In die eerste onderhoudepisode van 2019 het Paul Maritz en Daniël Eloff vir Gerhard de Beer saam met hulle in die ateljee waar hulle Maroela Media se podlitiek-onderhoude opneem.

De Beer is ’n professionele Amerikaanse voetbalspeler vir die Green Bay Packers.

In hierdie unieke episode vertel De Beer hoe sy pad geloop het om van matriekseun aan die Afrikaanse Hoër Seunskool te vorder tot professionele voetbalspeler vir die Green Bay Packers in Wisconsin, Amerika. De Beer het met ’n atletiekbeurs die geleentheid gekry om in die VSA te gaan studeer en het ’n BCom-graad verwerf tussendeur sy sportverpligtinge.

Ná universiteit het De Beer vir die Buffalo Bills gespeel en die volgende seisoen het die Green Bay Packers, die suksesvolste span in die National Football League (NFL) se geskiedenis, met hom ʼn kontrak aangegaan om vir hulle te speel. De Beer begin reeds hierdie jaar met sy voorbereiding vir die komende jaar se liga.

De Beer vertel in dié episode hoe hy die VSA beleef en lig ’n paar kultuurverskille tussen Suid-Afrika en Amerika uit. Dit is opmerklik hoe geloof nie slegs (en steeds) ’n belangrike rol in professionele sport in die VSA speel nie, maar vir De Beer in die besonder.

Hy bespreek ook die ooreenkomste en verskille tussen Amerikaanse voetbal en rugby en dié episode beklemtoon hoe genadeloos die wêreld van professionele sport soms kan wees. Die episode is oop en eerlik, en De Beer is nie skaam om te vertel hoe alles nie altyd maanskyn en rose in professionele sport is nie. Op sy selfoon se agtergrondskerm is ʼn aanhaling wat De Beer daagliks daaraan herinner dat sy toekoms in sy eie hande is en dat hy altyd hard sal moet werk om sy doelwitte te bereik.

Luister gerus na hierdie interessante episode oor dié jong Afrikaanse man wat vir homself naam maak in die VSA.

As jy belangstel in die ontwikkeling van Afrikaans as navorsings- en denktaal, dan is hierdie episode perfek vir jou. Podlitiek bring met trots vir jou as luisteraar en leser hierdie unieke langformaat-podsending in die Afrikaanse digitale media. Onthou om Podlitiekop Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

Hierdie inhoud het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.