Opvoeding is een van die hartspunte van die Atterbury Trust, en behalwe vir ons beursprogram vir studente, probeer ons om ook ’n ogie te hou oor die behoeftige skole in ons omgewing. Dis wonderlik om te kan deel wees van ’n gemeenskap wat omgee vir die kinders wat dit die nodigste het, en ons was trots om te kon help toe Hanna Charity se Pikanini Educare-sentrum in Wolmer onlangs ’n nuwe gebou betrek het. Ons hoor meer by die skoolhoof, Lizal Stander

Hoe lank bestaan Pikanini al, en hoe het dit ontstaan?
Ons is geregistreer as ’n Educare-sentrum, en is deel van die Hanna Charity & Empowerment-organisasie se netwerk – daar is vyf Pikanini’s regoor die land en ons s’n hier in Wolmer bestaan al drie jaar. Elke tak en gebied het sy eie borge. Hier verskaf ons dagsorg aan kindertjies tussen die ouderdom van drie en vyf jaar, en ons rol is om te help, liefde te gee en twee gesonde etes per dag vir die kinders te verskaf. Ons bied die fasiliteite heeltemal gratis vir hulle aan. Ons was tot nou in ’n Wendyhuis tussen agt ander Wendyhuise waar gesinne woon.  Die omstandighede was maar moeilik en nie geskik vir ’n sorgsentrum nie.

En hoe het die nuwe sentrum gebeur?
In April het ’n wonderwerk gebeur –  ons is genader deur ’n borg wat van Pikanini gehoor het, en hy het gesê hy wil help. ’n Groep mense het bymekaar gekom en het tussen hulle die geld ingesamel vir die nuwe Educare-sentrum. Die Here is goed vir ons. Sifuna Ouditeure het van ons gehoor en ons gehelp om in ’n groter asbes-vertrek in te trek. Hulle betaal ook maandeliks ons huur. Die sentrum word letterlik deur die goedgunstigheid van borge aan die gang gehou.

Wat is Atterbury Trust se rol?
Atterbury Trust betaal maandeliks vir my ’n toelaag, waarmee ek sorg dat daar kos en skoonmaakmiddels is, en dat in die basiese behoeftes voorsien word. Hulle ondersteun my baie en ek is so dankbaar.

En hoe het jy betrokke geraak? Hoeveel ander personeel is daar?
Ek het letterlik eendag net opgestaan, na 16 jaar my werk bedank en Hanna-hulle gekontak. Kinders is my passie en die Here help my elke dag in my werk. My rol nou behels dat ek areabestuuder van Wolmer is, asook die skoolhoof van die Educare-sentrum. Ons is drie personeellede wat vir Hanna Charity werk – my twee kollegas is vroue van Wolmer wat deur Hanna Charity se werkskeppingsgeleenthede geidentifiseer is. As areabestuurder is ek in beheer van die biblioteek, ons voedingsprogram – ons voed 1 000 mense in die omgewing – en ek lei ook ’n vrouegroep, Womanhood, waar 30 vroue elke Donderdag bymekaarkom om vaardighede aan te leer. Ons het ook ’n klerebank in Wolmer waar ons klere versamel en gee vir behoeftige mense wat dit nodig het. In die oggend is ek by Pikanini tot 1 uur en smiddae help ek die gemeenskap.

Hoeveel kindertjies kom tans na die sentrum? Wat kan jy ons van hulle as ’n groep vertel?
Ons het tans 25 kindertjies. Die meeste van hulle leef in die slegste omstandighede denkbaar, huis vir hulle is dikwels ’n Wendyhuisie sonder krag of water. Baie van die kinders kry geen ander kos as dit wat ons vir hulle by Pikanini kan gee nie, en hulle behoefte aan liefde, aandag en drukkies is só groot. Ons volg ’n formele program wat spesifiek vir ons ontwikkel is deur Child Milestone Programmes (ChiMPs).

Hoe betrokke is die ouers? En die res van die gemeenskap?
Ek maak ouers betrokke deur hul te vra om te help by Pikanini – deur te help skoonmaak by die sentrum, die biblioteek, die klerebank en ook met die uitdeel van kos. Daar is baie sosiale probleme en euwels in die gemeenskap van Wolmer, die mense kry swaar en hul lewens is nie baie gesond nie. Maar ons oordeel nie, ek is hier om mense te help.

Wat is die grootste behoefte onder die kindertjies? As mense wil help en dalk iets wil skenk, wat sal die welkomste wees?
Finansiële hulp maak altyd ’n verskil, enige bedrag is welkom om die lopende uitgawes te dek. Kos is altyd die grootste behoefte, en skryfbehoeftes soos verf, papier, potlode en kryt is altyd nodig. O, en iets wat regtig ’n groot droom is, maar wat baie duur is, is ’n printer en ink.  Ek rol baie af en maak afdrukke vir die Pikanini’s en dis ’n groot deurlopende uitgawe. Maar ek kan enige bydrae gebruik, so mense is welkom om my te kontak as hulle op enige manier wil help.

Waarheen gaan julle kleintjies as hul grootskool-ouderdom bereik?
Ek skryf tans die kindertjies in by laerskole in die omgewing en help maar met klere, skooltasse en skryfbehoeftes.

Wat is jou hoop vir Pikanini; waar hoop jy sal julle oor 10 jaar wees?
Ek hoop regtig dat ons teen dan ook ’n naskoolsentrum vir skoolkinders sal hê, waar ons die basiese hulp en ondersteuning kan bied aan ouer kinders om hulle te help om na ’n beter lewe toe. Die behoefte is ontsettend groot.

As jy graag wil help met ’n donasie van enige aard, of dalk die droom van die drukker kan waar maak, kontak gerus vir Lizal Stander by Hanna Charity & Empowerment Wolmer, 083 236 3855 of [email protected].