Ons beurshouers is ’n klomp slimkoppe wat die kanse wat hulle kry met albei hande aangryp. Ons het gesels met twee van hulle wat nou graad vang, maar besluit het hulle is nog nie klaar met akademie nie!

 

Danielle de BruynDanielle de Bruyn is 22, en bly nog haar hele lewe in Pretoria. Sy het pas ’n LLB aan die Universiteit van Pretoria verwerf

Hoe het jy destyds van die Atterbury beurs gehoor?
My ouers het by vriende van hulle gehoor oor die goeie werk wat Atterbury onder die studente doen.

Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was, en hoe lyk daardie prentjie nou?
Ek was een van daai kinders wat elke week iets anders wou word! Ek was so in hoërskool ook. In Graad 11 het ek nog elke week huis toe gekom en met opgewondenheid my familie vertel wat ek gaan swot, maar die volgende week weer iets anders besluit. Dit was eers in middel Graad 11 wat ek die voorreg gekry het om ’n advokaat te “job shadow”, toe ek besluit het dit is DEFINITIEF wat ek vir die res van my lewe wil doen. Dit is hoe ek God se Woord wil uitleef en verkondig.

Wat is jou planne vir die vakansie?
Ek gaan saam my ou en sy familie op ’n Afrikatoer saam met ’n klomp ander families vir drie weke.

En wat doen jy volgende jaar?
Ek het besluit ek is so lief vir swot (ek is waarlik so effens verslaaf) dat ek graag volgende jaar my LLM (Meesters in Reg) wil doen by Tukkies. Ek gaan dus ’n navorsingsmeesters in Mediese Reg doen. Ek is so opgewonde!

Wat dink jy gaan jy die meeste mis van universiteitslewe?
Ek dink nie ek is al gereed om enigiets te mis nie, so ek bly maar nog so bietjie langer!

 

Richard Fonseca squareRichard Fonseca is 21 en het in Springs aan die Oosrand grootgeword. Hy woon die afgelope drie jaar in Potchefstroom, waar hy pas sy BCom in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap verwerf het.

Hoe het jy oorspronklik van die Atterburybeurs gehoor?
Al het my pa net die een kind gemaak, sou dit altyd moeilik gewees het om my varsity toe te stuur. Maar as ’n gesin het ons nooit moed opgegee nie en ons het geweet dat ’n bietjie finansiële hulp die droom sou kon laat waar word. Ek moet my ma die krediet gee – sy was altyd aan die uitkyk vir moontlike beurse en maniere om ons gesin finansieël te help. Sy het van die Atterbury Trust gehoor deur ’n kollega, en na ’n paar oproepe het ons ’n vergadering met Louise Viljoen en Zahn Hulme gehad. Hulle het geglo dat ek my graad sou kry en so ver het ek hulle nog nie teleurgestel nie!

Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was, en hoe lyk daardie prentjie nou?
Ek het altyd gedroom daarvan om ’n Formule Een resiesjaer te word! Dis steeds een van my grootste passies. Hoewel ek besef dat die droom waarskynlik nooit gaan waar word nie, het ek tog ’n ooreenkoms met my pa. Ek het hom belowe dat ons eendag saam na die Monaco Grand Prix toe sal gaan – geen vroue toegelaat nie, net pa en seun (hy is ook ‘n groot F1 aanhanger). So as ’n gebaar om dankie te sê vir my pa vir alles wat hy opgeoffer het om my op universiteit te kry, wil ek ons lewenslange droom om ’n Monaco Grand Prix by te woon ’n werklikheid maak. Om uit te vind hoekom ek ’n geoktrooieerde rekenmeester wou word, moet ons teruggaan na Graad 10. Ek was seker daarvan dat ek eendag ’n dokter sou word. Tot ek die dag my Biologiepunte gekry het aan die einde van Graad 10. Ek het besef ek is nie uitgeknip om ’n dokter te word nie, en my beste vak in daardie stadium was Rekeningkunde. In ’n gesprek met my onderwyser oor wat ek met Rekeningkunde kon doen het ek vir die eerste keer die woorde “geoktrooieerde rekenmeester” gehoor. Net daar is ’n nuwe droom gebore – effens anders maar steeds ’n omgewing waar ek das en baadjie kon dra, so ek was gelukkig. Ek het eers later gehoor van al die wonderlike geleenthede vir geoktrooieerde rekenmeesters en hoe mense in dié beroep dikwels sakeleiers word, en dit het my gelukkig gemaak oor die pad wat ek gekies het. Ek voel ook dat dit soort van in my bloed is, want my oorlede oupa was ook ’n rekenmeester. Ek weet hy sou nou baie trots gewees het op my wat in sy voetspore loop.

Wat is jou vakansieplanne?
Ek kan nie by die huis sit en niks doen nie; albei my ouers werk die hele Desember so ek sal alleen by die huis wees. So ek het my CV rondgestuur en aansoek gedoen vir vakansiewerk. Ek weet nog nie presies wat ek gaan doen nie, maar dit maak nie regtig saak nie – ek is jonk en gretig om soveel moontlik te leer! My ander doelwit vir die vakansie is om fiks te bly – ek wil deelneem aan ’n 21km marathon voor die vakansie oor is. Ek glo fiksheid is baie belangrik en is ’n fantastiese manier om jou kop nugter te hou! My pa is gebore in Portugal en dus is ek ook Portugees, iets waarop ek baie trots is. Maar my taalvermoëns is maar sleg, so ek wil probeer om hierdie vakansie ook ’n bietjie Portugees te leer.

Wat doen jy volgende jaar?
2015 gaan seker een van my grootste uitdagings nog wees. My rug is teen die muur want ek het baie skuld om af te betaal wanneer ek klaar is met my studies en daar is baie mense wat op my staatmaak om volgende jaar klaar te maak. Maar vir my is dit die bes moontlike posisie om in te wees, want ek floreer onder positiewe druk! Ek weet ek het hierdie een kans in die lewe en ek gaan alles doen wat ek kan om my honneurs volgende jaar te voltooi. Ek weet wel dat ek dit nie alleen kan doen nie, dat ek God nodig het om elke tree saam met my te gee. So met Hom in my hoekie gaan ek baklei en alles insit in 2015.

Wat dink jy gaan jy die meeste mis van universiteitslewe?
Wel, ek raak nou effens oud en ek wil regtig begin om onafhanklik te voel. Ek voel sleg om vir my ouers te vra vir geld want ek weet ons het dit nie breed nie. Ek kan nie wag om klaar te swot en my eie onafhanklike lewe te begin nie. Maar ek weet al klaar hoe baie ek my vriende sal mis. Hulle is meer as vriende, hulle is die broers wat ek nie as kind gehad het nie. Ons het drie jaar saam in die koshuis gewoon en dit was beslis die beste drie jaar van my lewe. Ek het herinneringe wat vir ewig sal hou en vriende wat ek vir die res van my lewe sal hê.