By die welbekende Isa Carstens Akademie word studente bekwaam vir allerlei poste in die gesondheid- en skoonheidsbedryf. As aandeelhouers in die akademie speel Atterbury Trust en Atterbury self ‘n sleutelrol in die verwesenliking van die nuwe, groter kampus in Lynnwoodweg, wat in Januarie 2016 sy deure gaan oopmaak. En vir die studente beteken dit die kans om betrokke te raak by die Atterbury Trust se vele projekte. Kampusbestuurder Altie Griffiths vertel hoe almal voordeel trek…

Wat is die Isa Carstens Akademie se fokus vir 2015?
Op die Pretoria kampus wil ons vir die studente die volledige student-ervaring gee. Ons kursus word baie hoog aangeskryf en ons werk hard aan die vestiging van ons eie tradisies en vir die bou van verhoudings met ander studente instansies, om dit ook vir ons studente regtig lekker te maak om hier te wees. Ons wil deel wees van die “beste tyd van hulle lewe”

Hoe lank bestaan die Pretoria kampus al en hoeveel studente is daar?
Die kampus is nou in sy vyfde bestaansjaar en ons het tans so 70 studente in die drie jaargroepe. Op die nuwe kampus, wat in Januarie 2016 sy deure oopmaak in Lynnwoodweg (oorkant Menlopark Hoërskool), kan ons 72 studente per jaargroep akkommodeer. Ons sal daar ook koshuisverblyf hê vir 190 studente in drie koshuise.

Het van julle studente Atterbury Truststudiebeurse?
Ja, in 2014 het een beurshouer haar diploma voltooi en ons het tans een beursstudent in haar tweede jaar. Daar is ook reeds ‘n hele paar ISA Atterbury alumniusstudente wat op ons Stellenbosch gegradueer het.

Hoe het julle by Atterbury Trust betrokke geraak en hoe help die twee organisasies mekaar?
Atterbury se verbintenis met ISA kom reeds ‘n ver pad. Atterbury was destyds verantwoordelik vir die ontwikkeling van die ISA-koshuis in Stellenbosch en is ook sedert daardie stdium ‘n aandeelhouer in die koshuis. Atterbury Trust is nou ‘n aandeelhouer in die Isa Carstens Akademie en ons studente het daarom met groot geesdrif betrokke geraak by die Atterbury Trust se projekte. Ons studente kry deur die Trust die geleentheid om tyd en vaardighede terug te ploeg in die gemeenskap.

Soos julle wonderlike betrokkenheid met Beyers Bytjies kleuterskool! Hoe het dit begin?
Ons het reeds verlede jaar, as deel van ons Loslitdag, geld ingesamel vir Beyers Bytjies vir kos en ander basiese behoeftes. Baie van die kinders in die skool kry hulle een behoorlike maaltyd van die dag by die skool. Ons studente het vir die hele skool kolwyntjies gevat en hulle het ook die onderwyseresse bederf met ‘n “glaze and go” om hulle naels mooi te maak. In Januarie het die skool ons laat weet dat hulle graag ‘n speletjiesdag met die kleuters wil hou en dat hulle skryfbehoeftes nodig het. Die eerstejaars het, as deel van hulle verwelkomingsprogram nuwe en lekker speletjies uitgedink om met die kinders te speel en hulle het uit hule eie sakke skryfbehoeftes saamgevat skool toe.

Wat was die lekkerste terugvoering wat julle uit julle besoek aan Beyers Bytjies gekry het?
Baie van die studente het dit as een van die hoogtepunte van die verwelkomingsprogram genoem en ook kom vra hoe kan hulle verder betrokke raak. Een van die eerstejaars was so geraak deur die ervaring by die skool dat sy haar pa oortuig het om, as deel van hulle maatskappy se gemeenskapsprojekte, vir Beyers Bytjies op ‘n maandelikse basis van kruideniersware te voorsien.

Volgende wil die akademie ook by die Triomfkliniek betrokke raak – vertel meer daaroor?
Ons gaan inskakel by die dermatologie-aspek van Triomfkliniek – daar is drie dermatoloë betrokke by die kliniek wat op roterende basis maandeliks gratis konsultasies doen. Die idee is dat ons senior studente vir die mense velbehandelings sal doen in oorleg met die dokters se aanbevelings.

As jy enige droomprojek met Atterbury en Isa Carstens saam kon aanpak, wat sou dit wees?
O, dit sal wonderlik wees as ons ‘n maandelikse byeenkoms by die akademie kon aanbied vir vroue en tieners uit die dele van Pretoria waar daar baie swaarkry en nood is. ‘n Lekker ontbyt en ‘n kort werkswinkel oor versorging, met ‘n lekker bederf-behandeling vir elkeen…

Vir meer inligting oor kursusse, beroepsgeleenthede en velbehandelings, besoek Isa Carstens Akademie http://www.isacarstens.co.za/, of skakel 012 3480125.