Justin vd WaltAtterbury Trust se betrokkenheid as borg van die Akademia Sakeplanprys gee ons toegang tot die mees inspirerende entrepreneurverhale, en Justin van der Walt, 2013 se wenner van die Bestaande Besigheidprys, het omtrent ons verbeelding aangegryp. Sy maatskappy, JUST PCs, bied ’n oplossing vir ’n al hoe groter wordende probleem in Suid-Afrika, soos in die res van die ontwikkelde wêreld… e-rommel.

Duisende ou rekenaars en ander toerusting beland jaarliks in die stoorkamers van groot maatskappye en dis ’n tameletjie om verantwoordelik daarvan ontslae te raak. Dis waar JUST PCs inkom met sy slim herstel-vir-donasie program, wat verlede jaar vir eienaar Justin van der Walt ’n Akademiaprys gewen het en wat selfs erkenning van die Verenigde Nasies gekry het.

Van der Walt het sy onderneming begin nadat ’n baie ernstige motorfietsongeluk op die ouderdom van 16 hom die meeste van die gebruik van sy regterarm gekos het. Sy ma het hom ingeskryf vir ’n rekenaarkursus en sy slim sake-idee is gebore toe hy met hierdie nuwe kennis ’n gaping in die mark gesien het. Hy versamel ou, stukkende toerusting by groot maatskappye, herstel wat hy kan, en gebruik die wins om sy onderneming te bou en ook om terug te ploeg in die gemeenskap. Deur sy herstel-vir-donasie program het hy reeds meer as 1 000 rekenaars geskenk aan nie-vir-winsmaatskappye (liefdadigheid) en skole, wat ook vir die maatskappye wat ou tegnologie skenk belastingvoordele en korporatiewe sosiale verantwoordelikheidskrediete in die sak bring.

Waar het die idee vir die herstel-vir-donasie onderneming vandaan gekom?
Justin van der Walt: Groot maatskappye moet elke drie tot vyf jaar hul tegnologie opgradeer, hoewel baie van hierdie toerusting heeltemal geskik is vir hergebruik. Maatskappye wat van stukkende en ou toestelle wil ontslae raak, kan dit nie net ashoop toe stuur nie, dis onwettig. Daar is ook die bekommernis oor sensitiewe inligting op ou rekenaars wat mense wil uitvee voordat ’n ou rekenaar weggegooi word. Aan die ander kant is daar duisende mense wat nie tegnologie kan bekostig nie, en ek die raakpunte tussen die probleme gesien. Ons beskou dit as ’n groen revolusie, wat op ’n omgewingsvriendelike en sosiaal-verantwoordelike manier oplossings vind vir die die herstel en hergebruik van IT toerusting. Terselfdertyd bou ons brûe oor die digitale kloof.

Hoe het jy by die Akademiaprys uitgekom?
JvdW: Ons het al heelwat pryse gewen: ons was tweede in die SA SMME Award in 2009, tweede in Kaapstad se entrepreneurskompetisie in 2011, ons was ’n finalis in Entrepreneur SA 2013, DHL Rising Star 2013, en toe ook die 2013 Akademiaprys vir Bestaande Besigheid. Ek was in Gauteng op besoek aan my familie en besig om te kyk na die potensiaal om ’n nuwe tak oop te maak, toe ek die advertensie in Pretoria op die radio gehoor het. Die kompetisie het vir my die kans gebied om beter ondervinding te kry vir my sakeplan en ook om aan myself te bewys dat ek reg is vir die volgende stap. Ek het by myself gedink as die beoordeelaars hou van my idee, dan bewys dit vir my dat ek hierdie volgende groot stap moet neem…

Wat het die Akademiaprys behels? Hoeveel prysgeld het jy gewen en hoe het jy dit aangewend?
JvdW: Die grootste aanwins was die beurs wat ek gewen het om verder te studeer. Ek het vanjaar my eerste jaar geslaag van my diploma in kleinsake-bestuur en entrepreneurskap en ek het klaar talle nuwe projekte in my besigheid aangepak wat direk onstaan het vanaf my studies. Ek het ook R75 000 se prysgeld gewen wat ek in my besigheid kon gebruik om nuwe stelsels in te stel wat die bestuur van die onderneming baie vergemaklik. Dan het ek ook ‘n mentor gekry vir ’n jaar wat my kon help met moeilike besluite en vir my idees kon gee in my besigheid.

Hoekom dink jy het juis jou besigheid met die prys weggestap?
JvdW: Die kompetisie was kwaai en almal wat in die finaal was kon die prys gewen het. Ek het weke se harde werk gesit in die skryf van my sakeplan en ek is passievol oor my besigheid en die verskil wat ons maak. Ek dink die beoordelaars het dit raakgesien.

Julle is selfs deur die Verenigde Nasies raakgesien! Vertel ons daarvan.
JvdW: Die VN het my in 2010 gekontak; hulle wou graag kom sien wat ons doen in Suid-Afrika om die groeiende e-skroot probleem aan te pak. Hulle het gehoor van die werk wat JUST PCs vir die gemeenskap doen, asook hoe ons internasionale beste praktyk toepas op die gebied van e-skroot restorasie; iets wat destyds ongehoord was in Suid Afrika. Die VN-afvaardiging het regoor Afrika gereis en stories versamel vir ’n dokumentêre program oor die moets en moenies van elektroniese skroot. JUST PCs is hierin geïdentifiseer as een van die maatskappye wat e-skroot op ’n omgewingsvriendelike en sosiaal-verantwoordelike manier behandel.

Watter dienste bied JUST PCs nog?
JvdW: Ons kom haal jou ou toerusting, raak op omgewingsvriendelike manier ontslae van wat nie gered kan word nie, ons doen data-sanitasie, hanteer verantwoordelike donasies van herstelde IT toerusting, lae-koste rekenaar/ selfoon/ skoot-rekenaar verkope, en meer. As ’n onderneming ou rekenaars of selfone ensomeer aan personeel wil verkoop, help ons ook met die proses, van die verwydering van ou data tot die opgradering van die stelsels, skoonmaak en kwaliteitsbeheer. As ’n maatskappy besluit om ou toerustig aan ’n skool, NPO of enige begunstigde van hul keuse te skenk, maak ons seker hulle skenk toerusting wat behoorlik werk. Alle rekenaars wat ons verskaf kom met ’n 12-maande waarborg. JUST PCs sal selfs ’n kontrak teken met die begunstigdes involge waarvan hulle enige toerusting wat aan die einde van die pad kom, moet terugstuur vir veilige herwinning. Ons bied BEE en belastingvoordele aan ondernemings wat die ou toerusting skenk. Daar is geen direkte onkoste vir die maatskappy wat van ons dienste gebruik maak nie – JUST PCs hou ’n persentasie van die herstelde toerusting om alle kostes te dra.

Skok ons met ’n paar feite oor e-rommel in Suid-Afrika; hoekom is die werk wat JUST PCs doen so belangrik?
JvdW: Die wêreld produseer tans ongeveer 50 miljoen ton e-skroot per jaar. As jy na jou selfoon, rekenaar, TV kyk, sien jy ’n toestel wat jou lewe vergemaklik. Wat jy nie raaksien nie is die gevaarlike elemente soos lood, kwik, kadmium en meer wat binne hierdie toestelle is. Indien hierdie toestelle nie op ’n verantwoordelike manier behandel word wanneer dit nie meer gebruik word nie, kan dit onder andere drinkwater besoedel en die gesondheid van mense wat dit sonder die regte vaardighede en toerusting probeer herwin, in gevaar stel.

Wat is die grootste les wat jy as entrepreneur geleer het?
JvdW: Niemand weet alles nie, veral nie jyself nie. Luister na ander se raad, veral mense met jare se ondervinding. Dit is altyd goed om ’n ander perspektief te kry. Maar die belangrikste van alles is om te aanvaar dat jy gaan foute maak, solank jy leer uit jou foute en ondervinding bou daaruit.

As jy destyds toe jy jou besigheid begin het geweet het wat jy vandag weet, sou jy enigiets anders gedoen het?
JvdW: Dit is belangrik om die regte stelsels in plek te sit van die begin af. Ek sou vyf jaar se gesukkel kon verhoed het deur van die begin af die regte stelsels te gebruik.

Waar wil jy graag jou besigheid oor 10 jaar sien?
JvdW: Ek het groot planne vir JUST PCs. Ek sal graag die maatskappy wil sien as ’n markleier landwyd, met takke in die meeste Suid-Afrikaanse stede, sodat ons ook die geleenthede het om die produkte by mense uit te kry wat dit regtig benodig. Suid Afrika hoef ook nie die eindstreep te wees nie, ek sien ’n nood vir ons dienste regoor die kontinent.

Vir meer info oor JUST PCs, besoek justpcs.co.za, of vind hulle op Facebook: https://www.facebook.com/JUSTPCS
Vir bestellings, en om uit te vind hoe om ou tegnologie te skenk, kontak Justin van der Walt by [email protected] of 082 3200672

Kyk meer videos hier