Net-net oor ’n maand is dit weer tyd vir Aardklop – amptelik Suid-Afrika se gunsteling kunstefees, met ’n kykNET Fiësta-toekenning om dit te bewys! Jongmense en kultuur lê Atterbury Trust baie na aan die hart, so dit is ’n groot voorreg om vanjaar borg te staan vir die jeugplatform, Aardklop Pronk Podium, wat vir die tweede keer deel is van die fees op Potchefstroom. Koördineerder van die Atterbury Trust Pronk Podium David Brink vertel meer oor wat ons vanjaar kan verwag.

Hoe het Pronk Podium oorspronklik deel van die program by Aardklop geword?
Aardklop glo die fees het ’n verantwoordelikheid teenoor die kunsgemeenskap van Suid-Afrika om te belê in jong akteurs en teatermakers, maar ook in die gehore van môre. In 2017 is die projek begin met juis hierdie doel voor oë. Ons sou nooit kon droom dat dit so vinnig sou groei en soveel belangstelling sou kry nie. Daar was meer as 60 inskrywings vanaf 40 skole. Aardklop het Eldo Toneelfees, HS Noordheuwel Toneelfees en die NWU Potchefstroomkampus genader om deel te word van die projek. Die plan was van die begin af om drie studente- en drie tienertoneelproduksies ’n nasionale platform op Aardklop te gee. Tydens die fees word die produksies amptelik deur die Aardkloppaneel beoordeel. Verlede jaar se toneelproduksies het almal verras en verbaas laat staan voor die ongelooflike jong talent wat op die planke was.

Hoe kom ’n jong toneelgeselskap se opvoering tot by Aardklop?
Die top drie toneelproduksies van die NWU se Potchefstroomkampus se Toneelkompetisie, en die top drie inskrywings van twee skoletoneelfeeste wat in Julie plaasvind, kry kans om in Potchefstroom by Aardklop opgevoer te word.

Die skole wat belangstel skryf in vir óf Hoërskool Eldoraigne se Eldo Toneelfees óf Hoërskool Noordheuwel se toneelfees, wat albei verlede maand gehou is. Die top drie wenners dring deur na Aardklop toe.

Die NWU Potchefstroomkampus se toneelkompetisie word tussen 28 universiteitskoshuise gehou. Die top drie wenners van die kampustoneelkompetisie kry dan kans om by Atterbury Trust Pronk Podium op te tree.

Watter skole het die meeste inskrywings gestuur na die twee feeste toe?
HS Noordheuwel het vyf stukke ingeskryf, Menlopark vier, en Randburg, Helpmekaar, Potch Gim en Riebeeckrand onderskeidelik elk drie stukke.

Wie was die beoordelaars?
By die skole was die beoordelaars Bertha Wahl, Johann Smith en Shareen Swart, en by die kampustoneel was daar ’n paneel wat onder andere die veteraanakteur Hans Strydom, musiekster Elzabé Zietsman en Aardklopfeesbestuurder Alexa Strachan ingesluit het.

Volgens watter kriteria is die top drie aangewys?
By die skolekompetisies is elke stuk tydens die week volgens ’n beoordelingsvorm beoordeel en die top vyf stukke van elke toneelfees het dan ’n tweede opvoering by die Eldo Toneelfees se gala-geleentheid gehad. Dié keer was dit voor twee beoordelaars en ’n gasbeoordelaar, en dieselfde beoordelingsvorm is gebruik. Die drie produksies wat hier die meeste punte verdien het, is deur na Aardklop toe. By NWU het die kampustoneel speel oor ’n week afgespeel, met uitdunne, en op die ou end het die beoordelaars hulle top drie aangewys om Aardklop toe te gaan.

En wie was die wenners vanjaar, wat op Pronk Podium te sien sal wees?
Die kampustoneelwenners was Klawerhof Dameskoshuis met As die trein kom, Villagers Manskoshuis met Geldjie Asseblief en Patria Manskoshuis met D.I.V.A. Die drie skole wat deurgedring het is Afrikaanse Hoër Seunskool met Klub SINK, Hoërskool Noordheuwel se Annamaria Davidtz van Diepgezet en Hoërskool Eldoraigne met Eden. Al ses hierdie produksies word op 6 Oktober deur die loop van die dag in die Totiussaal opgevoer, en vir R60 kry jy ’n pakket wat twee van die opvoerings insluit.

Was daar enige pryse behalwe die kans om Aardklop toe te gaan?
By die skole is daar wyd erkenning gegee in kategoriëe van beste akteur en aktrise tot ensemblewerk, beste hantering van tegniese aspekte en beste nuutgeskrewe teks. By Aardklop self sal al die Pronk Podiumproduksies in ag geneem word vir Aardklop se oorkoepelende toekennings, wat onder andere Beste Akteur en Aktrise, Regisseur en Produksie behels.

Is daar reeds ’n program vir Pronk Podium? Waar vind ons meer uit oor die opvoerings?
Ja, die program is aanlyn beskikbaar by www.aardklop.co.za, Aardklop se feesgids of op Aardklop se splinternuwe App. Die direkte skakel is: https://aardklop.co.za/?s=pronk na die webblad waar die drie pakkette gekoop kan word.