By Atterbury Trust is ons baie opgewonde oor ons radiovennote GROOTfm 90.5 se groot nuus.

Vanaf 10 Augustus 2015 gaan DStv se kykNET GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram – Die GROOT Ontbyt – elke weeksoggend vanaf 06:00 tot 08:00 regstreeks op dié kanaal uitsaai. Nou word lekker luister ook sommer lekker kyk!

Dié unieke kombinasie is ʼn eerste vir Afrikaanse media. Terwyl luisteraars op pad werk toe na Die GROOT Ontbyt op hulle radio’s luister, gaan diegene by die huis ook op televisie in die opwinding kan deel.  Die aanbieders gesels met die GROOTfm 90.5 luisteraars, maar gesels ook in beeld met kykNET kykers by die huis.

Die radio- en TV-persoonlikheid Johrné van Huyssteen gaan as aanbieder by Die GROOT-ontbyt aansluit, met Nadia Beukes as sy regterhand. As aanbieder van programme soos Gons en DeKat en meer onlangs as radio-omroeper by OFM in die Vrystaat, het Johrné reeds sy staal in beide radio en televisie bewys, terwyl Nadia al diep spore in Afrikaanse harte getrap het in programme soos Boer soek ʼn Vrou en Getroud met Rugby.

Die GROOT Ontbyt word verder bygestaan deur Hendri Myburgh wat na verkeersake en sosiale media gaan omsien, Elsa Esterhuizen as nuusleser en Rouchelle Liedemann as Kaap-korrespondent.

Atterbury Trust is trots daarop dat luisteraars en kykers kan uitsien na ʼn program propvol aktualiteit, nuus, verkeer, weer en natuurlik goeie Afrikaanse musiek. Op die radio en op televisie. Dubbel die genot!

Hardus Zevenster, hoof uitvoerende bestuurder van GROOTfm 90.5, sê dit is die volgende logiese stap vir ons gemeenskapradiostasie. “Die fokus was nog altyd gerig op die Afrikaanse mark van Pretoria. GROOTfm 90.5 se aanslag is só goed ontvang dat ‘n nasionale aanvraag ontstaan het. Die vennootskap met kykNET gaan hierdie aanvraag op ‘n unieke, vars wyse aanspreek. Dit is net die begin van nog dinge wat gaan kom.”

GROOTfm 90.5 het op 1 Augustus 2013 in Pretoria begin uitsaai en het sedertdien reeds gegroei na ʼn luistertal van 97 000. Vir internetradiotoegang tot GROOTfm 90.5, laai die app af op jou selfoon of tablet, of luister by www.grootfm.co.za.

Karen Meiring, M-Net Direkteur: Afrikaanse kanale, is opgewonde oor hierdie nuwe projek.  “Ons is baie entoesiasties oor so ’n vars en inspirerende aanbod vir ons kykers. kykNET hou van eerstes, en ʼn dubbelmedium tussen radio en televisie maak sin vir beide partye en gaan die aanbieders die geleentheid gun om hul talentvolle vlerke nog wyer te sprei.”

Ons almal by Atterbury Trust gaan sommer lekker luister én kyk en vertrou dat julle dieselfde gaan doen!