Verkort uit Beeld se Cool Capital bylae, 26 Augustus

Nog ‘n nuutjie wat Cool Capital na die hoofstad bring, is ons eerste kunsmeander, oftewel die “kunstekronkel”. ‘n Groot groep van die stad se galerye het op 7 September begin met ‘n nuwe tradisie – elke eerste Sondag van die maand sal hul deure van 10vm tot 5nm oop wees vir die publiek, sodat Pretorianers op ‘n gemaklike manier die stad se kunsbedryf kan ondersteun en hulle eie kunsroetes bepaal met die hulp van ‘n eenvoudige kaart.

Kunsgalerye in die hoofstad span ook met die biennale saam om nuwe werke bekend te stel wat spesifiek verband hou met die Jakarandastad. Die kunsvereniging begin met ‘n uitstalling deur Guy du Toit en Carla Crafford wat die GPS punte van Pretoria uitbeeld, met die tema “Sit die pret terug in Pretoria”. Die Loubser Trentgalery, in samewerking met Art Lovers in Langstraat bied ook tydens die biennale die eerste inry-uitstallings aan. Kuns sal ook daagliks langs Langstraat uitgestal word, en die uitstalling is gratis. Om kuns so in die buitelug te geniet of daardeur te ry is beslis ‘n nuwe manier om die heerlike somerweer op die Hoëveld te benut om kreatiwiteit uit te stal en te geniet.

Die St Lorientgalery bied ‘n grootskaalse samewerking tussen bekende beeldhouers soos Gordon Froud en tekstielontwerpers van die TUT aan. Die tekstielontwerpers is gevra om kunswerke op materiaal te interpreteer en modeontwerpers het dan hierdie lap gebruik om unieke uitrustings te ontwerp.

Die Tina Skukangalery was betrokke by landkuns-werksessies en as ‘n uitvloeisel daarvan is kunstenaars reeds van Julie al besig om landkunswerke in die groen lane van die middestad op te rig as deel van die biennale.

Stadsfoto’s geneem deur Pretoria Street Photographers, ‘n groep jong fotograwe, sal in uitstalruimtes wat deur City Property geborg is, te sien wees. En vir diegene wat belangstel in die grootste versameling van ou meesters wat spesifiek oor die stad handel, is daar die City Property-toer op 25 en 26 Oktober wat ‘n gallerybesoek insluit.

Vir meer inligting oor die kunsmeander of om ‘n kaart in die hande te kry, kontak Pieter van Heerden of Nandi Hilliard by die Kunsvereniging op 012 3463100, [email protected]