“Atterburystudente is hardwerkende studente want ons verstaan dat hierdie ’n kans is wat vir ons gegun word, ’n kans wat nie weer gaan kom nie.” Die wyse woorde van 26-jarige beursalumnus Marno Grobler, wat hom nie laat ontmoedig het toe hy nie keuring vir medies gekry het nie. Na afloop van sy BSc aan Tukkies is hierdie vasbyter nou besig om hom in aptekerswese te kwalifiseer, met groot toekomsdrome om terug te ploeg en pasiënte se lewens te verbeter. Lees en wees saam met ons geïnspireer…

Jou Atterbury Trustbeurs het jou BSc befonds… maar dit was nie die einde van jou studiepaadjie nie, né?
Nee! Ek het besluit om my studies voort te sit en is besig met  B. Aptekerswese aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Ek locum ook tans as ‘n aptekersassistent. Ek het nog altyd ’n passie gehad om met mense te werk en wou van so lank as wat ek kan onthou, baie graag iets in ’n mediese rigting doen. Die groot gedagte was altyd om MBChB te voltooi, maar as ek nou terugkyk, is daar ’n Groot Man wat beter weet!

Vertel ons van jou gesin en waar jy vandaan kom
Ek is die jongste, het een ouer broer, wat sy eie ding doen in Marblehall, Limpopo. My moeder spandeer haar tyd by die huis en my vader is ’n bestuurder in die kleinhandel. Ek het grootgeword in Limpopo en gematrikuleer in Rustenburg in die Noord-Wes by Hoërskool Grenswag.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust beurs uitgekom?  Het jy vir ander beurse ook aansoek gedoen?
Om te kan antwoord moet ek teruggaan na 2009, toe my moeder ’n massiewe beroerte gehad het. Sy moes uitgebreide rehabilitasie ondergaan en eintlik weer van voor af leer eet, praat en loop. Ons het in my matriekjaar verhuis na Rustenburg, om naby die hospitaal te wees waar my moeder haar rehabilitasie kon voortsit. Haar arbeidsterapeut, besig met haar gemeenskapsdiensjaar, was Chrisna Devenish. Chrisna was ook ’n beurs-alumna van Atterbury Trust, en sy het potensiaal in my gesien waarvan ek nie eers self bewus was nie.   Ek wou altyd medies swot maar het ook geweet dat daar nie geld was daarvoor nie. Ek was in ’n emosionele warboel oor my toekoms. Danksy Chrisna se hulp het ek aansoek gedoen by Atterbury Trust, die mense ontmoet, en my lewe het verander. As ek nou terugdink besef ek dat alles in ’n mens se lewe met ’n doel gebeur, selfs al is dit nie altyd op die oomblik duidelik nie.  Ek weet dat as ek nie vir Chrisna ontmoet het nie, sou ek nie verder kon gaan leer het nie. Ek het net vir dié een beurs aansoek gedoen, en dit was vir my bevestigend dat God dit so wou hê.

Wie het jy eerste vertel toe jy die beurs gekry het?
Ek het eerste vir my moeder vertel, dit was so ’n verligting vir ons almal.

Toe jy nou nie keuring kry om medies te swot nie, hoe het jy jou planne aangepas?
Ek het ingeskryf vir BSc en elke jaar deur die kursus aansoek gedoen vir MBChB keuring, maar dit ongelukkig nooit gekry nie.  Mediese sorg is ’n groot passie, en dis hoekom ek besluit het om verder te swot in aptekerswese. Dit was nooit ’n rigting wat ek oorweeg het nie, maar dit het organies gebeur.  Ná ek klaargemaak het met my eindeksamen het ek toevallig gehoor van ’n vakansiewerk by ’n apteek in Hartbeespoort waar ek by familie gekuier het. Ek het gedink ek kon my in Desember daarmee besig hou voor die groot werksoek begin. En toe ek daar begin werk, het ek daardie “Aha!” oomblik gekry, en besef hoekom ek nie die mediese keuring gekry het nie. Ek het my passie in aptekerswese gevind, en op die ou end het ek besluit om my daarin te kwalifiseer. Ek is nou klaar met my tweede jaar.

Wat is jou toekomsdroom vir jouself – waar wil jy oor tien jaar wees?
Ek het in die apteek, ’n passie ontdek vir opvoeding. Dis een van ’n gemeenskapsapteker se mees belangrike rolle – om pasiënte in te lig oor die korrekte en verantwoordelike gebruik van medisynes, en om raad te gee oor gesonde lewenstyl-besluite. Maar dit gaan nie net oor die oorhandiging van ’n handjievol pille in ruil vir ’n voorskrif nie – aptekers maak en ontwerp en doen navorsing oor molekules wat moontlike lewensveranderende effekte kan hê op pasiënte. So oor 10 jaar wil ek op ’n plek wees waar ek my BSc agtergrond kan inkorporeer in aptekerswese, met ’n PhD en nog verder, om verkieslik pasiënt-georiënteerde sorg te kan bevorder. Ek stel belang in “geneties-gemanipuleerde” gesondheidsorg, waar mens vir ’n pasiënt ‘n behandelings-regime uitwerk gebaseer op hul genetiese profiel. Dit is tans ’n ontluikende veld in Eerste Wêreldlande.

Wat dink jy is die belangrikste les wat jou ouers vir jou geleer het?
Probeer is nóú die beste geweer. As jy nie gaan probeer om iets te doen nie, sal jy nooit weet of jy dit kan of nie kan doen nie. Dat as jy wel probeer het, en jy nie reggekom het nie, jy wel ook iets geleer het. Om te probeer en te faal is nie die einde van die wêreld nie, en as jy faal verloor jy niks nie, so jy kan maar netsowel weer probeer.

As jy vir jouself ’n mentor kon kies by wie jy kon leer, wie sal dit wees?
Ek het so twee jaar gelede begin hardloop, en dit het ’n totale lewenstyl-verandering veroorsaak. In Januarie vanjaar het ek my eerste ultramarathon aangedurf, die 52km Om die Dam ultra. Ek sal Bruce Fordyce kies as mentor omdat ek glo mens sal so baie by hom kan leer, nie net oor hoe om marathonne te hardloop nie, maar ook oor uithouvermoë en self-motivering om jou doelwitte te bereik…

Wat sou jy vir potensiële skenkers sê om hul aan te moedig om die beursprogram te ondersteun – Atterbury begin ’n nuwe program waar hul donateurs aanmoedig om ’n student te borg.
Kyk, ek voel dat die studente wat deur die keuringspaneel gekies word, ouens is wat weet wat hulle wil hê uit die lewe. Atterburystudente is hardwerkende studente want ons verstaan dat hierdie ’n kans is wat vir ons gegun word, ’n kans wat nie weer gaan kom nie. In vandag se ekonomiese klimaat word dit al moeiliker vir jongmense om aan hulle eie toekoms te kan begin werk sonder ’n hupstoot van ’n vorige generasie. Baie jong mense met besonderse potensiaal en dryfkrag het net nie die nodige bronne om hulle potensiaal te kan ontgin nie en Atterbury Trust is stadig maar seker besig om hierdie skip in die regte rigting te draai!

Ons kan dit nie self beter stel nie… as jy wil bydra tot die opvoeding van ’n uitstaande student soos Marno, klik hier en laai die PDF af en vind uit hoe jy een van ons nuwe studiebeurspakkette kan befonds.