Groot opwinding heers onder die geledere van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, want vanjaar se deelnemers gaan die wonderlike geleentheid hê om op die Atterbury Teater-verhoog hul slag te wys op die splinternuwe Steinway-klavier wat onlangs uit Duitsland ingevoer is. Ons het meer details gekry by een van die organiseerders, Marichen Kapp.

Oor hoeveel dae gebeur die kompetisie, en is die datums al vasgestel?
Die kompetisie vind vanjaar van 14 tot 18 Oktober plaas, vir die negende keer sedert dit in 2011 ingestel is. Die amptelike opening is Maandagaand 14 Oktober, en dan vind die eerste twee rondtes oor die volgende twee dae plaas, met die semifinale op Donderdag en die finale op Vrydag die 18de, wanneer die nege finaliste sal meeding om die groot prys.

Wat maak hierdie kompetisie so spesiaal?
Dit is die enigste musiekkompetisie in die land wat eksklusief vir jong pianiste die geleentheid gee om op nasionale vlak teen mekaar mee te ding. Dit is ’n baie waardevolle platform, en ons is baie opgewonde dat daar vanjaar ’n rekordgetal van 49 kandidate gekeur is om deel te neem. En dit is vanjaar ekstra spesiaal omdat dit die eerste keer is dat die deelnemers op Atterbury se nuwe Steinway-vleuelklavier sal speel; so ’n voorreg vir enige jong pianis!

Hoe word die keuring gedoen, en wie besluit oor die deelnemers?
Soos genoem het ons drie kategorieë – 12 jaar en jonger, 15 en jonger en 19 en jonger. Die deelnemers skryf in met ’n DVD opname en daar is streng reëls oor die vereiste repertorium. Hugo Schreuder keur weer vanjaar die DVDs en vanjaar se beoordelaars is Marius du Plessis, Prof Hubert van der Spuy en Prof Wessel van Wyk.

Vertel ons meer oor die reëls – kon deelnemers self hul stukke kies?  Hoeveel stukke moet elke kandidaat voorberei, en in watter musiekkategorieë?
Streng reëls geld ten opsigte van die vereiste repertorium. Vyf werke moet vir die kompetisie voorberei word: een uit elk van die Barok, Klassieke, Romantiese en Moderne tydperke, asook ’n vyfde werk uit enige tydperk. Daar is ’n prys vir die beste uitvoering van ’n werk uit elk van hierdie tydperke. Ons wil deelnemers aanmoedig om ons Suid-Afrikaanse komponiste se werke in te studeer – daarom dat daar ook ’n spesiale prys is vir die beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse werk.

Deelnemers kan self hul repertorium saamstel, maar moet onthou dat dit belangrik is om soveel moontlik van hul musikale talent ten toon te stel. Kontras is belangrik, maar so ook balans. Alle kandidate neem deel aan Rondtes 1 en 2, waarna 18 gekies word vir die derde rondte, en daarna nege finaliste wat meeding in die finale rondte.

Watter pryse kan gewen word?
Daar is kontantpryse vir verskillende kategorieë, met ’n totale pryspot van R115 000. Die algehele wenner kan uit enige van die ouderdomskategorieë kom, en wen minstens R35 000, so dit is ’n baie lekker aansporing. Die algehele eerste prys is R30 000, tweede prys R15 000 en derde prys R7 500. Die wenners van Beste Uitvoering van ’n Barok, Klassieke en Romantiese werk ontvang elk R3 000. Die Moderne Werk se prysgeld is R4 000 en die Suid-Afrikaanse werk s’n R4 500. Hierdie pryse kan aan enige ouderdom deelnemer toegeken word. Dan is daar ook pryse wat aan die spesifieke ouderdoms-kategorieë toegeken word: R4 000 aan die  wenner in die 12 jaar en jonger groep, R6 000 aan die 15 jaar en jonger wenner, en laastens R8 000 aan die 19 jaar en jonger wenner.

 Kan jy ons iets vertel oor die vorige wenners van die kompetisie – waar is hulle vandag?
Verlede jaar se algehele wenner, Colette du Toit, swot tans musiek by Tukkies – sy is eerstejaar BMus. Sy tree op by die openingsaand van vanjaar se kompetisie, so ons sien baie uit daarna. Willem de Beer, die algehele wenner van die heel eerste kompetisie, in 2011, wat tans sy Meestersgraad in musiek doen in Houston, Texas, was onlangs die wenner in die Klassieke afdeling van die Unisa Nasionale Klavierkompetisie. Lezanti van Sittert (Atterbury-wenner in 2013) was die naaswenner in hierdie kompetisie. Hulle gaan dan beide deelneem aan die sesde Unisa Internasionale Klavierkompetisie vroeg aanstaande jaar.

Kan die publiek kom luister? Hoe maak mens?
Almal is welkom om die openingseremonie om 18:30 Maandagaand, asook al die eerste rondtes gratis by te woon; en mense kan net opdaag. Rondte 1 en 2, waaraan alle kandidate deelneem, gebeur Maandag 14 en Dinsdag 15 Oktober vanaf 8:00 tot ongeveer 18:00. Daarna sal 18 semi-finaliste gekies word om te speel tydens Rondte 3, wat Donderdag vanaf 13:00 tot 18:00 plaasvind. Die gedetailleerde program sal tydens die week van die kompetisie by die teater beskikbaar wees. Ons nooi graag mense om te kom luister, en deur die loop van die dag sal ons beweging in en uit die teater tussen die deelnemers toelaat. Toegang sal beheer word sodat daar geen steuring is tydens ’n kandidaat se optrede nie.

Die nege finaliste wat deurdring na die finale rondte sal Donderdagaand aangekondig word. Hierdie gala-geleentheid is Vrydagaand die 18de om 19:00. Ons verkoop wel kaartjies hiervoor – mense kan bespreek op www.itickets.co.za.