As dit by reis kom, het elke land het daardie spesifieke “iets” wat jou daaraan herinner, skryf Marianne Styan op Maroela Media se webwerf.

Duitsland het “Oempa-bands” en bier. Frankryk het die Eiffeltoring en mooi mense. Engeland het tee en reën. Italië het pasta en emosionele mense. Amerika het “take-aways” en Disney World. Afrika het safari’s en Kaapstad

Ek kan aangaan en aangaan.

Maar as ek dink aan Argentinië, dink ek aan Evita Perron en… tango. En nie net enige tango nie. La Boca se tango.

Ons het duur betaal vir een aand se tango-opvoering in ʼn gesogte woonbuurt… Maar wanneer ek dink aan Buenos Aires, verlang ek terug na ons dag in La Boca. Partykeer is dit nie die duurste, gewildste plekke wat jou reise spesiaal maak nie. Om doodeerlik te wees, is dit eintlik min dat dit met my gebeur.

Jy vind La Boca by die mond van die Riachueli-rivier. Dit was die eindpunt vir menige immigrant van hoofsaaklik Italië se Genoa-streek. Gooi nou ʼn paar immigrante van onder andere Spanje, Griekeland, Frankryk, Engeland en Ierland daarby en daar word ʼn dans met die naam tango gebore. Die benaming “tango” sou egter eers hieraan toegevoeg word aan die einde van die 1890’s. Dit was ʼn dans wat uitgevoer is deur fabriekswerkers om die aandag te trek van die ylgesaaide vroue in die omgewing.

Hierdie mengsel van mense het die woonbuurt begin ontwikkel deur huise van afval-materiale te bou en dit te verf met oorskot mariene verf om dit te verhelder. ʼn Gebore La Bocaan, Quinquela Martín, het hierdie kleurvolle ontploffing verder gevat deur dit werklik kleur te gee en een van die bekendste strate, El Caminito, sy helderkleurige baadjie te gee in die 1950’s. Om die area van totale uitsterwing te red, het hy begin om teateraanbiedings reël met die kleurvolle geboue as agtergrond.

Dis ook wat deesdae van dié bekende geplaveide straat, met sy kleurvolle huisies waarin vele restaurantjies, winkels en kroeë gehuisves word, ʼn groot aantrekkingskrag maak, te midde van die andersins werkersklasarea wat dit omring.

Dit is egter ook ʼn lekker ontdekkingstog en ervaring van hoe die mense van Buenos Aires se alledaagse lewe lyk, om in die omliggende strate rond te dwaal. Dis hier waar ons die lekkerste straatkos geëet het terwyl ons kyk hoe die jonges van die buurt sokker speel. Na alles is dit die “geboortewêreld” van La Bombonera – die stadion waar Diego Maradona sy roem verwerf het.

Maar al hierdie was ekstras vir my, as ek dink aan die “verlore” tyd wat ons spandeer het by ʼn tafeltjie in die hoek by een van die talle restaurantjies in El Caminito. Ek kan nie eens die plekkie se naam onthou nie en ek hou daarvan dat ek dit nie kan onthou nie … Dit dra by tot die misterie van daardie dag.

Elke restaurant het sy eie volksmusiek-sanger en ʼn tango-paartjie. Vir my keuse van restaurant het ek my totaal emosioneel laat lei deur die paartjie wat my onmiddellik ingesleur het in hulle klanklose lyftaal.

Dié twee was nie noodwendig die aantreklikste nie, maar die manier waarop hulle met elke dans vergeet het daar is ander mense op die planeet, het my juis aangetrek soos ʼn magneet.

Ons het ʼn tafeltjie gekry en ʼn drankie bestel… of dalk was dit drie… ek kan weereens nie onthou nie… Al wat ek weet is dat ek vir die volgende paar uur totaal meegevoer was deur die dramatiese diep, passievolle klanke van die musiek wat hierdie twee mense nooit verder as ‘n haarbreedte van mekaar laat beweeg het nie.

Soos ʼn universele taal, wat mens net dadelik verstaan, sonder om dit te
moet aanleer, sleur die bewegings mens mee. Mens voel nie eens skaam om hierdie “verliefde” paartjie se sleur te volg nie, want vir ʼn baie kort
rukkie is jy deel daarvan. Jy voel die passie, die diep gevoelens en totale
oorgawe asof jy saamdans. Jy staar ook diep in jou geliefde se oë, terwyl
julle harte, in die bors-tot-bors nabyheid van die dans se basiese posisie,
saamklop, net om vir ʼn oomblik of twee, ʼn sentimeter of vyf se afstand van mekaar, toe te laat om ʼn ingewikkelde passie uit te voer.

Maar dan vind hulle mekaar weer, en dit voel of jy ʼn traan wil afvee omdat twee mense so duidelik kan wys hulle is bly om weer naby aan mekaar wees …

Êrens in die middel van die hierdie hipnotiese uitvoering besef jy hoekom die dans soveel mense aan die hart gryp… jy weet jy wil hê jy en jou geliefde moet ook só na mekaar kyk en die passie wat deur hulle lywe vloei, met elke beweging, moet die passie word waarmee jy jou verhouding elke dag leef.

Die verpersoonliking van daardie oorspronklike verliefdheidsfase waar elke verhouding begin… waarna so baie mense net kan terugverlang.

Dan neem hulle ʼn ruskans; die spel word verbreek…  jy weet nie of dit ʼn paar minute was of ʼn paar uur nie, maar dit maak nie saak nie, want jy weet hierdie tyd is tyd waarna jy altyd sal terugverlang as jou voete die plek verlaat.

En vir altyd sal Argentinië jou laat dink aan Evita Perron… en die tango.

Hierdie storie het oorspronklik verskyn op www.maroelamedia.co.za

 

By |2017-12-04T16:39:36+00:004 Desember, 2017|Kultuur|0 Comments
%d bloggers like this: