Die wenner van VivA Afrikaans se jaarlikse skole-idioomkompetisie is onlangs aangewys, en Ilja de la Guerre van Durbanville in die Kaap het die groot prys van ’n Atterbury Trust studiebeurs losgeslaan met ’n hele sakvol oulike inskrywings. Volgens die organiseerder, Sophia Kapp van VivA, het Ilja presies gedoen wat hulle met die kompetisie beoog: sy het geleer, en sy het dit geniet om by die taal betrokke te raak. Ons het by die kunstige jong Kapenaar gaan aanklop.

Baie geluk; jou illustrasies is almal so oulik! Was dit jou eerste VivA-Skolekompetisie? Hoeveel inskrywings het jy ingestuur en hoe lank het jy hieraan gewerk?
Dankie! Dit is vir my ’n groot voorreg en ek het dit baie geniet om deel te neem. Ek het hierdie jaar​ vir die eerste keer deelgeneem nadat iemand my in Junie daarvan vertel het. Ek het in Julie my eerste inskrywings gestuur, en daar was op die ou end altesaam 15 (‘n paar was my destres-aktiwiteite tydens my matriekeksamen), die laaste een die dag voor die kompetisie gesluit het.

Op watter van vanjaar s’n is jy die trotsste – watter een is jou gunsteling? Was daar een wat jy oor en oor gedoen het voor jy tevrede was met die konsep?
​My gunsteling inskrywing was “Al dra ‘n aap ‘n goue ring…..”, maar die een waarop ek die trotsste is, is ’n penskets van “Haar kompas staan stil” – dit het my die langste geneem. Daar is ook ’n paar wat ek begin maar nooit klaargemaak het nie.​ My ​gesin en vriende was vreeslik meelewend en het baie kommentaar en idees gegee van die “kantlyn” af, alhoewel ek nie noodwendig daarna geluister het nie.

Jou prys is ’n Atterbury Trust studiebeurs… wanneer maak jy klaar met skool en weet jy al wat en waar jy wil gaan swot?
​Ek het November 2017 met matriek klaargemaak en begin hierdie jaar met ’n kunsgraad (BVA) deur Unisa.​ Kuns en Afrikaans was my beste vakke – met kuns (AS level) het ek die beste punt in Suid Afrika gekry in 2016. Ek het regtig ’n wonderlike kunsonderwyseres gehad van Graad 8 tot 12 – Desire Morton, van El Shaddai Christian School – ’n Cambridge skool in Durbanville.​

Ons hoor jy is tuis geskool – vir watter deel van jou skoolloopbaan; en het jy boeties of sussies wat saam met jou skoolgegaan het?  Wie is julle onderwyser/es?
​Ek is die tweede oudste in ’n gesin van vier kinders, met ’n ouer broer en twee jonger susters. Ons is almal getuisskool deur my ma (wat self ‘n kliniese tegnoloog is en ‘n onderwysdiploma het) Ek is getuisskool vir al 12 jare van my skoollewe. Ons het begin tuisskool toe my ouer broer vyf jaar oud was – hy is ook reeds ’n werkende voltydse student. Ons het vir meer as ’n dekade baie gereis vir my pa se werk en ons moes ’n metode van skool vind wat die leefstyl pas. Ons was baie dankbaar dat ons ’n kurrikulum kon vind (TCE) wat ons kon volg om ons voor te berei vir die Cambridge matriek.

Wat het jy die meeste geniet van tuisskool?
​Ek het dit geniet om self my tyd goed te bestuur. Dit beteken dat ek meer vrye tyd gehad het as ek hard werk – vrye tyd wat ek op kuns en lees kon spandeer.​

En wat was vir jou die grootste uitdaging daaromtrent?
​Dit was nie altyd maklik om die enigste kind in ’n graad te wees nie… my grootste uitdaging was seker om alleen te werk en nie ander ouderdomsgenote te hê om my werk mee te bespreek nie.​ My vriende het nie noodwendig dieselfde vakke en grade as ek gedoen nie.​

Wat is jou gunsteling vak – kuns, of nie noodwendig nie?
My gunsteling vak is definitief kuns, alhoewel ek ook mal is oor tale. Ek het Afrikaans en Engels as eerste taal op skool geneem en dit geweldig geniet.​

Het jy ook ander buitemuurse aktiwiteite, of sport beoefen? Enige stokperdjies waaroor jy passievol is?
​Ek is mal oor lees en musiek. Ek speel self kontrabas. My een suster speel tjello en die ander een viool, en albei van hulle speel klavier, (My ma speel ook tjello en klavier) so ons geniet dit om almal saam te speel.​ Ons al drie speel in die Hugo Lambrechts Musieksentrum se orkeste​ en geniet ensemble-spel baie. My broer is die ekstreme atleet en al vier van ons is groot lesers. (Dit is die gesin se “sport”).

Hoekom dink jy het jou inskrywings vanjaar gewen – waarvoor reken jy was die beoordelaars in besonder op die uitkyk?
​Ek is nie heeltemal seker hoekom ek gewen het nie, omdat ek nie heeltemal seker is hoe die beoordelaars gemerk het nie. Ek het maar net probeer om die idiome so visueel as moontlik uit te beeld en om dit so prettig, kleurvol en humoristies as moontlik te maak. Dit was regtig groot pret en ons het baie gelag vir al die nuwe idiome wat ons in die proses ontdek het.​

Wel, jy het dit presies in die kol gekry! Skryf jy vir enige ander kompetisies in behalwe die VivA een? Watter ander soort kompetisie sal jy geniet?
​Ek het deur die jare aan verskeie kunskompetisies en Eisteddfods deelgeneem, en afdelingspryse gewen. In 2017 het ek vir die Stellenbosch Eisteddfod ingeskryf en die Graad 12 medalje en die ​Hoërskool SANAVA trofee gewen. Kunskompetisies is vir my lekker –omdat daar baie min stres by betrokke is, daar is geen optrede voor ’n gehoor nie – jy ontmoet meestal nie eers die ander deelnemers nie.

Wat is jou toekomsdroom – in watter vorm sal jy eendag jou kreatiwiteit wil uitleef?
Ek sal baie graag ’n illustreerder wil wees… ek dink dit sal my passie vir boeke en kuns mooi opsom! Ek is op die oomblik besig om my heel eerste kinderbo​ek te illustreer vir ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat my ’n kontrak aangebied het. Dit is ’n groot uitdaging en ek geniet dit baie. Binnekort begin my studies egter en ek sien uit daarna om my kennis en vaardighede uit te brei.

Gallery van inskrywings