Kunstenaars trek besonder swaar gedurende die inperkings wat deur die Covid-19 pandemie genoodsaak is. Danksy vinnig dink en vinnig planmaak, het OPTOG en Atterbury Teater met hul e-Konserte ’n nuwe model geïdentifiseer wat mense wêreldwyd virtueel bymekaarsnoer rondom ’n liefde vir musiek en die kunste. Matthys Maree vertel meer.

Hoe gaan dit by die teater in hierdie buitengewoon uitdagende tyd? Moes julle vertonings kanselleer, of word die skedule net uitgeskuif tot die afsonderingstyd verby is? Hoe affekteer dit die vorentoe beplanning by die teater?
Dit gaan stillerig by die teater. Die ligte is af, die lugversorgers stil en die kroeg gesluit. Soos in talle ander bedrywe is dit nou “paint by numbers” en neem ons dit maar dag vir dag. Ons personeel is egter ongelooflik en die meeste van ons werk nou harder as ooit met die e-Konserte en leerkurwes rondom die effektiewe administrasie daarvan. Dis nuut, maar opwindend anders. Datums word maand vir maand bekyk en dan – waar moontlik – geherskeduleer vir later in die jaar. Kunstenaars, skole en korporatiewe kliënte is almal in dieselfde bootjie en ons ondervind gemoedelikheid en goeie gees onder almal in hierdie tameletjie van ’n proses.

Hoe het die idee vir die drie e-konserte ontstaan?
Direk na afloop van die President se aankondiging dat openbare byeenkomste nie meer mag plaasvind nie, moes ons onmiddelik ander planne maak. Watter rol “streaming” sou speel het ons toe nog nie geweet nie, maar ons het dadelik geweet dis op die kort termyn die enigste alternatief. Ek het begin rondbel en daardie Sondagaand reeds kontak gemaak met die maatskappy wat ons met die spoedige invoer van die nodige hardeware gehelp het. Ek het die Maandagoggend opgevlieg en teen die Dinsdag was die groter plan vir ons eerste gratis e-Konsert in beplanning. Teen Woensdag het ons die eerste toetse begin doen, Donderdag het die toerusting aangekom en daardie Saterdagaand het ons lewendig uitgegaan op meer as 50 000 toestelle (seker ongeveer 200 000 tot 250 000 kykers), wat ’n dag of twee later gegroei het tot 100 000 toestelle in net meer as 100 lande. Dit was ’n belewenis.

En hoe het julle by die lys van kunstenaars uitgekom? Hoeveel kunstenaars het op die ou end deelgeneem?
Ons het maar uit die heup geskiet en kunstenaars gebel; en letterlik almal het ja gesê. Die program het organies ontstaan, aangesien dit glad nie bedoel was om ’n produksie te wees nie. Dit is ’n klomp kunstenaars en tegnici wat tesame met die Atterbury Teater en OPTOG iets positiefs wou doen. Die totale span – kunstenaars, tegnici, sportsterre en akteurs – was tussen 25 en 30 mense.

Wanneer is die konserte opgeneem en vertel bietjie meer oor die logistieke kwessies rondom die opnames?
Na afloop van die eerste gratis e-Konsert is die grendeltyd aangekondig en moes dinge regtig vinnig gebeur. Ons het 72 uur gehad om iets te doen, sou ons wou. Binne daardie drie dae is ’n betaalstelsel geaktiveer en op ons webtuiste ingestel, en drie stelle kunstenaars en bekende persoonlikhede is gekontak om drie konserte vooraf op te neem omdat ons nie in die grendeltyd sou kon werk nie. Met die oog op die aanvanklike drie weke het ons ’n konsert beplan vir elke Sondag. Die media het ons wonderlik ondersteun en te midde van oorlaaide webtuistes en derduisende eposse (die eerste vertoning alleen het meer as 4 000 eposse en duisende sosiale media kommentare ontlok wat beantwoord moes word) het ons net-net soos ’n kat op ons voete geland. Genadiglik het ons na elke konsert die geleentheid gehad om verstellings te maak tot en met die afgelope Nataniël e-Kuier wat seepglad verloop het. Ons het die afgelope week hard gewerk aan die laaste Sondagkonsert voor die einde van die harde inperking, wat hierdie naweek plaasvind.

Waarvoor het julle gehoop, en hoe het die werklikheid uitgespeel?  Is julle tevrede met die uitkoms? Hoeveel kaartjies is verkoop, en tot watter mate kon julle die kunstenaars en die teater help met die opbrengs?
Ons het geen benul gehad waarvoor om te hoop nie. Die eerste konsert het reeds ons stoutste verwagtinge oortref. Soos met enigiets in die lewe is moeite om iets nuuts te leer maar iets wat soms weerstand bied, maar kunsliefhebbers het deurgetrek en die vreemdheid van “streaming” die hoof gebied. Ons is reeds stewig by 10 000 betaalde strome verby. Vir die kunstenaars wat deel gevorm het van die e-Konserte was daardie inkomste die laaste in maande, en soos die formaat ontwikkel sal ons gestruktureerd geld kan aanwend om insgelyks kunstenaars en tegnici te ondersteun. Ons hou almal ons asem op onder water en wag vir die draai van die gety om weer te kan voortgaan met lewendige teater. Ons is dit eens dat die bedryf vir altyd verander het en die digitale insluiting van e-Konserte gaan verseker deel vorm van ons strategie vorentoe. Dit bied ’n wonderlike geleentheid om mense wat uitgehonger is vir Afrikaans die wêreld deur, asook op die platteland, vanuit die Atterbury Teater te bereik. Ons is hard aan die werk aan die eerste reeks na-grendeltyd e-Konserte wat reeds deur die wintermaande aanlyn beskikbaar sal wees.

Watter terugvoering het julle gekry, van beide kunstenaars en gehoorlede? Kan jy een of twee stories deel?
Daar is so baie dat dit onmoontlik is om enkeles uit te sonder. Letterlik honderde fotos van gesinne wat in verskillende wêrelddele saamgebondel sit voor rekenaar- en TV-skerms, met familie elders wat gelyktydig kyk en saamkuier. Dit wat ons per definisie van mekaar verwyder het, het ons nou juis saamgesnoer – meer intiem as wat dit ooit in persoon sou kon wees. Dis die wonderlike oorlewingsgees wat die kunste so dikwels aanwakker.

So julle gaan beslis nog e-konserte aanbied in hierdie tyd?
Ons is byna gereed met die sesde een, waarna ons hoop om die eerste “blok” konserte op te neem ­– weereens op die verhoog van die Atterbury Teater ná grendeltyd, sodat hierdie produksies vir jare beskikbaar sal wees. Ons het die domein www.ekonsert.co.za geregistreer en sal voortaan gesamentlik deur Atterbury Teater, OPTOG en ekonsert.co.za kuns na jou huis toe bring, waar jy jouself ookal mag bevind. Danksy die getroue ondersteuning van King Price Insurance kan OPTOG nou voortgaan om “Die kuns te bring”.

Wat is die lesse wat julle hieruit geleer het? Dit is wonderlik dat julle klaarblyklik hiermee ’n model geïdentifiseer het wat julle in die toekoms weer sal kan gebruik.
Verseker, soos hierbo genoem is ons reeds ’n ent in die pad af om hierdie formaat in te sluit by ons teateraanbieding in die toekoms. Dis “uncharted territory”, maar dis vreemd en nuut vir almal daarbuite. Ek glo ons kan ’n beduidende rol speel in die ontdekking van nuwe geleenthede om die kunste deel van ons lewens en kultuur te maak en behou. En met die verhoogde toeganklikheid daarvan, bereik ons hopelik heelwat meer mense – ook in verre lande.

Die e-Konserte is beskikbaar op Optog se webwerf, en kan daar afgelaai word, www.optog.co.za