Atterbury Trust is baie trots op ons mediavennoot GrootFM 90.5 wat pas aangewys is as die grootste Afrikaanse radiostasie in Pretoria. Ons het met bemarkingsbestuurder Luané Janse van Rensburg gesels oor die lesse en die suksesse van die afgelope vyf en ’n half jaar. 

Hoeveel groei was daar sedert die beginjare?
GrootFM 90.5 het in Augustus 2013 begin met 8 000 luisteraars en volgens die BRC RAM listenership Report (Jul-Des 2018) staan ons nou op 47 000 luisteraars. Ons Facebookblad het in dieselfde tydperk gegroei tot 51 401 likes met ‘n 20 000 groei in likes vanaf Maart 2017 tot Maart 2018. Ons ervaar reële groei in die gebied waar ons uitsaai, en ons glo dat ons musiek en programme, sowel as ons gemeenskapsprojekte, verdere groei bewerkstellig. Daar is ongeveer 1,6 miljoen Afrikaanssprekendes in ons opvangsgebied, en dus is ‘n doelwit van 150 000 luisteraars nie onrealisties nie. Ons reikwydte in die wyer Pretoria gemeenskap is egter amper onmeetbaar as mens dink aan die hoeveelheid skole, gemeenskapsorganisasies en individue wat in die afgelope paar jaar besoek is tydens GrootFM projekte.

Hoe sien julle die rol van die gemeenskapsradio – wat is julle prioriteite, en hoe het dit verander oor die amper ses jaar van julle bestaan?
As gemeenskapsradiostasie wil ons die gemeenskap dien. Deur middel van ons gemeenskapsprojekte soos die JouMenseMyMense-inisiatief, HoopStoot en insette op radio soos Goeie Nuus Vrydag kry ons dit reg om dit wat in die gemeenskap gebeur, op die lug te weerspieël en andersom. As gemeenskapstasie is ons ’n vriend/vriendin vir so baie mense – die gemeenskap moet tuis voel in die stasie se teenwoordigheid… luisteraars moet voel hulle behoeftes word gehoor en aangespreek.

Wat is die gewildste program onder julle luisteraars, en watter soort inhoud vind julle lok die meeste luisteraars-reaksie uit?
Ons kan nie een program uitsonder nie – elkeen het sy eie unieke aanslag binne die breë raamwerk en visie van die radiostasie. Elke omroeper se individualiteit word behou, terwyl ons steeds daaraan werk om ’n eenvormige klank vir die radiostasie te bewerkstellig. Ons programme moedig luisteraars aan om saam te gesels en hulle opinies te lug. Ons poog met elke program wat ons uitsaai om dit waarvoor die stasie staan uit te leef, naamlik om impak op ons omgewing te hê en luisteraars te inspireer met die verlossingskrag van Jesus Christus. Ons programme bring hoop, te midde van onsekerheid en in onseker tye… ons wil graag ons luisteraars inspireer om self ’n verskil te maak in hulle omgewing. Ons dek kwessies wat op die gemeenskap van toepassing is – die positief en die negatief, binne die konteks van hoop! Ek moet sê, wanneer jy oor mense die kinders, diere of kinderdae gesels, lok dit altyd baie reaksie uit.

Waaraan skryf julle die sukses van die stasie toe? Wat sou jy beskryf as die belangrikste les wat julle in die afgelope vier jaar geleer het?
As gelowiges het ons die verantwoordelikheid om ingelig te wees – ons moet weet wat aangaan en relevante en aktuele nuus bied, maar wanneer ons oor die nuus praat (op watter platform ook al – sosiaal, geestelik of sekulêr) praat ons anders! Dit is maklik om saam met die doemprofete van die dag te praat of om mense nog verder te ontstel of petrol op enige negatiewe vure te gooi, maar GROOTfm 90.5 probeer juis opinies en vooropgestelde idees verander en swaai! Ons praat soos mense met hoop en ons bou opsetlik brûe en bevorder eenheid, of ons nou ’n Queen song aankondig of ’n video op Facebook deel – dit kan nooit net oor die PR waarde van iets gaan nie, maar daar moet ’n onderliggende waarde en waarheid wees wat ons probeer dryf. Ons vra met elke ding die vraag:  wat wil GROOTfm 90.5 hiermee (hierdie sosiale media plasing/projek/kommentaar/opinie) bereik?

Julle het ’n unieke aanbieding, met GrootOntbyt op TV en GrootFM op radio wat mekaar ondersteun – dit was ’n revolusionêre idee; wat vind julle is die grootste uitdaging daarmee? 
Ek glo tydsberekening – alles moet die hele tyd beheer word in terme van tydsberekening vir albei media… vanaf die advertensiebreuke, die lengtes van die liedjies, die onderhoude (veral wanneer die onderhoud net op TV plaasvind en daar op radio musiek speel!) Gelukkig het ons baie bekwame aanbieders/omroepers wat hierdie seepglad hanteer en dit baie eenvoudig laat lyk…

In hoe ‘n mate deel julle inhoud oor die twee platforms, en is daar sekere stories wat beter op die een platform werk as op die ander?
Al die inhoudstories wat op TV uitgesaai word, word ook oor die radio uitgesaai. Enige storie kan gedeel word, die invalshoek verskil net in baie gevalle. Soms is iets baie visueel en geskik vir TV, maar glad nie vir radio nie en dan moet ons altyd bewus wees van albei platforms. Vir radio moet ’n sekere aspek van so ’n onderhoud dan byvoorbeeld baie goed verduidelik word, sodat die radioluisteraar nie uitgesluit voel nie. Op TV kan ons byvoorbeeld weer nie die musiek wat oor radio gespeel word, uitspeel nie… so, wanneer daar musiek speel oor radio, is daar byvoorbeeld ander insette op TV soos die kombuisinset waar kosgemaak word (wat weer nie so goed werk vir radio nie).

Kan jy een storie wat julle onlangs gedoen het uitsonder as een wat wat GROOTfm se missie en etos perfek opsom?
Ons het elke Dinsdag ’n “JouMenseMyMense” inset, waar Lindie Strydom iemand in ons gemeenskap wie se spesifieke behoeftes onder ons aandag gebring is, besoek met ‘n bos blomme, kruideniersware en so meer (in samewerking met Spar). Sy deel dan sommer die storie met ons luisteraars op die lug terwyl sy by die persoon kuier. Elke week se storie is super spesiaal!

Waarheen volgende: julle is nou grootste in Pretoria, wat is die volgende mikpunt?
Ons wil net getrou bly aan ons visie: “om te inspireer en te impakteer met die verlossingskrag van Jesus Christus”. GROOTfm 90.5 is op ’n missie om Suid-Afrika en sy mense te inspireer en te impakteer met “vermaak wat ‘n verskil maak”; anders kan ons die lekker Afrikaanse liedjies en grootste treffers van alle tye maar op ’n CD in die kar luister!  Ons vier en geniet alles wat goed en reg is, maar aanvaar ook die verantwoordelikheid vir die dinge wat ons nog wil sien verander!  Ons kleur die klankgolwe in met hoop en woorde van lewe, maar lééf ook groot in die klein en onbenullige om ’n blywende voetspoor in ons gemeenskap te laat.