13 Maart 2019, 20:00 – 22:00
14 Maart 2019, 20:00 – 22:00

R220

Lefra Produksies doen dit weer – vanjaar se splinternuwe klug is …wag vir dit… My Vrou se Man se Mannetjie en ons kuier by die Atterburyteater in Pretoria. My Vrou se Man se Mannetjie speel in die Atterburyteater met vertonings op Woensdag, 13 Maart om 20:00 en Donderdag, 14 Maart om 20:00. Besprekings kan by www.itickets.co.za gedoen word, of telefonies by 086 1000 291. Vir meer inligting, besoek www.lefra.com of www.mannetjie.co.za.

Isak (Cobus Venter) en Linda (Edrien Erasmus) se huwelik is op ‘n 17 jaar-jeuk. Linda voel dat sy meer uit die lewe wil hê…veral meer opwinding. Isak aan die anderkant is heel gelukkig met sy saai lewe – hy het ‘n suksesvolle kunsblommebesigheid en sy hele bestaan word deur die besigheid oorgeneem.  Linda voel egter dis tyd om te skei en arme Isak is in die donkterte dieptes. Voeg egter daarby ‘n seniele oupa Arnoldus (meesterlik vertolk deur Paul Lückhoff), inmengerige bure, Herman (Johan Joubert) en Bettie (Marissa Claasen) en ‘n sestienjarige, jeukerige seun, Chris (Rowlen von Gericke), en jy het ‘n totale resep vir chaotiese lekkerlag!

Frans Swart, regisseur sê dat dit elke jaar nogal ‘n uitdaging is om op die vorige jaar se klug te verbeter. “Ek dink egter vanjaar se My Vrou se Man se Mannetjie is skreeusnaaks en ook splinternuut. Dit het ‘n lekker storielyn en ek glo dat heelwat paartjies hulself met die situasies sal kan vereenselwig.  So kan jy ook in die proses vir jouself lag. Ek sê dit elke jaar, maar sê dit maar weer – elke Lefra-klug is splinternuut en nie ‘n opvolg op enige van die vorige klugte nie. Elke klug is totaal uniek en nuut.”

Oor die laaste dertien jaar trap Cobus Venter diep spore as sanger en akteur met hoofrolle in musiekblyspele soos My Fair Lady, Fiddler On The Roof, Dis Hoe Dit Was, Ons Vir Jou, Shaka Zulu, Jock of the Bushveld, Tree Aan!, Ester Die Musical, Cinderella, Jesus Die Musiekblyspel en Droomkind. In 2010 word hy twee keer genomineer vir ’n Mercury Durban Theatre toekenning – as Don Quixote in Man of La Mancha en as Freddy Einsford-Hill in My Fair Lady – wat hy wen vir sy vertolking van Freddy. Cobus maak ook sy merk op die dramaverhoog in produksies soos Siener In Die Suburbs (KKNK 2002), Swaelduif (KKNK 2003) en Full Circle in 2006.  As iemand wat daarvan hou om mense te laat lag wys hy ook sy slag in twee klugte onder regie van Frans Swart: My Boetie se Boetie se Baba en Daa’ gaat die Bruid! Sy hoogtepunte as klassieke tenoor sluit in: die Afrikaanse Oratorium, Die Skepping en die rol van posmeester Smit in die nuwe Afrikaanse opera, Poskantoor, wat onlangs as beste produksie by Aardklop 2014 bekroon is.  Cobus was onlangs te sien in die rol van Ferdi in Binnelanders.

Die talentvolle aktrise en sangeres Edrien Erasmus begin in 2002 opvoerings doen onder die naam E3n en stel twee solo albums vry, Big Ben en Huisie innie Stad.  In 2008 & 2009 is sy deel die koorgeselskap van Add LIfe Produksies se Houtkruis, die Musical en is in dieselfde tyd te sien in Deon Opperman se Ons Vir Jou. Televisiekykers sal haar onthou in verskeie reekse en sepies soos 7de Laan, Binnelanders, High Rollers, Sterlopers en Donkerland, om maar ‘n paar te noem.  Van haar verhoog rolle sluit in musiekblyspele soos Esther in 2011, Ons Vir Jou, Lied Van My Hart, Liefling, Droomkind en die pantomime Aspoestertjie. Sy maak ook verskeinings in verskeie Afrikaanse Films soos Vir Die Voëls, Raaiselkind en Kampterein. Feeste is ook nie vir Edrien onbekend nie, die afgelope drie jaar was sy deel van verskeie Lefra produksies soos Daa’ Gaat die Bruid en Fiela se Kind. Edrien toer tans die land saam met die populere Dames groep Dinamiese Dames en is ook in verskeie teaters te sien met haar eenvrou kabaret Ontbloot. Praat van veelsydig!

Paul Lückhoff is veral bekend vir sy rol as Oom Wimpie in die sepie Binnelanders. Op die verhoog word hy veral onthou as Saul in Dalene Matthee se Kringe in ‘n Bos, en het die rol op die verhoog vir bykans nege jaar vertolk. Paul vertolk tans ook die rol van Elias van Rooyen in Lefra se verhoogweergawe van Fiela se Kind.  Hy wou as kind nooit akteur word nie, maar nadat hy aan ‘n beroepsbegeleier tydens sy diensplig genoem het dat hy graag wil “stront praat oor die radio”, het die hom aangeraai om drama te gaan studeer.  Sedertdien was hy in meer verhoogstukke as wat hy kan tel, ook in kinder en jeugteater.  Hy was onder andere te sien as Speuder Davenport in Lefra se 2013 klug, My Vrou se Man se Lyk se Tas, en as Herman Charles Bosman se ikoniese Oom Schalk Lourens in Oom Schalk Lourens se Mampoerstories.  Televisiekykers herken hom steeds as die kultusleier Menasse van Egoli, en sy rol as Pop in die rolprentweergawe van Triomf is een wat vir hom besonders na aan die hart lê.

Marissa Claasen is ‘n 26 jarige aktrise en musikant. Sy het haar B-tech Graad in Drama in 2013 aan die Tshwane Universiteit van Tegnonolie behaal, waar sy verskeie komiese en ernstige rolle in universiteitsproduksies vertolk het, waaronder die rol van Eliza Doolittle in George Bernard Shaw se Pygmalionvir haar ‘n hoogtepunt was. Tydens haar studies ontvang sy ook twee nominasies as beste aktrise.  Sedert 2014 was sy deel van vele kinderteater produksies, en het talle rolle in Lefra se kinderproduksie, Liewe Heksie, vertolk.  In 2015 was sy aanbieder van die kookprogram, Agter die lekker aan. Sy speel ook gereeld in die Tjiff en Tjaff verhoogproduksies. Marissa was verlede jaar te sien in Lefra se Daa’ Gaat die Bruid!, waar sy ingestaan het vir die rol van die bruid, Judy, eh haar debuut in die professionele teaterwêreld gemaak het. Marissa vertolk die rol van die volwasse Nina in Fiela se Kind, en hoop om haar veelsydigheid in die teater te bewys en haar loopbaan in die musiekbedryf te bevorder.

Johan Joubert het sy B-Tech Graad in Drama verwerf by TUT in Pretoria en het daarna verskeie kinderteaterproduksies gedoen, veral vir Redhead Productions en opvoedkundige teater vir PIT Produksies. Televisiekykers sal hom onthou vir reeks soos KykNet se Sterlopers en Phil 101. Johan was ook te sien in ‘n Silwerskermfees-kortfilm, Eenrigting.  Hy het onlangs die regie van ‘n Zulu/Engelse opvoedkundige produksie behartig.

Rowlen von Gericke het sy BA Hons Drama en Teaterkuns Graad aan die Unversiteit van die Vrystaat voltooi. Gedurende sy studies het Rowlen produksies gedoen as deel van sy graad, op en agter die verhoog. Rowlen het sy professionele buiging op die verhoog in 2009 gemaak by die Volksblad Kunstefees, nou bekend as die Vrystaat Kunstefees.  Sedertdien het Rowlen in meer as 30 produksies gespeel regoor die land. Hy het in 2012 na Johannesburg verhuis waar die fokus van die verhoog meer na televisie en radio verskuif het in onder andere Swartwater, Pandjieswinkel Stories, Amandla, My Fathers War, en stemwerk op Maya die By en Yskoninging.  Hy is ook in 2016 genomineer vir ‘n Naledi Teatertoekenning as Beste Nuweling.

Kunstenaars: COBUS VENTER, EDRIEN ERASMUS, JOHAN JOUBERT, PAUL LÜCKHOFF, ROWLEN VON GERICKE EN MARISSA CLAASEN.

 

13 Maart 2019, 20:00 – 22:00 Atterburyteater
14 Maart 2019, 20:00 – 22:00
Atterburyteater