Die Atterbury Trust se beursfamilie kry volgende jaar omtrent 35 nuwelinge by, baie van hulle vars uit matriek uit, maar ander reeds met ’n jaar of wat se uitblinkerstudie agter die blad. Ons het by ’n paar van ons nuwe inname gaan hoor wie hulle is, en waarna hulle uitsien.

Die 18-jarige Jaco Briel het vanjaar by Hoërskool Akasia gematrikuleer.

Jonathan Taljaard is ook 18 en van Hoërskool Warmbad.

Tara-Lea van Zyl is 20 en het destyds by Eunice Hoërskool gematrikuleer.

Wat gaan jy swot en waar?

Jaco: Ek gaan by die Universiteit van Pretoria studeer vir ’n graad in Elektriese Ingenieurswese.

Jonathan: Ek gaan IT swot by Centurion Academy in Centurion, Pretoria.

Tara-Lea: Ek is in 2019 in my derde jaar medies, MBChB, by die Universiteit van die Vrystaat.

Hoe het jy van Atterbury Trust se beursfonds gehoor?

Jaco: My neef het ook ’n beurs van die Atterbury Trust gehad, so ons het geweet daarvan… hy het vanjaar sy Meganiese Ingenieurswese-graad gekry!

Jonathan: My tannie se skoonsuster, Ané Pretorius, het vir Atterbury gewerk en sy het my tannie van die beurs vertel; en met soveel lof van Atterbury Trust gepraat. Dit was te danke aan haar dat ek aansoek gedoen het!

Tara-Lea: Handré Jankowitz is al van sy eerste jaar deel van die Atterbury Trust-beursfamilie. Ons swot saam en het sommer vroeg in eerste jaar goeie vriende geword. Hy het my van die beursfonds vertel en aangemoedig om ook aansoek te doen. Nadat ek self gesien het hoe goed Atterbury Trust vir hom is en die persoonlike verhoudings wat die Trust met elkeen van die beursstudente bou, het ek besluit om ook vir finansiële ondersteuning aansoek te doen, aangesien my familie nie meer alles kon bybring nie.

Wat sou gebeur het as jy nie die beurs gekry het nie?

Jaco: Ek sou nie verder kon gaan studeer het nie… ek sou ander opsies moes oorweeg, soos om eers te gaan werk om te kan spaar en dan later universiteit toe gaan, wanneer ek dit wel eendag kon bekostig. Of ek sou moes werk en deeltyds studeer, want my ouers kan helaas nie vir my studies betaal nie.

Jonathan: Ek sou probeer werk kry by ’n IT-maatskappy met die hoop dat hulle dalk vir my studies sou betaal, in ruil waarvoor ek agterna die studieskuld by hulle sou terugwerk. Op daardie manier sou ek ’n inkomste verdien en my kennis verbreed terwyl ek werk.

Tara-Lea: My ouers en grootouers het tot dusver my studies finansieël ondersteun. My pa het ’n tweede beroep begin beoefen om my studies te kan befonds, maar die inkomste was ook nie 100% verseker nie. Met die beurs gaan daar baie minder druk op ons gesin wees. As my aansoek nie suksesvol was nie, sou ek verder  moes soek na finansiële ondersteuning. Die soektog tot nou toe het baie van my aandag geverg. Met die Atterbury Trust beursfonds gaan ek my volle aandag aan my studies kan gee, om groter doelwitte te bereik.

Waarna sien jy die heel meeste uit?

Jaco: Om nuwe mense te ontmoet en om die meeste te maak van my studies!

Jonathan: Ek het vir myself sekere doelwitte gestel vir die jare wat nou vir my voorlê en ek wil graag sien hoeveel ek in 2019 kan bereik.

Tara-Lea: Studiegewys, in die tweede semester van 2019 begin ons klas vir die eerste keer kliniekblootstelling kry. Prakties is nog altyd my sterk punt en ek sien baie uit om die eerste smakie te ervaar van dokter wees. Ek het ook groot doelwitte in akademie en sport vir 2019 en kan nie wag om dit een vir een te bereik nie.

Elke student in die Atterbury Trustbeursfonds word met die hand gekies vir sy of haar stergehalte… ’n werketiek, ’n sosiale gewete en ’n gebalanseerde uitkyk – en die paneel sien soveel meer sulke kandidate as wat ons jaarliks kan bekostig om te help. Danksy ons wonderlike skenkers kan ons lewens help verander. As jy wil bydra, op watter vlak ookal, kliek hier, en maak ‘n blywende verskil.