In ons onlangse geskiedenis was daar nie nóg ’n tyd toe gekwalifiseerde gesondheidswerkers meer belangrik was as die huidige Covid-19 era nie. Twee van Atterbury Trust se beursstudente wat pas hul gemeenskapsjaar as verpleegsters afgehandel het, het vandeesmaand by Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria voltyds begin werk. Ons het met Adelei Geldenhuys en Lize Candido gesels oor hul roeping.

 

Julle het saam by Noordwes Universiteit gegradueer in 2019 – waar het julle toe jul gemeenskapsdiensjaar gedoen?
Lize Candido: Ek was by King Edward VIII Hospitaal in Durban, KZN.
Adelei Geldenhuys: En ek in die Wes-Kaap by Victoria Hospitaal.

Om jou opleiding af te rond gedurende 2020, midde in ’n ongekende pandemie, moes baie uitdagend gewees het. As julle terugdink aan hierdie tyd, wat is die een storie wat julle vir mense oor julle ervaring vertel?
Lize: Dit was ’n ongelooflike jaar! Dit was verskriklik moeilik om so ver van al my mense te wees en hulle nooit te kan sien tydens die inperkings nie, maar die ervaring wat ek gekry het in King Edward sal ek nie vir die wêreld ruil nie! Ek is omtrent aan die diepkant ingegooi en moes vinnig leer om sterk te swem…
Adelei: Ek het in die forensiese saal gewerk by ons hospitaal, en hoewel ons nie baie te doen gekry het met Covid-19 nie, het ek ’n ander pandemie beleef. Ek het gewerk met pasiënte wat opgeneem is weens geslagsgebaseerde geweld, kinders wat verwyder moes word van hulle ouers weens slegte omstandighede, en so aan. Ek het nooit geweet hoe erg dit werklik in ons land gaan nie. Ons het duisende vrouens, kinders en soms mans gehelp om by ’n veilige hawe uit te kom. My hart was elke dag so seer om mense te sien wat vir so lank stilgebly het oor geweld uit vrees en omdat hulle nie weet waar om hulp te kry nie. En dan was dit besonders om te ervaar hoe baie ’n glimlag en iemand wat werklik omgee vir sulke pasiënte beteken.

Wou julle albei van kleins af verpleeg of hoe het julle by hierdie beroep – of roeping – uitgekom?
Lize: Ek was van kleins af geïnteresseerd in die mediese veld, maar was onseker oor presies waar ek wou wees! Nou kan ek met ’n eerlike hart sê dat ek so gelukkig is in my veld; en so bly ek kon hier uitkom! Ek is geseënd om te kan weet ek het my roeping gevind.
Adelei: Ek wou van kleins af graag lewens red – as ’n gogga byvoorbeeld in die water geval het, het ek probeer om hom terug lewe toe te help, al het dit nooit gewerk nie; en ek het “operasies” gedoen op klein diertjies wat in die swembad geval en verdrink het, om die doodsoorsaak te probeer bepaal. Ek het ook altyd geweet ek wil iets in medies doen; ek wil daar wees vir dié wat nie hulself kan help nie. Verpleegkunde het opgeduik toe ons moes omsien na my ouma. Ek het gaan “shadow” by ’n hospitaal en onmiddelik het ek geweet dit is waar die Here my wil hê.

Is dit lekker om saam met een van jou ou klasmaats en mede-Trustfamilielid te werk? Het julle geweet dit gaan so gebeur of was dit ’n verrassing?
Lize: Nee, ek’t nie geweet ons gaan saam werk nie. Ek is reeds hier, en ek glo dit gaan baie lekker wees as Adelei in Februarie by ons aansluit!
Adelei: Dit was beslis ’n verrassing, want nie een van ons het geweet die ander een het ’n pos gekry nie. Ek dink dit maak dinge beslis bietjie makliker om iemand wat jy ken te kan sien by die werk, veral terwyl alles nog so nuut en onbekend is.

Is dit enigsins vir julle anders noudat julle volledig gekwalifiseer is?
Lize: Nee, nie rêrig nie, my hart is nog steeds hier vir die regte rede – my pasiënte!
Adelei:  Ek voel tog in ’n mate so, ja, want ek glo die verantwoordelikheid is nou selfs groter as toe mens ’n gemeenskapsjaar-verpleegster was.  Ek sien regtig uit na die ekstra verantwoordelikheid noudat mens nie meer gesien word as ’n student nie, maar as ’n suster in die saal.

Wat het die Atterbury Trust-beurs vir julle beteken, en hoekom sou julle mense aanmoedig om skenkings aan die beursfonds te maak?
Lize: Ek is so, so dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het deur Atterbury Trust se beurslening. Sonder Atterbury se hulp sou ek nie my studies kon voltooi nie; dit het werklik die onmoontlike vir my moontlik gemaak! En toe stel die Trust my boonop voor aan ZAH en nou is ek deel van die ZAH-familie! Regtig, as enigiemand in ’n posisie is om ’n skenking aan Atterbury Trust te maak, weet dat jy ’n student se lewe hiermee verander; jy kan iemand se wildste drome help waar maak.
Adelei: Sonder Atterbury Trust se beurs sou ek ook nie kon wees waar ek vandag is nie. Die Trust het dit vir my moontlik gemaak om my passie verder te vat. Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid en ek kan nie genoeg dankie sê nie. Wat donasies aan die beursfonds betref , as iemand kan skenk, doen dit asseblief. Net soos ek, is daar baie ander studente want net hoop vir een kans om hulle toekoms te kan bou, net daardie een kans om ’n beter lewe te bou, vir jouself en jou toekomstige gesin. As ’n jongmens is daar soveel stres oor die toekoms en finansies, en die kans om te kan studeer en te weet finansieël is alles voorsien is die beste gevoel in die wêreld. Ek wil ook spesiaal dankie sê vir Mnr Dawie Warmenhoven wat op ZAH se raad dien en vir Zahn Hulme van die Atterbury Trust wat die pad saam met my gestap het en my CV aan die begin van Desember direk aan ZAH gestuur het. Dankie ook aan Meneer Robert Jordaan van ZAH vir die vertroue in my.

ZAH het bygedra tot jul studiebeurse; en nou werk julle daar! Hoe ervaar julle die hospitaal, en wat geniet julle die meeste omtrent die werk?
Lize: ZAH is ’n ongelooflike hospitaal! Die werksomstandighede en organisasie is net fantasties, van die verpleegsusters tot die dokters tot die skoonmakers! Elke mens met wie ek hier werk het ’n hart van goud! Dit is so wonderlik om omring te wees deur soveel ongelooflike mense, en te kan sien hoe hulle elke dag pasiënte se lewens verbeter.  Ek sien uit om van almal te leer; en kan sien dat ek hier kan groei.
Adelei: Vandat ek die eerste keer gehoor het van ZAH het ek navorsing gedoen en was so opgewonde om moontlik te kon deel wees van so ’n wonderlike hospitaal wat net aanhou groei en groei. Die personeel (van sekuriteitsman tot hoofbestuur) laat my so welkom voel en by ZAH weet ek dat ek sal kan groei tot die beste verpleegster wat ek kan wees. Hulle bied soveel kanse om te groei in jou beroep, iets wat jy nie baie by ander hospitale kry nie.

Adelei is boonop verlede jaar aangewys as die wenner van NWU se Adcock Ingrams wisseltrofee vir die mees toegewyde verpleegstudent. As jy wil bydra tot die Trust se beursfonds en ’n uitblinkerstudent die kans gee om hul volle potensiaal te bereik, kliek hier om meer uit te vind. Skenkings het belastingvoordele.