Atterbury se assosiasie met medewerkers en vennote is ’n wonderlike bron van hulp en meelewendheid. So kon ons onlangs saam met WeBuyCars op Vibro en Schindler se knoppies druk toe ons hoor dat Harmonie Park, ’n aftreeoord wat omsien na 300 behoeftige bejaardes in Pretoria, sukkel met hysbakke wat heeltyd moeilikheid gee. Die vrygewigheid en onmiddellike inspring om te help het die hart laat sing. Vibro het Atterbury Trust se uitdaging aanvaar en ook R50 000 geskenk, terwyl Schindler met ’n span kundiges by die aftreeoord opgedaag en meer as R170 000 se opknappings- en herstelwerk aangebring het. Ons hoor meer by Marié Pienaar, bestuurder by Harmonie Park; en Quintin Farrell van Schindler gee ’n kykie agter die skerms na die instandhouding van hierdie tegnologie wat onmisbaar geraak het in die moderne lewe.

Hoe het Atterbury Trust en Harmonie Park se paadjies gekruis om hierdie projek aan te pak?

MP: Dit was danksy Jakaranda FM se “Good Morning Angels” inisiatief dat Atterbury Trust by Harmonie betrokke geraak het. Een van ons hysbakke was vir meer as ’n maand onklaar en die koste van herstel was baie hoog… ons het hulp gevra op ons Facebookblad, en iemand het “Good Morning Angels” in kennis gestel. WeBuyCars het R50 000 geskenk en vanweë hulle betrokkenheid met van Atterbury Trust se projekte, het Atterbury Trust ook aan boord gekom. Hier is groot nood om die instandhouding van ons hysbakke te bekostig omdat die meeste inwoners óf ’n maandelikse toelaag by die Suid-Afrikaanse Sosiale Sekuriteitsagentskap (SASSA) kry óf ander pensioen wat nie baie groot is nie.

Vertel ons meer oor die aftreeoord en sy inwoners.

MP: Harmonie Park is in Sunnyside, Pretoria geleë.  Ons het twee tuistes, Harmonie Oord en Harmoniehof.  Harmonie Oord huisves hoofsaaklik bejaardes wat net ’n SASSA inkomste kry en nog selfversorgend is. Hierdie inwoners betaal maar R1 550 per maand vir hul huisvesting.  Die losies dek die basiese bedryfsuitgawes van die fasiliteit, maar daar is nie fondse vir groot kapitale instandhouding binne die inkomste wat inkom nie. Op die oomblik verskaf ons ontbyt en middagete danksy donasies wat ons ontvang.  Daar bly tans ongeveer 190 bejaardes by Harmonie; en die dienste is maar beperk omdat personeel ’n duur uitgawe is. Daar is ’n washuis waar inwoners self hul wasgoed moet was; en hulle moet self hul kamers skoonmaak. Ons neem die inwoners twee keer per week na die Tshwane Hospitaal om hul medikasie te kry of om dokters te besoek.

Die ander tuiste, Harmoniehof, het meer dienste, en ons bied selfsorg, semi-sorg en vol sorg aan. Ons probeer om sover moontlik bekostigbare dienste te lewer aan bejaardes wat nie meer heeltemal selfversorgend is nie of verswak is. Ons het nou met ’n vloer begin waar ons semi-sorg in deelkamers lewer, teen R4 500 per maand.  Dit sluit etes, medikasie-beheer, skoonmaak van kamers, wasgoed, en help met was, in. Ons tel toenemend op dat daar mense met net ’n SASSA-inkomste of klein ander pensioen is, wie se kinders beperkte fondse het om tot die versorging van hul ouers by te dra.  Hierdie is ’n wyse om basiese, beperkte versorging teen ’n meer bekostigbare bedrag te lewer aan mense met beperkte inkomste.  Ons ontvang geen subsidie van die staat nie; maar probeer om met beperkte fondse ’n waardige oudag te bied aan bejaardes wat dit nie breed het nie.

Hysbakke kos baie om in stand te hou… dit klink na ’n duur projek. Wat was die grootste behoefte wat eerste aangespreek moes word?  

MP: Die eerste behoefte was om hysbak B by Harmonie Oord, wat langer as twee maande buite werking was, weer aan die gang te kry.  Daar is net twee hysbakke by Harmonie Oord wat 190 mense moet bedien; hulle is maar beknop en as iemand met ’n rolstoel of loopraam in ’n hysbak is, kan daar maar net twee of drie ander mense saamry.  Die sertifikate op die hysbakke het verval omdat die vorige operateur ’n eenmansaak geword het; hy het die opgraderingskontrak in 2010 van die Lotto gekry en kon net nooit die werk na behore afhandel nie. Dit is tans ’n prioriteit om alle hysbakke se sertifikate op datum te kry en uitstaande instandhouding te doen.  Dis inderdaad ’n duur projek, met kostes was kan wissel tussen R450 000 tot R1 500 000 per hysbak, afhangende van presies wat nodig is. Aanduidings is tans dat die basiese toerusting nog vir ten minste vyf jaar gebruik kan word, maar daar is sekere noodsaaklike instandhouding wat gedoen moet word…

Sjoe, hoe begin mens om so ’n groot projek te befond? Hoeveel geld moes julle probeer insamel?  

MP: Danksy die insetsel op “Good Morning Angels” is daar ’n eerste bedrag van R50 000 van WeBuyCars ingesamel wat die onderdeel vir die herstel van hysbak B en sekere elektriese werk gedek het. Hulle het ’n tweede aflewering hieroor gedoen, waar Atterbury Trust en Vibro betrokke geraak en elk R50 000 geborg het. Die aanvanklike operateur het siek geraak en kon nie voortgaan met die werk aan die hysbak nie; en toe betrek Atterbury Trust vir Schindler, wat betrokke is by ‘n aantal van Atterbury se ontwikkelingsprojekte. Hulle het meer as R170 000 se dienste en toerusting gratis verskaf!

Dit is werklik ‘n “kwessie van assosiasie”, soos Atterbury se slagspreuk sê… hoe wonderlik dat veral Schindler sulke diep sakke het as dit kom by uitreik en help. Hoe is die hulp uitgerol?

MP: Schindler het op Mandeladag met ’n groot span opgedaag en al vyf die hysbakke op die perseel deurgegaan en soos nodig skoongemaak en instandhoudingwerk in die skagte gedoen.  Hulle het hysbak B reggemaak sodat hy weer werk; die probleme met party deure is herstel, die stukkende roepknoppies is herstel, en so meer. Hulle inspekteur het agterna al die hysbakke nagegaan en ’n voorlopige veiligheidsertifikaat uitgereik. Daar is wel sekere aspekte uitgewys wat nog aandag sal nodig hê, maar vir nou werk al ons hysbakke. Schindler was ook so gaaf om die bestaande dienskontrak oor te neem sonder om meer te vra, al is hulle gewone fooie aansienlik hoër.

Hoe ver is die hysbakprojek nou? 

MP: Soos ek genoem het is daar nog werk nodig voordat die finale inspeksie gedoen kan word. Baie van die probleme het helaas ontstaan weens swak vakmanskap deur die vorige operateur, so dit bly maar ’n deurlopende probleem waaraan ons aandag gee wanneer iets vassteek. Schindler is nou onmiddellik daar om te kom help as ons iets aanmeld.

Watter terugvoering kry julle van Harmonie Park se inwoners? 

MP: Almal is ongelooflik dankbaar – mense voel baie veiliger in die hysbakke. As daar nou ’n probleem opduik, kom Schindler vinnig uit om te help.  Ons het heelwat inwoners wat met looprame loop en ’n paar wat rolstoele gebruik, en as die hysbakke onklaar is, word hulle mobiliteit baie benadeel. Die feit dat al die hysbakke funksioneel is, is inderdaad rede tot groot dankbaarheid.

 

Schindler se tegniese diensleier, Quintin Farrell, vertel meer:

Vertel ons meer van julle indrukke van Harmonie Park se hysbakke. Wat is die tipiese lewensduur van ’n hysbak?

Die hysbakke was helaas nie in ’n goeie toestand nie, en dié wat hoegenaamd gewerk het, het in werklikheid teen wetlike regulasies in geloop, omdat behoorlike instandhouding vir so lank nie gedoen is nie. Hulle is oorspronklik in 1972 geïnstalleer en in 2011 deur ’n ander maatskappy opgegradeer – maar slegs die motore en beheermeganismes; die res van die infrastruktuur was nog die oorspronklikes. Daardie maatskappy het vanjaar toegemaak. Die oorspronklike beheermeganismes is nie meer verkrygbaar nie, so dit is ’n groot uitdaging om hierdie toerusting te herstel. Die gemiddelde hysbak wat behoorlik geinstalleer is, se lewensduur is tussen 12 en 18 jaar.

Julle was so gaaf om die instandhouding van Harmonie se hysbakke oor te neem, teen ’n baie verlaagde tarief. Wat is dit wat tipies met so ’n ou hysbak verkeerd gaan?

Algemene slytasie op die bewegende dele en foute met die beheermeganisme kan alles veroorsaak dat ’n ou hysbak onklaar raak. Die probleem kom dan in dat daar nie meer onderdele geredelik beskikbaar is nie, en dat die stukkende onderdele dan van vooraf vervaardig moet word, of herstel moet word omdat mens nie net ’n nuwe een kan bestel nie. Dis ook nie altyd moontlik om die onderdele met Schindler-onderdele te vervang nie, omdat dit nie altyd pas nie…

Hoe het tegnologiese verbeteringe oor die jare verander hoe julle hysbakke instand hou? Wat is die grootste verskil tussen ’n hysbak wat in die sewentigerjare geïnstalleer is (en daar is nog verbasend baie van hulle in ouer geboue) en vandag s’n, soos dié wat julle in Atterbury se nuwe ontwikkelings installeer?

Met die ouer hysbakke was die rit en elke stop heelwat harder; en foute was moeilik om te diagnoseer, so dit het meer tyd geverg om agter te kom presies wat stukkend was as dit onklaar geraak het. Die oues het ook meer elektrisiteit gebruik. Vandag se hysbakke is baie meer gebruiksvriendelik en het baie meer opsies waaruit die kliënt kan kies. Die nuwe tegnologie maak die rit gladder en die hysbak kom sagter tot stilstand. Ook maak die nuwe tegnologie dit eenvoudig vir die tegnikus om ‘n fout te identifiseer en die oorsprong daarvan gou te kry, en dis gerekenariseer om rekord te hou van elke hysbak se diensgeskiedenis. Onderdele is ook meer betroubaar en kan baie vinniger in die hande gekry word.