Wat is lekkerder as uitstekende kos saam met goeie wyn en goeie geselskap? Die wete dat jy boonop help met ’n projek wat ’n verskil maak in die lewens van mense wat dit broodnodig het.

‘n Groepie donateurs en vriende van die Atterbury Trust het volgende week ’n heerlike kans om te kuier rondom ’n kos-en-wynsamesnoering met Saronsberg se befaamde wynmaker, Dewaldt Heyns. Die Liberi Pinotage 2017 wat die middelpunt vorm van Eskort en Saronsberg se innoverende Liberi welwillendsheidprojek, waarvan Atterbury Trust en spesifiek die Terugploeg voedselverskaffingsprojek, vanjaar die begunstigde is, kom uit Dewaldt se hande.

Die kuierkans is Woensdag 3 November by Zest Bistro in Atterbury se The Club Retail Centre in Hazelwood, waar Dewaldt sy wynkennis sal deel en gaste sal lei deur ’n samesnoering van voortreflike wyn en die smaaklike kos berei deur Zest se top chef Sidney Cousins.

Dewald, vertel ons meer van jou betrokkenheid by die Liberi-projek?

Ons is bevoorreg om deel te wees van die Liberi-projek, waarvan die oogmerk is om die opbrengs van spesiale wyne vir liefdadigheids- en welwillendsheidsprojekte aan te wend. Elke projek se wyn is uniek tot daardie projek. Die wyne kan òf uit ons eie stal kom òf, as ons te hore kom van besondere wyne wat beskikbaar is, sal ons dit inkoop. Covid-19 was besonder hard op die wynbedryf, maar wel in sommige gevalle met die positiewe gevolg dat sommige topwyne beskikbaar was, en ons kon nie hierdie besonderse Pinotage laat verbygaan toe ons daarvan te hore kom nie.

Van ’n wynmakersoogpunt, wat maak die Liberi 2017 Pinotage spesiaal? 

Die 2017 oesjaar was in die middel van die droogte wat die Kaapse wynland getref het. Pinotage, wat gewoonlik goeie opbrengste lewer, het beter as meeste kultivars gevaar in die droogte, aangesien die oeste natuurlik beperk word deur laer vogtoestande, wat die konsentrasie van vrug verseker. Die kultivar word ook vroeg ryp, wat beteken dat dit lank voor ander rooiwynkultivars gepars word, so dit word nie so lank aan moontlike nadelige strestoestande blootgestel nie. Só sien ons in die Liberi Pinotage ’n wyn wat nie net ’n ongelooflike drinkervaring tans lewer nie maar ook vir jare nog sal verouder weens die konsentrasie van beide rooi en donker vrug, ’n volronde mondgevoel en ’n sagte, dog ferm tannien struktuur.

Pinotage is ’n eg Suid-Afrikaanse wyn – is die Saronsberg-grond besonder gepas vir die druiwe waarmee dit gemaak word? 

Saronsberg verbou 18 verskillende kultivars waarvan die meeste in versnitte gebruik word. Ons is bekend vir ons Shiraz en Rhone variëteite. Hoewel ons nie self Pinotage verbou nie is dit interessant om te sien dat die twee kultivars van die Tulbagh-vallei wat jaar na jaar konsekwent presteer juis Pinotage en Shiraz is. Die rede daarvoor is ’n kombinasie van ons verweerde skaliegronde, wat kleiner en dus meer gekonsentreede oeste verseker, en ons klimaat wat op die grens van die kontinentale en kusstreek lê en dus deur albei beïnvloed word.  Ons sonskyndae verseker optimale fotosintese en die vorming van rooi en donkervrug karakters asook die optimale rypwording van tanniene. In teenstelling met die warm dae verseker die koel nagte dat die vrugkarakter nie verlore gaan nie, dit bewaar die varsheid van die wyn en verseker ’n diep donker kleur. Die Liberi Pinotage druiwe is in Tulbagh verbou, net ’n klipgooi van ons eie wingerde en op dieselfde grondsoorte as ons Saronsberg-wyne. Die Pinotage is dus stylgewys amper identies aan die sagte volronde en gekonsentreerde Saronsberg wyn-styl waarvoor ons wyne so bekend is.

Waarna kan ons uitsien by Woensdagaand se kos-en-wynparing? 

As ’n eg Suid-Afrikaanse wyn pas Pinotage by ons nasie se liefde vir vleis. Die kultivar is bekend vir sy veelsydigheid, dus kan die wynliefhebber dit saam met die vleisgereg van sy keuse geniet, hetsy ’n Karoo-staanrib, ’n keurige biefstuk of selfs vark- of wildsvleis.

Saronsberg het al heelwat toekennings ingepalm vandat jy daar wynmaker is. Waarop is jy die heel trotsste? 

Na 18 jaar se wynmaak is dit die konsekwentheid ten opsigte van toekennings wat my die trotsste maak, eerder as enige enkele toekenning wat ons deur die jare gekry het. Dit is juis hierdie konsekwentheid wat in ons hele wynreeks vervleg is wat dien as ’n waarborg aan die wynliefhebber dat die nuwe oesjaar net so goed soos die voriges sal wees en dat wyne waarmee ons ons assosieer altyd gemeet word aan die hoë standaarde wat ons vir onsself stel.

As jy ‘n wynlys optel, wat is die eerste ding waarna jy kyk?  

Ek wil graag verskillende kultivars sien van ’n diverse versameling gerekende wynplase wat geprys is van “billik en waarde vir geld” tot “uithaal en wys” vir daardie spesiale geleenthede.  ’n Wynlys weerspieël die restaurant se filosofie en sy eienaars en personeel se passie.

Daar is nog ’n beperkte aantal kissies van die Liberi Pinotage 2017 beskikbaar teen R1 280 (insluitend BTW) – bestel joune op Donasiewinkel. Die opbrengs word aangewend ten bate van Atterbury Trust se beursleningsprogram en Terugploeg voedingskema-inisiatief.