Pieter Burger het in 2017 sy kwalifikasie in animasiekuns by die gesogte Vega-skool ontvang. Hy kon sy kardinale derdejaar suksesvol voltooi met die hulp van ’n Atterbury Trustbeurs, en was nie net ʼn uithaler student nie, maar het in die proses ook sommer ʼn Loerie gewen. Hierdie prys is soos die Oscars van die plaaslike advertensiewese. Ons het by die jong presteerder gaan aanklop om meer uit te vind.

Baie geluk met daardie Loerie; dis indrukwekkend om as student al een van die mees gesogte pryse in jou bedryf te wen! Jy moet baie trots wees…
Die Loerie was eintlik ʼn groot skok vir my, ek het nie eens geweet ek was ʼn finalis totdat ek in Durban aangekom het nie; ek was amper in trane toe ek dit hoor. Ek het vir maande aan die projek wat gewen gewerk, so ek was verskriklik trots toe ek gehoor het ek is ʼn finalis. Die aand self was verby wonderlik en ek het ek baie professionele mense in die bedryf ontmoet. Toe ek my naam sien het ek amper uit my nate gebars, ek was baie trots op myself…

Wat het jou op animasie as vakrigting laat besluit?
As kind het ek baie animasieflieks en -stories gekyk; dit was vir my baie interesant hoe die tekeninge beweeg, hoe die agtergronde lyk, en hoe dit die storie beïnvloed. As kind het ek nooit geweet hoe dit gemaak word nie, en ek het geen idee gehad dat dit ‘n moontlike beroepskeuse kon wees nie, totdat ek eendag ʼn program daaroor gesien het. Dis hoe ek by Vega uitgekom het. Ek het multimedia geswot, wat ʼn kombinasie van animasies, webontwerpe en advertensies is. My drie jaar by Vega was eerlikwaar van die beste tye van my lewe. Ek het goeie pelle daar gemaak, werk gedoen wat ek geniet het en meer geleer oor animasie (my gunsteling vak). Ek het baie kennis opgedoen oor die advertensiebedryf, hoe dit werk en hoe ek as ʼn ontwerper dit kan verbeter.

Hoe het jy by Atterbury Trust uitgekom?
Ek was nog in my tweede jaar by Vega; ons het besef dat finansies ʼn probleem gaan wees vir my finale jaar. Dis toe dat my ma se vriendin vir haar vertel het van die Atterbury Trust. Van daar af het ek met die Atterbury Trust se hulp dit my beste jaar gemaak.

Hoe het die beurs jou lewe verander en watter raad het jy ander mense wat graag sou wou aansoek doen?
Die beurs het my gehelp om deur my derde jaar te kom, dit is ook die jaar wat ek van my top werk gelewer het. Ek het vele geleenthede gehad om die bedryf eerstehands te ervaar en te geniet. Vir nuwe aansoekers sal ek sê: Doen dit, probeer ten minste, jy het niks om te verloor nie, daar is altyd ʼn kans, so gryp dit aan en kyk wat gebeur.

Jy het vanjaar begin werk, dan nie? Waar bevind jy jou?
Ek werk nou by BPWorx, ʼn onderneming wat programme skryf vir ander besighede. Ons help om besighede hul volle potensiaal te laat bereik deur spesiale ontwerpte program te maak wat hul werk vergemaklik en digitaliseer. Ek is ook trots om te kan sê dat ek reeds begin het om my beurslening terug te betaal en te weet dat ek weer ‘n volgende beursstudent kan help.

En waarheen vorentoe? Wat is jou droom?
Ek wil baie graag oor ’n paar jaar terug gaan na Vega om my honneurs te doen, sodat ek ʼn lektor kan word. Ek sal graag die jonger generasie inspireer om hul beste te bereik.

Hoe definieer jy sukses?
Sukses is wat jý daarvan maak, enigiets kan ʼn sukses wees as jý dit ʼn sukses maak.

Hoekom dink jy die beursprogram is belangrik?
Dit gee studente ʼn kans om te presteer en vooruit te boer, sodat hulle hul kursus kan voltooi en sodoende ʼn goeie werk te kan kry.

Ons verwelkom alle bydraes aan die Atterbury Trustbeursfonds, sodat ons klippe uit meer talentvolle jongmense soos Pieter se paadjie kan rol. ’n Artikel 18A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking. Om te skenk, kliek hier.