Bolandse nooientjie Lené van Heerden wen gereeld pryse vir haar kreatiwiteit… sy het selfs in 2015 haar Atterburybeurs in VivA-Afrikaans se skole-idioomkompetisie losgeslaan met een van haar 28 inskrywings! En as ’n tweedejaarstudent in multimedia-ontwerp by Stellenbosch Akademie van Ontwerp en Fotografie het sy pas weer ’n grote losgeslaan…

Vertel ons bietjie meer van jou agtergrond?
Ek het grootgeword en skoolgegaan in Swellendam. Ek was daar vir die eerste 18 jaar van my lewe, en hoewel dit baie spesiaal was, is dit steeds niks in vergelyking met Stellenbosch nie! Ek bly nou in ‘n woonstel saam met ‘n pel van my kinderjare. Ek het van Graad 3 af geweet presies wat ek wou swot en het nooit weer daarin getwyfel nie. Ek is een van vier dogters. Al my susters is ook kunstig, maar op verskillende maniere; musikaal, digter en binnenshuise ontwerper. Dis maklik vir my om my werk te doen en te geniet wanneer hulle my omring en my ouers my ondersteun. (In my opinie ooh en aah my ouers bietjie te veel.)

Watter van daardie 28 inskrywings in VivA Afrikaans se skole-idioomkompetisie was jou gunsteling? Het jy gedink die een wat op die ou end die beurs losgeslaan het, was die beste een?
Nee, dit was nie! My gunsteling was die Elsabé Zietsman een (“Met jou hoed in die hand kom jy deur die hele land.”) Dit was lekker om van haar kant af te hoor wat sy daarvan gedink het en ook hoe ander mense dit waardeer het. Dit het klomp verskillende aspekte van Suid-Afrika en die Afrikaanse kultuur uitgebeeld, waarop ek trots is.

En onlangs het jy ’n lekker kontantprys van R10 000 gewen vir ’n muurskildery. Vertel ons meer?
Die kompetisie is deur die Flanders Institute of Art geborg en aangebied deur SAMCCSA (Street Art Meets Climate Change South Africa.) Die tema was die ernstige onderwerp van klimaatsverandering. Ek het besluit om dit regtig eenvoudig te hou want met iets soos klimaatsverandering kan jy nie draaie loop nie. Ek wou deur my werk wys dat dit nou hier is en dat ons nou iets daaraan moet doen. Ek het gekyk na die drie verskillende omgewings waarin aardverwarming plaasvind en ons lewens affekteer, en daarvan illustrasies gemaak. Lug, aarde en water het dalk elk hulle eie bedreigings en battles, maar alles bou op mekaar. Hierdie kompetisie was vir my belangrik, want ek wil graag vir mense wys dat ontwerp oor meer gaan as net om dinge mooi te laat lyk – ontwerpers het ‘n verantwoordelikheid om met bewustheid te ontwerp en hulle het ook die mag om soveel mense se vorm van denke te beïnvloed.

Wat wou jy word toe jy klein was? Het jy altyd prentjies geteken, of hoe het jou kunssinnigheid uiting gekry van kleinsaf?
Toe ek baie klein was, wou ek ‘n dominee word soos my pa. Hy was baie bly oor my keuse. Ek ontdek toe vingerverf en het tot en met Graad 3 gereken ek sal ‘n sendeling word wat skilderye vir arm mense verf! Dis die enigste werk wat ek kon uitdink wat hom steeds sou bly maak en terselfdertyd my passie sou insluit (ek besef nou hoe belaglik dit was!). In ons familie word sportprestasies nie regtig gevier nie, maar wanneer dit kom by die kunste was dit alles. Ek het toe ek jonger was vir my ma stories geskryf met illustrasies by – sy het my sterk gemotiveer. My ouers het my altyd aangemoedig om te sit en teken; hulle moes iets in my raakgesien het… óf dit, óf dit was die enigste manier om my stil te maak!

Hoekom het jy spesifiek multimedia-ontwerp gekies, en nie bv skone kunste of grafiese ontwerp nie?
Ek het dit gekies omdat dit so divers is – dit sluit dinge in soos applikasie-ontwerp, animasie, webtuiste-ontwerp, speletjie-ontwerp, film, advertensiewese en nog baie meer. Ek is besig om soveel te leer oor so ‘n wye verskeidenheid rigtings dat daar meer aanvraag na my dienste sal wees as iemand wat gespesialiseer het. Multimedia gaan ook al hoe belangriker raak want die toekoms is digitaal, en hierdie kennis sal ons soontoe neem.

As jy aan enige veldtog met enige handelsmerk in die wêreld kon werk as ontwerper, watter een sou dit wees en hoekom?
As ’n ontwerper is daar vele handelsmerke waaraan ek graag sou wou werk – Vogue, Pixar, Coca-Cola om maar ‘n paar te noem. Maar as ‘n verantwoordelike ontwerper sal ek eerder vir ‘n besigheid soos Hand in Hand werk. Dit is ‘n skoonheidsbesigheid wat met elke produk wat gekoop word, skoon water en seep skenk aan ‘n behoeftige kind. Hulle doel is om kinders meer “mens” te maak voel en om te verseker dat hulle ‘n meer higiëniese lewe leef.

Het jy iemand wat jy as jou mentor sien? Hoe help hierdie persoon jou?
My dosent, Daniela De Lange. Sy is absoluut fantasties. Dis nie dat sy spesifiek op my fokus nie, maar haar teenwoordigheid alleen maak my opgewonde oor ontwerp en motiveer my om altyd beter te wil wees. Haar insette is so gepas en dra altyd by tot die verbetering van my werk. Sy motiveer my om deel te neem aan kompetisies en om myself in die wêreld bekend te stel, en doen moeite om my voor te berei vir die “realiteit” van die onwerpbedryf. Sy skep ‘n atmosfeer waarin jy regtig gemaklik voel met wie jy is, wat jy bied en die persoonlike styl waarna jy streef. Sy is so ongelooflik talentvol en haar persoonlike werk inspireer my ook baie. Ek sal baie, baie gelukkig wees as ek eendag my talent so goed soos sy kan gebruik. Ontwerp is so ‘n ongelooflike groot deel van my; dis my lewe. Sy vorm en slyp daai belangrike gedeelte van my – dit het ‘n enorme impak op my.

Wat is die mees waardevolle les wat jou ouers of enige ouer persoon jou geleer het?
My ouers het my geleer dat ek baie van die goed wat ek in die lewe moet doen, gaan haat en dat ek nog meer waarskynlik in baie daarvan gaan sleg wees. Daar wag soveel mislukkings vir my – en dis fantasties! Dit is so maklik vir my om in iets sleg te wees, want ek weet ek leer so baie daaruit en dat ek net gaan aanhou verbeter. My werk-etiek kry ek van my ma af. Ek kan nie take inhandig of werk wys waarop ek nie trots is nie en daarom sal ek baie aande deurnag werk, nie vir ander nie, maar vir myself. Ek moet trots en gelukkig wees met die werk wat ek doen en die dinge wat ek ander bied.

Wat was die moeilikste besluit wat jy al in jou lewe moes neem?
Ek is ontsaglik bevoorreg dat my moeilikste besluit was oor waar ek sou gaan swot. My ouers het altyd seker gemaak dat ek nie oor enigiets behalwe my skoolwerk en skottelgoed moet stres nie. Ek het twee keuses gehad: 1. Potchefstroom (ver maar goedkoop) of 2. Stellenbosch (naby maar duur.) Ek kon dit nie regkry om weg van my ouers en my ou te trek nie!

Watter ontwerp-projek vanjaar sover het jy die meeste geniet?
Ek het vir die eerste vyf maande van die jaar aan ‘n animasie gewerk. Ek het dit verskriklik baie geniet, juis omdat dat ek geweet het ander mense gaan genot kry deur na my projek te kyk. Dis nie ‘n fantastiese animasie nie, maar ek het so baie daaruit geleer! Dit het lank gevat om by die eindresultaat uit te kom, daarom is ek nog meer sentimenteel daaroor…

Waar hoop jy om oor 10 jaar in jou beroep te wees? Wat is jou droom?|
Ek sal graag my eie ateljee besit met ‘n verskeidenheid van ander ontwerpers. My droom is om in Nederland en die Skandinawiese lande te gaan werk om ondervinding op te doen wat ek dan in Suid-Afrika kan kom toepas. Ek sal ook glad nie omgee om by ‘n animasie-ateljee soos Pixar of Dreamworks te werk nie!

Wat beteken die Atterburybeurs vir jou – wat is jou boodskap vir al die potensiële skenkers daar buite wat dalk hierdie onderhoud lees: hoekom moet hulle ‘n donasie maak aan die beursfonds?
Atterbury het dit aansienlik makliker vir my gemaak om verder te gaan studeer. As dit nie vir hulle was nie sou ek nie kon bekostig om hier in Stellenbosch te swot nie. Hulle is besig om in my toekoms te belê – nie net finansieël nie maar ook emosioneel. Hulle ondersteuning en betrokkenheid beteken alles vir my. Ek is ontsaglik dankbaar vir die kanse wat Atterbury my bied en die deure wat hulle oopmaak. Hulle help vorm aan wie ek besig is om te word.

Help ons met ’n donasie om nog talentvolle jongmense soos Lené te ondersteun, en jy sal ’n belastingsertifikaat daarvoor ontvang. Die volgende generasie is ons land se toekoms; ons verwelkom al ons vriende en vennote om saam met ons in hierdie wonderlike hulpbron te belê. Skenk hier