As Atterbury Trust se beurstudente graad vang, verlaat hulle dalk die universiteit, maar hul bly altyd deel van die Atterbury familie… En wat ’n wonderlike oes van talentvolle graduandi het die beursfonds in 2018 opgelewer! Ons hoor by twee van ons uitblinkers wat die nuwe jaar vir hulle inhou…

Elmari Botes is 22 en het pas haar graad in BSc Arbeidsterapie aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) behaal.

Erika Prinsloo is ook 22, en het haar Honneurs in Forensiese Rekenmeesterskappe behaal aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus.

Wat is julle planne vir 2019 – swot julle verder of begin julle nou werk?

Elmari: Ek doen volgende jaar my gemeenskapdiensjaar soos alle nuwe arbeidsterapeute wat in Suid Afrika wil praktiseer.  Ek gaan na Sabie in Mpumalanga toe vir my jaar, en ek is rasend opgewonde! Ek val in op 2 Januarie.

Erika: My planne vir 2019 is om werksondervinding te kry in forensiese rekeningkunde en forensiese ondersoeke. Ek streef om oor twee jaar ‘n gekwalifiseerde Forensiese Praktisyn FP(SA) te wees asook ‘n Gesertifiseerde Bedrogondersoeker (CFE).

Waaraan sal jy met ’n groot glimlag terugdink as jy jou studentejare onthou?

Elmari: Ek dink daar is ’n paar goeters – ek kom van Leeu-Gamka in die Karoo en kon beswaarlik Engels praat toe ek daar aangekom het! Ook die blootstelling wat ek gekry het – verskillende kulture, gelowe en praktiese werksgeleenthede in verskillende plaaslike gemeenskappe soos Khayelitsha en Mitchells Plain wat werklikwaar die boksies waarin ek gedink het, uitgedaag het. Ek sal ook die stories onthou van werk met pasiënte en saam met gemeenskappe. Maar verseker sal ek die grootste glimlag en dankbaarheid  hê oor die proses wat my Hemelse Vader in my hart gedoen het oor hierdie vier jaar en die feit dat ek ’n kerk-familie kon kry wat werklik Jesusliefde uitleef.  

Erika: Ek sal terugdink aan die oggende toe ek en my vriendinne tot 03:00 wakker gebly het om opdragte af te handel, te leer vir toetse en ’n vinnige “dub smash” in te werk. Hierdie oggende het gewoonlik geeïndig met ‘n skaterlag van oormoeg vriendinne wat lag vir grappies wat onder normale omstandigehede nie eens snaaks sou wees nie. Ek onthou die middernag rit met blêrende musiek na Varsity Cafe vir Speckled Eggs, Astros en Jellytots. Ek onthou die “vinnige” koffies by die SS kafeteria alhoewel ek weet semesterweek is om die draai. Ek onthou die ewe-skielike reëlings om te braai by die vlei, te fliek, “tan” en krieket te kyk in eksamen aangesien ons “te min” daarvan gedoen het in die semester…

Watter boodskap sou jy gee aan potensiele beursfonds-skenkers om hulle te motiveer? Hoekom dink jy is is die Atterbury Trust beursfonds belangrik?

Elmari: Atterbury Trust het ‘n groot finansiële bydrae tot my studies gemaak , wat baie van die druk verminder het omdat dit die geldsake uitgesorteer het. Maar waarvan ek die meeste hou, wat Atterbury en die span met wie ek te doen gehad, betref, is die feit dat hulle persoonlik betrokke is met die studente wat hulle ondersteun, en moeite met elkeen doen. Dit was ’n wonderlike ervaring om hierdie mense te kon ontmoet wat so ’n hart het om te sien dat studente goed doen. 

Erika: Skenkers het die vermoë om ‘n toekoms vir ’n jongmens te gee, ’n verskil te maak op ’n manier wat eintlik nie in woorde uitgedruk kan word nie. Atterbury Trust se beursfonds-skenkers het dit vir my moontlik gemaak om twee grade te verwerf, en ek is onsettend dankbaar daarvoor. Die Atterbury Trust-beursfonds skep geleenthede vir jongmense om te groei en ‘n verskil te maak in die land, wat sonder hulle nie moontlik sou wees nie.

Die dankbaarheid van jongmense soos Erika en Elmarie wat die kans kry om hul studiedrome te verwesenlik, laat ons nederig staan; wat ‘n voorreg om die volgende generasie te kan bemagtig om ‘n verskil in ons land te maak. Alle skenkings is baie welkom, en dit is baie maklik om by te dra, kliek hier om meer uit te vind.