Nuwe uitdaginge, verwagtinge, studies en eie kos kook. Geen skoolklokke, en nou jou eie verantwoordelikheid… wat verwag Atterbury se nuwe beursstudente van die jaar wat voorlê?

Twintigjarige Rikus Boshoff moes ’n jaar wag om te begin studeer want sy ma kon nie bekostig om hom universiteit toe te stuur nie. Met die hulp van ‘n Atterbury Trustbeurs is die 20-jarige boorling van Potgietersrus nou gestewel en gespoor om sy eerste jaar LLB by PUK aan te pak.

Wat het jy toe die jaar na matriek gedoen?
Ek het in 2013 matriek geskryf, en vir twee beurse aansoek gedoen. Ek het die een gekry, maar hulle terugbetaling skedule was net te taai so ek kon dit nie aanvaar nie. Toe het ek maar werk gesoek, want dit help nou nie om in sak en as te sit nie. Ek het allerhande goed gedoen, onder andere vir ’n loodgieter gewerk, en so vroeg moontlik begin aansoek doen vir beurse. Gelukkig het Atterbury Trust tot die redding gekom, want die jaar was regtig nie vir my lekker nie. Ek wou so graag eerder besig wees met studies.

Hoe het jy van die Atterbury Trust-beurs te hore gekom?
My niggie het ’n Atterbury beurs gehad so sy was my kontakpunt.

Het jy ‘n ouer broer of suster op universiteit wat jou bietjie kan touwys maak? 
My sussie swot op Tuks, so sy is nie naby nie, maar ek het darem ’n paar vriende wat al ‘n jaar of wat hier is, so hulle sal my kan wys wat gaan vir wat.

Dink jy jy gaan koshuislewe geniet? Gaan jy jou ma se kos mis? 
Ek het reeds ingetrek in ‘n kommune saam met drie ander ouens. Mens moet maar aanpas en leer om om ‘n kombuis en ’n badkamer te deel en die ander te akkommodeer. Ons het darem twee keer ’n week ‘n skoonmaker om te sorg dinge bly binne beheer! En ja ek sal my ma se kos mis, want nou moet ek myself voer. Ek kan darem ‘n eier bak, en ek hou nogal daarvan om te probeer om disse wat ek al geëet het self te maak.

Waarna sien jy die meeste uit wat studentelewe betref?
Die leer en die vryheid en die kans om myself bietjie te geniet – as jy wil braai kan jy braai, jy hoef niemand te vra nie! Ek is nie ‘n stadsmens nie, en Potch is nog ’n dorp, maar dit het ’n hartklop… Hier is iets tussen die studente wat baie spesiaal is, jy kan uitgaan en niemand gee jou moeilikheid nie. Dis vir my beter as wat ‘n kampus in ’n stad ooit kan wees.

En wat verwag jy gaan die grootste uitdaging wees?
Ek was ’n hele jaar uit die leerproses, en ek moet nou weer daarin kom. Dit gaan nogal ‘n taai een wees…

Wat beteken die Atterbury Trust-beurs vir jou?
As dit nie vir julle beurs was nie sou ek nie nou hier gewees het nie. Danksy die beurs kan ek bou aan my toekoms. Ek voel as mens later terugkyk op jou lewe wil jy sien dat jy ‘n verskil kon maak en ek hoop om eendag in daardie posisie te wees.

IMG_0751

Altus Bisschoff 
Altus is 19 en het verlede jaar by Hoërskool Menlopark gematrikuleer, met nie minder nie as nege onderskeidings! Die slimkop is by Tukkies aanvaar en is vanjaar ‘n eerstejaar meganiese ingenieurswese-student.

Hoe het jy van die Atterbury Trust-beurs te hore gekom?
Mnr Louis van der Watt het my daarvan vertel nadat ons ’n vergadering gehad het oor ‘n moontlike besigheid wat ons kon begin.

Het jy ‘n ouer broer of suster op universiteit wat jou bietjie kan touwys maak? 
Ek is die oudste van twee, ek het ‘n jonger suster. Dus pak ek die universiteitslewe manalleen aan!

Gaan jy in ‘n koshuis woon? Hoe voel jy daaroor? 
Ek is reeds in die koshuis. Ek is ‘n inwoner van die Sonop Christelike Tehuis. Ek is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê en ek twyfel selfs of ek my ma se kos gaan mis, aangesien die Nonnies (matrones) by Sonop heerlike kos maak!

Waarna sien jy die meeste uit wat studentelewe betref?
Die koshuislewe en al die aktiwiteite wat daarmee gepaardgaan!

En wat verwag jy gaan die grootste uitdaging wees?
Beslis om akademie altyd eerste te stel ten spyte van al die ander aktiwiteite wat die studentelewe bied.

Wat beteken die Atterbury Trust-beurs vir jou?
Die Atterbury-beurs gee my die kans om te gaan swot en my droom na te streef. Sonder hierdie hulp van die beurs sou my droom nie verwesenlik kon word nie.

Hoërskool Menlopark webtuiste: menlopark.co.za