Dis eindelik sulke tyd! Optog! 2019 skop op Valentynsdag af, en die pret begin. Die legendariese volksskat Nataniël is die gesig van hierdie splinternuwe rondreisende konsertfees. Ons het hom doer in Frankryk opgespoor en hom uitgevra oor reis, werk, en sy rol in Optog!

Ons hoor jy is in Frankryk… besigheid of plesier?
Albei, ek het altyd ’n projek, klein of groot, iewers in ’n mou. Maar meestal is dit vir inspirasie, hulle betoog en kom in opstand, maar maak beeldskone goed die res van die tyd. Plus my familie woon hier, ek mis my broer en my peetkinders.

Dis altyd besigheid met jou – jy is een van die hardwerkendste kunstenaars in SA. Hoe besluit jy om ja of nee te sê vir ’n projek?
Ek sê nou al hoe meer nee vir ander se goed en ja vir my eie goed. Ek het vir jare geglo mense gaan kwaad bly of my afskryf as ek iets weier, maar as jy eerlik is en sê hoekom, is mense (gewoonlik) heeltemal fine daarmee. Maar ek is nie windgat nie, al word ek as moeilik beskou, ek oorweeg elke ding deeglik voordat ek antwoord.

Wat is vir jou die lekkerste soort projek?
My eie. Ek het my loopban op my eie begin, daar was ’n paar teaterproduksies wat my gebruik het, maar om ’n behoorlike bestaan te maak, moes ek my eie ding doen. Nou is dit al wat ek ken. Ek is ongemaklik en selfbewus tussen ander kunstenaars en kan ook nie rêrig opdragte vat van producers nie, so ek hou my eenkant. Dit het al baie deure toegemaak en ek het al baie groot geld so verloor, maar die vrede in my hart en die lojale gehoor wat my goed geniet bly die belangrikste.

En hoekom het jy ja gesê vir Optog! 2019?
Dis ’n projek wat ’n nuwe kultuur buite feesverband kan skep. Feeste is belangrik, maar dit het begin om teatertradisies te knou en te vervang. Ook kan duisende mense nie bekostig om 20 shows in ’n week te gaan kyk nie. Om te weet jy kan elke maand te minste iets kies om na te gaan kyk, veral in jou nabye omgewing, is fantasties.

Het jy dalk enige herinneringe aan rond-toerende konserte? Wat is jou vroegste herinnering van teater of konsert of enige ander opvoering?
Op Porterville het toergroepe musiekkonserte kom gee in die kerksaal. Ook mense soos Lida Meiring het toneelstukke kom opvoer. Dit was die tradisie in die jare toe ek op laerskool was, dit het my mal gemaak van opwinding en die res van my bestaan gevorm. Die uitsien na ’n nuwe konsert was ongelooflik!!

Wat behels jou rol as “gesig” van Optog? En wat is die uitdrukking op daardie gesig?
Ek het net gehelp om publisiteit aan die gang te kry, daar is ’n hele span wat nou oorgeneem het en die volle verantwoordelikheid dra. Ek is goed daarmee om ’n projek van die grond af te kry en afwagting te skep, dis tog my loopbaan. Maar nou is dit in ’n klomp ander hande, ook ’n magdom kunstenaars s’n! En ek dink nie vir ’n oomblik dit gaan maklik wees nie, alle nuwe dinge het geboortepyne. Van gehore tot teaterbesture tot kunstenaars tot die mense wat kaartjies verkoop, almal moet dieselfde doel en energie en vernuf hê om so ’n groot storie te laat werk, dit vat tyd. Die uitdrukking op my gesig – ten spyte van die Botox – is hoop.

Jy tree ook self op met Optog! Waar en wanneer kan ons kom kyk?
Nataniël Unplugged is stories en musiek en kostuums op ’n intieme manier aangebied met Charl du Plessis op klavier. Four Loud People is met drie musikante, wel stories, maar ook musiek wat ek nie sonder ’n band kan doen nie. Met Nataniël Gesels is ek alleen op die verhoog, ek vertel ’n storie of twee, maar gesels oor leefstyl en moderne tye en die individu en etiket en alles wat ek al jare vir instansies doen. Ons het dit verlede jaar vir die eerste keer in ’n teater aangebied as ’n oggend show en dit was baie gewild. Dis informeel en snaaks en hopelik baie inspirerend.

Jy is nie bang vir rondreis en werk nie, soos ons weet met Edik van Nantes.  Is dit besonder moeilik (of nie) om in die buiteland te werk? Wat is die grootste uitdaging daarmee?
Dis heerlik om in Europa te werk. Die mense is trots op hulle erfenis en hulle kuns en argitektuur. Hulle help jou, niemand het nog ’n kasteel of ’n museum geweier nie, hulle ontvang jou hartlik, is geduldig en hou lank na die tyd nog kontak. Ek het soveel vriende hier in Frankryk gemaak as gevolg van werk. En dis nuut, dis opwindend om nuwe goed te leer en te sien hoe funsioneer ’n kultuur wat honderde jare ouer as ons s’n is!

Waarsonder sal jy NOOIT reis nie? Iets wat jy altyd inpak.
Ekstra bagasie. Ek is ’n shopper. En ek versamel kuns. Ek vlieg met ’n magdom leë tasse net vir my inkopies. Dis ’n sirkus by die check-in toonbank, dit lyk altyd asof ’n Agatha Christie-karakter opgedaag het vir die Orient Express. Go big or stay home.

Wat is jou beste reiswenk?
Probeer om nie suinig of goedkoop te reis nie, dit foeter jou lyf, jou gemoed, jou verhoudings en jou hele ervaring op. Die reis self is deel van die ervaring. Die eerste glas sjampanje op ’n gemaklike sitplek is een van die hoogtepunte van elke trip. Ek is nie gemaak vir rugsakke of rugpyn nie.