Mandela Dag is altyd ’n rooiletterdag op Atterbury Trust se kalender, en vanjaar was geen uitsondering nie. Die Trust-span het meer as 67 minute eenkant gesit, en saam met die groter Atterburyspan gaan besoek aflê by Laerskool Kameeldrift en die Anker informele nedersetting in die weste van Pretoria. Karin Dercksen vertel meer.

Hoe het julle besluit op Laerskool Kameeldrift? Hoeveel kinders gaan daar skool?
Daar is 680 kinders in die skool. Ons het vroeër die jaar matte wat ons by ’n donateur gekry het aan die skool geskenk en toe ons gaan inloer om te sien hoe en waar hulle dit aangewend het, het ons die potensiaal gesien om daar te help. Die skoolhoof is ’n wonderlike vrou, met ’n groot hart vir die kinders in haar skool; en dit het gevoel soos die perfekte plek om ons Mandela Dag-bydrae te maak.

Vertel ons meer van die plan, en wie dit vir julle moontlik gemaak het?
Ons het besluit dit sou lekker wees om die kleintjies se speelarea te verfraai met verf, omdat dit maar baie verwaarloos was en duidelik kon doen met ’n nuwe laag verf. Ons het van ons kliënte genader en voelers uitgesteek, en die plan het vorm aangeneem met almal se skenkings. Dulux het verf geskenk, Sean First Class Paint het al die voorbereiding gedoen en het ook oorgeneem en die verfwerk voltooi waar ons nie alles heeltemal kon klaarverf in die beskikbare tyd nie. Die boukontrakteur Iguana het die verwaarloosde mure by die Graad R-ingang mooi reggemaak en geverf sodat dit lyk soos ’n splinternuwe vooraansig. Ons het sakke vol lemoene gekry om vir ’n goeie dosis vitamiene C te sorg, daar was worsbroodjies vir die Graad R-kleintjies, en danksy die vrygewigheid van ’n paar mense (julle weet wie julle is), kon ons ook vir elke kind in die skooltjie ’n koeldrank en pakkie skyfies gee.

Wie het almal saamgeverf? Het die leerders/onderwysers van die skool ook deelgeneem?
Dit was tydens skooltyd so terwyl hulle besig was met klasse, het die hele Atterbury-groep ingespring en geverf! Al die skenkers wat bygedra het was daar en het ook ’n handjie bygesit met die verfwerk.

En hoe lyk die speelgrond nou? Wat is presies alles gedoen?
Die hele speelgrond is mooi geverf in helder kleure – rooi, geel, groen, pienk en blou!  Dit lyk soos ’n nuwe speelplek!

Het julle lekker terugvoering gekry?
Jong, die onderwysers en kinders was so dankbaar dat daar nog mense is wat ’n hart het vir die gemeenskap.  En daar was sulke lekker terugvoer van ons eie mense, soos toe iemand sê, “Ons het gedink dit beteken baie vir die gemeenskap, maar om daardie laag verf aan te bring het meer vir my as mens beteken as vir enige iemand anders.”

Na die kreatiewe oggend is julle toe na die Anker toe vir middagete – vertel meer?  Hoe het julle die ete beplan?
Die Anker is ’n informele nedersetting naby die skool waar baie van die kindertjies dan ook woon. Dit was vir ons belangrik dat Atterbury se mense die kinders se omstandighede eerstehands sien. As jy na enige kleuterskool gaan, is daar kinders met loopneusies en vuil gesiggies, en mens vergeet, of besef nie, dat hierdie kinders in ’n koue, trekkerige Wendy-huis woon, waar party van hulle nie eers warm water het vir bad nie, en waar die ysige wind tussen die oneweredige planke deurwaai. Hulle gaan dikwels met honger magies skooltoe en moet dan daar heeldag probeer konsentreer in die klas.

Ons het besluit om as ’n Atterburygroep saam met die mense van die Anker middagete te geniet en ’n stukkie van hulle lewens te leer ken. Daar was braaiers van Coastal Hire, ons het ’n klomp wonderlike manne van Atterbury wat vuurgemaak het en 150 worsies gebraai het. Almal het lekker saamgekuier en die middag as een groep medemense beleef.

Het julle al in die verlede daar gaan help?
Dit was die eerste keer – dit is ’n redelik nuwe nedersetting; daar is nou sowat 300 huise en die kinders sal by Laerskool Kameeldrift skoolgaan.

Het jul ekstra borge gehad vir die ete?
Atterbury Trust het die wors, broodjies en sous geskenk, en ’n lekker sappie vir elkeen; en daar was genoeg oor vir aandete ook! Ons het ook ’n paar anonieme donateurs gehad aan wie ons baie dankbaar is.

Klink na ’n mooi, en betekenisvolle dag. Wat was vir jou die hoogtepunt?
Vir my persoonlik was die heel lekkerste om te sien watter groot harte die Atterburyspan het – almal het tyd afgestaan om deel te wees, en op elke foto wat ons geneem het, straal die glimlagte. As mens die dankbaarheid sien vir iets so kleins soos ’n koeldrankie en ’n pakkie skyfies – goed wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar – laat dit mens so nederig voel. Ek glo die projek het baie beteken vir almal by Atterbury; die kans om in die naam van Madiba iets van hulself vir die gemeenskap te gee.