Ons is sommer baie trots op pas afgestudeerde Atterbury Trust beursstudent Jacques Fourie, wat pas aangewys is as die medewenner van ’n prys vir die beste Innoverende Sake-Idee by die Entrepreneurship Development in Higher Education (EDHE) Intervarsity-kompetisie. Hy het ons meer vertel oor Stu-D-Sure, ’n slim versekerings-produk wat gebore is uit persoonlike nood.

Baie geluk met die toekenning! Jy en jou medewenner het pas julle finale eksamens geskryf, maar julle ken mekaar reeds van skooljare af, reg?
Baie dankie; en ja, ek voltooi my B Stads en Streeksbeplanning-graad, en Marco [Booyse] sy B Com Algemeen-graad dié jaar. Ons het op Menlopark se atletiekbaan bevriend geraak waar ons in die 800m teen mekaar meegeding het. Ek het in 2012 by Menlo se koshuis ingetrek en ons was daar saam vir vier jaar waar ons ’n broederskap ontwikkel het.

Hoe het die idee vir Stu-D-Sure ontstaan?
Albei van ons het al ’n module herhaal, en het dan die finansiële stres ervaar wat daarmee gepaard gaan om weer vir ’n vak te moet betaal. Om ’n module of twee te druip, is ’n realiteit vir baie studente; ons ken só baie met wie dit gebeur. En dis daarom dat Stu-D-sure gebore is – ’n oplossing wat die onkoste, of minstens ’n gedeelte van die onkoste van die herhaalde module te kan dra.

Presies wat is die produk, en hoe werk dit?
Stu-D-Sure is ’n versekeringsprogram waarby studente hul studiemodules kan verseker, wat dan uitbetaal as ’n student ’n module moet herhaal en weer moet betaal om hul studies voort te sit. Dit betaal minstens ’n gedeelte van die koste en bring verligting aan studente uit weerlose en behoeftige gemeenskappe wat werklik sukkel met die finansiële druk van studiekostes. Die idee is nog in konsepfase, so ons werk nog aan die fynere besonderhede, maar daar sal ’n vorm van ’n bonus of beloning wees as die student die versekerde module deurkom; waarskynlik ’n eenmalige uitbetaling.

Het julle by groot versekeringmaatskappye gaan kers opsteek met julle idee? Hoe keer mens dat so ’n slim idee nie gesteel word nie?
Ons is tans besig om met verskeie groot versekeringsmaatskappye te gesels oor die produk met die hoop dat ons in vennootskap kan tree. Dit was aanvanklik vir ons ’n groot bekommernis dat ’n maatskappy die idee mag neem en as hul eie gebruik, omdat so ’n versekeringsproduk nie gepatenteer kan word nie. Ons het egter vinnig agtergekom dat groot versekeringsmaatskappye alreeds baie op hul “tafel” het en dat hul heel waarskynlik nie so ’n nis-mark op hul eie sal betree nie, maar wel dalk sal belangstel in ’n aandeel. Die kommersiële en motorversekeringsmark is enorm en sal in meeste gevalle vir hul die prioriteit bly. Ons doel tot dusver toe was om met soveel as moontlik mense/maatskappye oor die konsep te gesels en alle mentorskap en ondersteuning soos ’n spons te absorbeer.

Het julle al bepaal wat die produk sal kos?
Al die berekeninge is nou nog net verlopig, maar soos dit tans lyk sal die premie tussen 2% en 3% van die totale modulekoste wees. So byvoorbeeld, vir ’n module wat R4 000 kos sal die maandelikse premie ongeveer R80 per maand wees. Ons marknavorsing het getoon dat 60% van die 4 000 studente wat deelgeneem het, bereid sal wees om tot R99 te betaal vir so ’n versekeringsproduk.

Vertel ons meer omtrent die EDHE prys wat julle gewen het – presies wat behels die kompetisie en teen hoeveel ander inskrywings het julle meegeding?
Die EDHE intervarsity-kompetisie was ’n ongelooflike ervaring en die blootstelling wat ons deur die proses ontvang het was, en is nog steeds, oorweldigend.  Om na al die studente-entrepreneurs se idees en bestaande besighede te luister het my nuwe hoop gegee vir Suid-Afrika se toekoms. Daar is geweldig baie talent, ambisie en entoesiasme onder die jeug van ons land. Daar het om en by 4 000 studente van 26 universiteite ingeskryf vir die kompetisie, waarvan meer as 1 900 studente vir ons kategorie (Nuwe Innoverende Sake-Idee) ingeskryf het. Die kompetise was verdeel in vier rondtes: ’n keuringsproses, ’n interne rondte vir studente van die onderskeie universiteite (ons was deel van die groep by die Universiteit van Pretoria), ’n streeks rondte en laastens die nasionale intervarsity-finaal. Ons het as wenners van ons kategorie uit die stryd getree en het ’n R20 000 kontantprys en ’n R10 000 bemarkingspakket gewen.

Wat wil julle met Stu-D-Sure bereik?
Ons leef in so ’n ongelyke samelewing waar mense net eenvoudig nie almal dieselfde kanse het nie, en ons hoop dat hierdie produk ’n wesenlike verskil kan maak om daardie ongelykheid minstens op studievlak uit te wis. Huidiglik het net 7% van Suid Afrikaners enige vorm van tersiêre kwalifikasies. Stu-D-sure beoog om werklik ’n impak te hê op die aantal studente wat ’n kursus voltooi. Ons weet uit ons eie ervaring dat die lewe jou soms ’n streep trek, maar dit behoort nie ’n student sy kans op ’n voorspoedige toekoms te kos nie. Ons hoop dat Stu-D-Sure ook studente sal motiveer om nie so maklik handdoek in te gooi met ’n moeilike kursus nie, omdat hulle weet hulle is finansiëel gedek om ’n vak of twee te herhaal indien nodig.

Wat is die volgende stappe? Wanneer hoop julle om dit vir die mark reg te hê?
Die volgende stappe vir Stu-D-sure is om die nodige data van verskeie universiteite te versamel, ’n versekeringsmodel te ontwikkel in samewerking met aktuarisse en by ’n versekeringssel aan te sluit.  Na afloop hiervan, gaan ons ook aansoek moet doen vir ’n FSP-lisensie. As alles vlot verloop, beoog ons om die mark teen Januarie 2022 te betree.

En wat is julle planne vir 2021 – nog studeer, of nou voltyds entrepreneur?
Vir nou is ons eers klaar gestudeer. Ons beoog egter om in in die nabye toekoms ’n kort-termyn versekeringskursus te voltooi.

Marco werk tans by ’n makelaarsfirma en ek is op soek na werk vir 2021…. Ek geniet stads- en streeksbeplanning baie en sal definitief in die bedryf wil werk terwyl ons Stu-D-Sure op die been kry.

Ek is opreg dankbaar teenoor die Atterbury Trust wat dit vir my moontlik gemaak het om te kon studeer. En so hoop ek ook om in die toekoms ’n verskil in ander studente se lewens te maak.

Atterbury Trust het twee dekades se ervaring in die administreer van ons studiebeursfonds; en danksy die groothartigheid en diep sakke van ons baie gewaardeerde skenkers kan ons meer talentvolle studente soos Jacques die kans gee om hul potensiaal te vervul. As jy wil bydra, kliek hier vir meer inligting.