykNET wanneer Armond Boshoff, Albé Geldenhuys en Tatjana Schoenmaker in die ateljee is om meer inligting te gee oor die inspirasie agter Spansaam.

EFT Donasies:
Rekening: Atterbury Trust
Bank: Nedbank
Rekening nommer: 1497004187

Verwysing: SS (Naam en Van)

*Alle donasies kwalifiseer vir n Artikel 18A belastingsertifikaat, stuur asb ‘n epos na [email protected].