Atterbury beursstudent Emile Bouwer is heel gelukkig om homself ’n tipiese bril-jantjie bleeksiel te noem, en tog te nonchalant oor sy toekenning as top-presteerder in IT-studies in sy graadgroep aan die Wesrand! Ons sal hom sommer slimjantjie noem…

Vertel ons ’n bietjie van jou agtergrond?
Ek is die oudste van twee kinders. My sussie Ezmé  is amper sewe jaar jonger en nog op laerskool, maar ten spyte van ons ouderdomsverskil kom ons so goed oor die weg soos pannekoek en kaneel.
Geluk met daardie top-presteerder toekenning!
Dankie! Dit was nogals ’n verrassing aangesien my gemiddeld onder 90% was en ek nie gedink het dít die hoogste in die distrik sou wees nie.

Hoe het jy van die Atterbury Trust-beurs gehoor?
My pa was die eerste om my van Atterbury te vertel. Hy het glo deur ’n kennis van julle te hoor gekry. Dis mos instink om die woord te versprei as ’n mens iets goeds ontdek ;-)

Wat was jou plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Om eerlik te wees: ek het geen plan B gehad nie. Ek is blindgelowig en het in graad 10 reeds besluit dat ek my beste sal doen om my punte aanneemlik vir ’n beursgewer te maak en net te vertrou dat ek een sou kry. Indien dit anders sou sy, sou ek maar ’n “gap”-jaar neem en gaan waar ek gelei word. Dit het my gemoedsrus gegee. Eindelik was ek só gerus ek het byna vergeet om aansoek te doen en eers teen Oktober wakker geskrik! Gelukkig was Atterbury vriendelik en geduldig.

Hoe het jy op jou studierigting besluit?
Ek het half verlief geraak op programmering – dis waaruit meeste van my hoërskool IT sillabus bestaan het. Kort voor lank was ek mál daaroor om ure deur te bring voor ’n rekenaarskerm en aan ’n program met honderde goggas te beitel en te skuur tot dit beter werk as wat dit bedoel was en so te doen met minder reëls kode as wat voorgestel is. Ek het nie juis beplan om IT te studeer nie – dit was vir my meer soos ’n stokperdjie en ek het gedink mense sou my vra: “Nou, wanneer kry jy ’n régte werk?”

En hoe het jy op Belgium Campus besluit?
Ek het hulle gekies op gronde van hoé eerder as wát hulle aanbied. Ek is een van daai mense wat nie met een taak kan begin voor die ander afgehandel is nie. BC se kurrikulum is net so: een vak op ’n slag, een klas op ’n dag. Vir vier ure aaneen per dag leer jy oor een vak; gaan huis toe en doen daardie vak se huiswerk/leerwerk/take en dit doen jy vir twee tot nege weke tot daai vak afgehandel is vir die jaar tot dit weer eksamentyd is. Hul sillabus is ook pas-gemaak en ek hoef nie (soos wat die geval met my vriende op universiteit is) byvoorbeeld rekeningkunde te leer terwyl ek IT studeer nie.

Het jy al op ’n spesialisveld besluit?  
My liefde vir kodering spoor my aan om in programmering in te beweeg en dit is tog ’n goeie beroepsveld vir ’n introvert (as ons nou stereotipies wil raak: ja, ek dra ook ’n bril en hou nie van son nie – tipiese bril-jantjie (bleeksiel)!

Hoe vergelyk die realiteit van die studentelewe nou ses maande in die ding, met wat jy vooraf verwag het? Wat is moeiliker en makliker as wat jy gedink het dit sou wees?
Dit is baie lekkerder as wat ek verwag het. Kosmaak vir jouself is makliker as wat ek sou dink – tensy ons nou praat van ’n hoender skoonmaak. Vriende maak is makliker, maar ek dink die feit dat almal by BC ooreenstemmende belangstellings het, help ook. Moeiliker? Iets wat mens nie verwag om van ’n student te hoor nie is dat hy sukkel om te besluit wat om met sy tyd te doen. Nederlands en Frans leer is wat my besig hou op daardie naweke tussen vakke. Ek kyk ook graag Japanese animereekse en luister musiek. Ek verstaan nie waarom Japanese animasie so “hentai” is nie maar die ander “IT nerds” is versot daarop en mens het tog iets nodig om oor te praat buiten hoe C# sintakties netjieser as Delphi7 is en hoe niemand horisontale sentrering in HTML5 verstaan nie…

As jy by enige maatskappy in die wêreld ’n internskap kon kry, waarheen sou jy gaan?
DuoLingo. Hulle is nie ’n vername IT maatskappy nie, maar hulle gratis taalleer-sagteware en die tegnologiese struktuur waarop dit rus het beslis baie hande nodig en ek sou graag tot hulle doel wou bydra. Hulle onderrig vir Engels het nou volwaardige C1 akkreditasie en hulle reik nou uit na minder bevoorregde skole om internasionale geletterdheid te verbeter onder diegene wat andersins geen of baie beperkde onderrig in enige taal anders as hul geïsoleerde moedertaal sou kry. Internskap by hulle sou my blootstelling aan die wêreld van IT, sowel as dié van ander tale gee.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
’n Uitvinding wat ek self sou wou beleef: een internationale taal wat gesproke en geskrewe én gekodeerd ewe ondubbelsinnig sou wees en as Lingua Franca kon dien vir mense en rekenaars. Die waarskynlikheid daarvan is baie klein, maar ek sal dalk self in my leeftyd beleef dat Engels deur amper 100% van die wêreldbevolking as ’n tweede taal gepraat word.

As jy en jou klasmaats die fondse kon kry om aan ’n baie groot projek te werk,  waarop wens jy kon julle fokus?
Ek dink Brain-Computer Interfacing (dis nou om breingolwe met gespesialiseerde apparatuur op te vang en dit as toevoer vir ’n rekenaartoestel te gebruik of anders om) sou ’n baie interessante uitvloeisel wees het vir als wat Belgium Campus reeds aanbied. Dis redelik nuut in die bedryf, so ons sou pret hê terwyl ons besig was om eksperimentele data vir die industrie te genereer – wen-wen!