Elke land het sy baie besondere lekkertes. Sommiges kan jy sien, ander kan op allerlei wyses ervaar word maar die lekkerste is dít wat jy kan proe. Vir al die lekkertes kan ʼn mens maar jou tasse pak en gaan kyk wat die groene watervlakkeland kan bied.  So skryf Johan Oosthuizen op Maroela Media se webwerf oor sy besoek aan die Lae Lande.

Nederland bied oneindig baie. Dis ʼn mooi land, dis ʼn veilige land en dis ʼn super (eg Nederlandse woord, maar nie soos in Engels uitgespreek nie) wonderland, want ʼn mens wonder hoe ʼn volk op so ʼn klein stukkie aarde oor eeue heen so baie kon vermag, in stand hou en steeds nuwe hoogtes bereik.

En is daar nou baie wat lekker is! In die immergroen parke en op weilande spog derduisende spierwit swaanpare met hulle krose, in bruin veredos, wat nuuskiering rondsnuffel. Oral tussenin staan groot reusereiers en bekla hulle lot dat die swaankuikens helaas te groot is om ‘n maklike ontbythappie te maak – en dan word nog ‘n ongelukkige padda maar brekfis. ʼn Groot verskeidenheid watervoëls versier die waters en beeste en skape wei rustig op immergroen weilande. Droogte? Dat kennen wij niet.

En stap jy dan die bosse (vir ons woude) in, word jy bewus van ʼn salige vrede wat op jou toesak. Vallende herfsblare vorm ʼn malse veelkleurige blaretapyt en ʼn mens wonder wanneer jy die eerste feetjies gaan sien dans, of dalk op ʼn sonstraal afgly. Sonstrale wat deur die blaredak bars maak miljoene spinnerakke skitterblink met kleure van die reënboog en soms ʼn stukkie goud daarby.

Paddastoele groot en klein steek oral kop uit en skielik besef jy dat die prentjies wat jy in storieboeke en op die Kersfeeskaartjies uit jou kinderdae gesien het, regtig bestaan en jy vang jouself wonder of ʼn paar skugter of dalk parmantige kabouters gaan uitloer en op ‘n paddastoel gaan ronddans. Ja, en hier galop ʼn goggatjie, daarsô dans ʼn mier!

Dis by lekker verby om ʼn reusetuinsentrum te besoek. ʼn
Mens kan amper sê wat ander nog moet leer het die Nederlanders al van vergeet. As dit by blomme kom, toor hulle met kleur en vorm en elke jaar is daar nuwe kruisings om alles net nog mooier te maak – baie keer
amper net te mooi om te kan glo. As jy behoorlik jou asem wil laat wegslaan, gaan kuier jy in Aalsmeer op die blomme- en tuinplantemark. Ongeveer 70 hektaar onder dak waar 3 000 kopers elke dag vir die res van die wêreld op blomme en plante bie.

En dis maar net die oortjies van die seekoei (nijlpaard). Die lekkerste lekker is seker die smullekkerte wat jy kan proe en ruik. Ja, die voedselwinkels se rakke kreun en in die koelhouers is die lekkernye keurig uitgepak. Dis lip-aflek gebakjes, vars brode van alle soorte en worse te kies en te keur. Die eintlike lekker kry ʼn mens tot boordens toe vol op die markte. Nie net om te proe nie, maar selfs ook net om te kyk. Omtrent elke dorp en stad het op weekliks ‘n markdag waar hoofsaaklik kos en soms klere te koop is. As dit by dorpe kom, is Barneveld, hoenderhoofdorp, bo-aan my lys, maar wat stede betref is Amersfoort se mark een wat ek nie misloop nie. Die mark vind plaas tussen twee reuse- eeue-oue torings – Lang Jan aan die een kant en die St. Joriskerktoring aan die anderkant. Die reuse- beierende klokke sorg vir pure ou-wêreldse luistergenot.

So met die intrapslag hang die geur van vars brood in die lug en so regs van jou soebat al die gebakjes en taarten om gekoop te word. Jy stap teësinnig verby die gewone en gevulde spekulaas, die blaardeeg amandelstawe, multi vlaaien (spesiale terte) die kerststollen en sjokolaat bedekte pepernoten te kies en te keur, tot by die stroopwafelstalletjie waar die gewilde lekkerny vars gebak word. Jy kyk so na jou ou Naastetjie vir ʼn goedkeurende kopknik en dan koop jy. Nee, jy koop nie kleintjies nie, maar broodbordjiegroottes en soek dan ʼn tafel vir twee in ‘n sonkolletjie by een van die talle gesellige koffiekuierplekkies.

By ons tafeltjie by Alberts Eten & Drinken, kom vra die vriendelike Rianne waarvoor ons
lus is. Soos gewoonlik kies ons groot koppies “koffie verkeerd” lekker sterk melkkoffie, en hou oor die koffie die gemoedelike markbesoekers dop; die stylvolles, spoggerige tantes en die joviale ooms met hoedjies en hangsnorre. Ja, dis behoorlik ‘n kuierplek!

Reg langs ons was nog ʼn brood- en gebakaanbieding. Dit was duidelik dat die manne nie van vandag af hulle lekkernye aanbied nie. Hulle is verkopers van formaat. As een met ʼn klant besig is, adverteer die ander een en soms sommer terwyl albei klante bedien word, word die verskeidenheid en gehalte van al die lekkernye se roem besing. Dit klink so tussen ʼn langasem vendusie-afslaer en ʼn besielde straatprediker wat ʼn mens skuldig laat voel as jy nie koop nie.

Dan loop ons in die rigting van ander luide stemme, so al op die klank af, en dit bring ons by die vrugte- en groente-afdeling. Daar besing die manne met geswelde nekare die lof van die wêreld se keurigste vrugte en groente. Zoete druyven uit Italië en Turkye. Zoete navel sinaasappel (lemoene), zoete ananas (pynappels) en zoete meloenen (spanspekke) uit Spanje. Swart grond op die aartappels en wortels is bewys van varsheid. Kraakvars groentes van alle soorte, amper nog nat van die dou en jy begin dink aan vanaand se anduyfie rookwors en spek stamppot. Soveel watertandlekkerte waaraan ʼn mens jou maklik ooreet.

Elke land se vrugte en groente kry ‘n beurt. Die wysie verander nie, maar die lirieke wel en as die verkopers sien dit raak laat, en dan hoor ʼn mens die amper singende “Nu vier voor een eentje!” oor en oor en jy swig. Vier pakkies frambose en vier pakkies aarbeie, net een euro elk. Jy koop genoeg slagroom (geklopte room) sodat jy tuis jou onbeskaamd keduks kan eet. Hoe sê ons altyd? As dit pap reën moet jy skep!

So ʼn entjie verder weerklink nog stemme op dieselfde trant en toonhoogte. Hierdie keer stemme van die Kaasboer en die Slager. Jy kan maar sê ʼn wavrag kase van alle soorte en vorms, en soveel vleis dat jy net aan banting  kan dink…

So ʼn entjie verder, oor kanaalbruggies, deur stegies en tussen oud-Hollandse geboue deur is die blommemark aan die voet van Lang Jan-toring. Onder reusebome is die blommetafels in ʼn groot vierkant gepak, en langsaam ‘n lushof van potplante. Hier heers ʼn stille rustigheid – amper ʼn gewyde atmosfeer. ʼn Mens kan kies tussen klaar opgemaakte ruikers of jy kies jou eie bosse blomme en bessies vir ‘n persoonlike ruiker. Ja, en stoere mans en elegante dames is ewe behendig!

Ons luister vir oulaas na die klokkespel en dan is op ons fietse op pad huis toe. Jy kyk na al die mooi en dan besef jy dis ʼn Psalm 23-land en so in die ry, dink jy aan die woorde van die Psalm wat jy aan moedersknie geleer het. En jy sê oor en oor dankie. Dankie vir die mooi en dankie vir mense wat vrolik lag deur die lewe.

‘n Uittreksel uit ‘n reisverhaal wat oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn het.

 

 

 

 

By |2017-12-05T09:00:54+00:005 Desember, 2017|Kultuur|0 Comments
%d bloggers like this: