Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is van 14 tot 18 Oktober vir die derde keer in die Atterbury Teater aangebied en 37 deelnmers van al die uithoeke van die land het met ‘n totale prysgeld van sowat R70 000 meegeding.

Atterbury klavierkompetisie Lezanti winner 2013 (3)

Lezanti van Sittert

Die sewentienjarige pianis van Pretoria, Lezanti van Sittert, is tydens ‘n galakonsert in die Atterbury Teater as die algehele wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie aangewys. Van Sittert, tans ‘n graad 11 leerder in Wonderboom Hoërskool in Pretoria, was vroeër vanjaar ook ‘n semi-finalis in die Artscape Nasionale Musiekkompetisie in Kaapstad.

Sy is ‘n leerling van Claudine van Breda en neem ook les by die bekende prof Joseph Stanford van die Universiteit van Pretoria. Algeheel tweede was Swunhtat Oo van Harrismith en derde was Louis Nel van Pretoria.

Hierdie kompetisie is tans die enigste in die land wat uitsluitlik vir pianiste van 19 jaar en onder aangebied word, en soos die afgelope twee jaar was die hoofborg Atterbury Trust.

Die drie beoordelaars vir die kompetisie was die ervare John Roos, Douglas Reid en Benita van Blerk. Die beoordelaars is baie beïndruk dat daar deurgaans in al drie kategoriee ‘n baie hoë standaard gehandhaaf is, en oor die jong talent wat vanoor die hele land hul verskyning gemaak het. Hulle was ook verbaas oor die moeilike repertoire wat hul aandurf en die suksesvolle uitvoering daarvan. Dit beloof net goed vir die toekoms.

 

Die onderskeie kategoriewenners vir 2013 was:

  • Wenner: 19 jaar en onder – Lezanti van Sittert (Pretoria)
  • Wenner: 15 jaar en onder – Swunhtat Oo (Harrismith)
  • Wenner: 12 jaar en onder – Louis Nel (Pretoria)
  • Beste uitvoering van ‘n barokwerk – Rachel Wedderburn-Maxwell (Durban)
  • Beste uitvoering van ‘n klassieke werk – Cindy Ju (Johannesburg)
  • Beste uitvoering van ‘n romantiese werk – Lezanti van Sittert
  • Beste uitvoering van ‘n moderne werk – Roelof Temmingh (Kaapstad)
  • Beste uitvoering van ‘n Suid-Afrikaanse werk – Roelof Temmingh
museikwenners

FOTO VAN LINKS AGTER | Lezanti van Sittert (Pretoria), Rosemarie Lemmer (Pretoria), Swunhtat Oo (Harrismith), Roelof Temmingh (Stellenbosch), Louis Nel (Pretoria), Bronwyn van Wieringen (Kaapstad), Cindy Ju (Johannesburg). Voor sit Steven Sacht-Luwes (Bethlehem) en Rachel-Wedderburn Maxwell (Durban).