“Lewende groen graffiti”

Aangepas uit Beeld se Cool Capital bylae, 26 Augustus. Mosverf resep deur Bianca Potgieter via Visi

Die kunstenaar Bianca Potgieter verfraai Pretoria op ‘n unieke manier… sy gebruik mos as groen graffiti!

Graffiti word dikwels gebruik om vervalle dele van ‘n stad op te helder, maar waar verf nie altyd so omgewingsvriendelik is nie, is mos-graffiti eko-vriendelik, goedkoop en dwarsdeur die jaar mooi.

Die “Ek is mos van Pretoria” is ‘n unieke inisiatief wat mos-graffiti bekendstel. Hierdie groen graffiti vervang spuitverf en ander skadelike chemiese verfmiddels, en verfraai die stad, of enige buiteoppervlak, met ‘n “mosverf” wat maklik is om te maak en vanself groei. Die hoofdoel van die inisiatief is om ‘n groener stad te skep en ‘n omgewingsvriendelike leefstyl aan te moedig.

Daar is verskeie mosgraffiti-kunswerke dwarsdeur die stad aangebring met onder andere tipografiese kuns wat die woorde “Ek ❤ mos Pretoria” en “Ek is mos van Pretoria” insluit.

Die idee is om ‘n liefde vir die stad aan te moedig en om die inwoners aan te moedig om self die stad groen te verf . ‘n Klein idee kan tot ‘n yslike tendens ontwikkel wat uiteindelik mense se leefstyl kan verander en kan lei tot ‘n groen hoofstad.

Die Cool Capital webwerf het onder die “Press” afdeling ‘n infografiek uit Visi wat presies wys hoe om jou eie mosverf te maak, en dis een-twee-drie! Kom ons verf die stad groen!

MOSVERF-RESEP

2 koppies mos (was die grond uit die wortels)

2 koppies joghurt of karringmelk

2 koppies water of bier

1/2t suiker

Meng al die bestanddele saam in ‘n menger/versapper. Skink die mengsel in ‘n houer. Dis jou mosverf

MAAK MOSKUNS

Kies ‘n muur wat ‘n matige hoeveelheid sonlig kry. Met ‘n gewone verfkwas, verf jou mosverf in die patroon van jou keuse teen die muur. Hou dit klam deur dit gereeld met ‘n sproeibottel nat te sprinkel, en siedaar, kyk hoe jou groen kuns groei! Mos neem ongeveer ses weke om te groei.

Volg @AtterburyTrust op Twitter en twiet foto’s van jou mosskilderye en mosgraffiti met #AtterburyWilMos.