14 Julie 2019, 12:00 – 13:30: Oesjaar
14 Julie 2019
, 15:00 – 17:30: Bonjour Monsieur Brel
14 Julie 2019, 18:00 – 19:30: “Kiekies” – Lucas se liedjies

R150 vir een vertoning
R220 vir twee vertonings
R270 vir drie vertonings

 

Oesjaar

Splinternuwe liedjies uit Jannie se pen – almal gedurende 2018 geskryf en ook op CD opgeneem. Daar is ’n lied oor ‘n legendariese koffiewinkel in Melville, Jannie se tuis-voorstad, asook huldeblyke aan Christa Steyn met wie Jannie vir 25 jaar saamgewerk het en aan Madiba. Hy sing oor die passie wat ’n kunstenaar dryf om aan te hou skryf en sing en oor al die reise wat kunstenaars onderneem om daardie passie uit te leef. Dan is daar ’n liefdeslied geskryf vir sy vrou Therina, met wie hy in 2018 getroud is, en ook ’n tong-in-die-kies lied oor sy gunsteling kossoort.

In Oesjaar word Jannie begelei deur Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Theuns Botha (tromme).

Kunstenaars: Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Theuns Botha (tromme)

 

Bonjour Monsieur Brel 

Jannie sing Jacques Brel se liedjies in Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Brel se geniale beeldende skryfwerk kom na vore en is soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se opera’s, helaas soos alle groot kuns, tydloos. Brel se liedkuns sal nog vir ’n lang tyd telkens weer nuut geïnterpreteer en beluister word. In hierdie program kom sy genialiteit ewe sterk na vore in al vier tale – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van die 20ste eeu. Jannie word begelei deur Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon).

Kunstenaars: Jannie du Toit, Susan Mouton en Coenraad Rall

 

“Kiekies” – Lucas se liedjies 

Jannie bied saam met die briljante musikant en sanger Thean Kotze (stigterslid van Ses Snare, vroeër ook lid van die duet Limpopo) ’n huldeblyk aan Lucas Maree. Hulle herontdek sy verbeeldingryke kyk na die lewe en laat die gehoor met persoonlike anekdotes iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

Soos Lucas self die sestigs se folk gesing het met die klem op fyn afgeronde kitaarspel, harmonieë en tekste wat iets te sê het, beweeg Thean en Jannie singend en spelend deur die wonderlike landskap van verhale, ideale, wysheid en drome wat Lucas daargestel het. Lucas Maree se werk boei oud en jonk – ’n seuntjie se gewaarwordinge oor ’n treklorrie tot eindelose, doellose gesprekke tussen geliefdes en die ontdekking dat liefde nie minder word as dit weggegee word nie.

Soos die tekste is die musiek ook ryk geskakeer en bied dit aan die kombinasie van kitare en stemme  baie ruimte vir eksperimentering en verskeidenheid. Natuurlik is Droomvrou, Sunnyside, Victoriabaai en ’n paar ander bekende liedjies daar, maar kom ontdek juweeltjies soos Gebed in die Laataand, Treklorrielied, Die Bedelspeler, Jerigo se Mure en veel meer. Daarby kom Thean se roerende weergawe van Lucas se kortverhaal-skets oor die Karoo. Dis sielskos.

Kunstenaars: Jannie du Toit en Thean Kotze

 

14 Julie 2019, 12:00 – 13:30 Atterburyteater
14 Julie 2019
, 15:00 – 17:30
Atterburyteater
14 Julie 2019, 18:00 – 19:30
Atterburyteater